Dit het tien jaar geduur. Tien jaar van hard werk en hoop en glo. Toe, uiteindelik, was 2012 háár jaar.

Op skool het Donnalee Roberts oor twee goed gedroom: Om in New York te gaan studeer en om in rolprente te speel. Nooit het sy gedink dit sou so lank neem voor dit waar word nie. Maar hier sit sy nou, kaalvoet op haar bruin sitkamerbank met ’n reuse-glimlag op haar gesig en ’n ekstra vonkel in daai bruin oë.

’n Paar dae voor die onderhoud was sy nog in New York, waar sy twee maande lank ’n kursus in toneelspel vir film aan die gesogte New York-filmakademie gedoen het.

En asof die lewe nie beter kan raak nie, maak sy in Februarie haar fliekdebuut in die romantiese komedie Klein Karoo. Sy speel Cybil Ferreira, ’n jong onderwyseres op Oudtshoorn wat daarvan droom om ’n sentrum te begin vir kinders in ?die omgewing wat deur alkoholisme geraak word.

Tydens die verfilming het sy van voor af verlief geraak op rolprente, vertel sy. “Wat ek al op papier oor flieks gelees het, het ewe skielik lewend voor my oë geword. Toe wil ek alles daaroor weet. Ek glo nog altyd jy moet nooit ophou groei en leer nie. En waar beter om oor flieks te gaan leer as in New York?”

Die New York-filmakademie, waar veterane in die rolprentbedryf soos die regisseur Steven Spielberg en die akteurs Al Pacino en Susan Sarandon al hul vaardighede geslyp het, het nog altyd vir haar ’n bekoring ingehou.

“Ek wou al New York toe gaan vandat ek klaar is met skool. Dis mal hoe jy vasgevang word en die lewe net gebeur. Voor jy sien, is tien jaar verby. Ek het besef ek kan nie eendag vir my kinders leer jy moet jou drome najaag as ek dit nie self gedoen het nie.”

* LEES OOK: In die Januarie-uitgawe vertel Donnalee als oor haar tydjie in New York. Ook oor haar grootste rol tot nou!

KYK SAAM DEUR HAAR FOTO-ALBUM

FOTO BO: “Ek het in baie studentefilms gespeel in New York. Die flieks is almal met ’n 16 mm-kamera opgeneem.”

“Tydens New York se jaarlikse Fashion’s Night Out, ?’n extravaganza van modeparades en uitverkopings.”

Tydens New York se jaarlikse Fashion Night Out

“By Coney Island, besig met nog ’n ?studentefilm.”

By Coney Island

“’n Boodskap op die plaveisel van Union Square, waar ek gebly het.”

'n Boodskap op Union Square

“Ek verken Brooklyn.”

Donnalee verken Brooklyn

“Saam met twee klasmaats, Debora Rodrigues (middel) van Brasilië en Vicki Welles, ’n Suid-Afrikaner wat in Londen woon.”

Saam met klasmaats Debora Rodrigues en Vicki Welles

“Voor die gebou van die New York-filmakademie, waar ek studeer het.”

Voor die New York-filmakademie

Agter die kamera