Pa Riku is besig met 'n kinderalbum spesiaal vir sy Lia Luna en hy't pas die musiek vir die nuwe Afrikaanse fliek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom voltooi, en ma Dorette sê sy verruil ma-wees vir niks.

Ons het met Dorette en Riku gesels.

Dorette:

1. Jy speel tans in Rhythm City op E-TV tot vroeg Augustus. Vertel bietjie meer van jou nuwe karakter, Gina.
Die rol van Gina teenoor Jamie Bartlett as David / Franco Genaro is sekerlik een van die uitdagendste rolle wat ek tot dusver vertolk het. Nie net is sy 'n eks-prostituut nie, maar sy was ook die regterhand van die reeks se gevaarlikste karakter. Gina was al deurmekaar met dwelms en moes ook weens David al heelwat dinge doen wat selfvernederend en ook onwettig is. Gina het vroeër vanjaar David Genaro 3 keer in die bors geskiet voor al sy trougaste en is tans in die tronk. Verder kan ek nie meer verklap nie...

2. Is daar enige ander projekte/TV-programme vir jou in die pyplyn of hou Lia Luna jou te besig?
Kom ons wees eerlik. Dinge gaan maar rof, ek het nog net 'n paar dae op Rhythm City gewerk die laaste 18 maande. Daar is moontlik vir my 'n rol in 'n nuwe 26-episodes-reeks vir SABC1, maar dit is nog nie bevestig nie. Ek het nog geen ander aanbiedinge gehad sedert die begin van 2009 nie. Nie eers 'n oudisie nie. Dis moeilik om sonder werk te sit. Sedert ek weg is by Glitterati einde 2008 sukkel ek om enige werk te kry en om nou van loopbaan te verander op 37 is nie vir my 'n maklike werklikheid om net te aanvaar nie. Ek hou my besig met al Riku se dinge en bestuur sy besigheid Radio Lava so tussen 21h00 - 23h00.

Lia hou ons besig en dis wonderlik om by die huis te wees 24/7, maar ons moet ook dink aan ons kind se toekoms. Finansieel gaan dit baie sleg, ek moes intussen my motor verkoop en 'n paar lenings aangaan net sodat ons haar behoefteskan dek. Ons hoop daagliks vir uitkoms en glo elke dag is kosbaar. Gelukkig help ons ouers waar hulle kan en die klankopname-studio doen al hoe beter. Alhoewel ons geen geld het nie, het ons die kosbaarste geskenk in die lewe - ons gesondheid en liefde. Die drie van ons is gelukkig saam en dinge sal hopelik binnekort net makliker raak!

3. Hoe geniet jy jou nuwe rol as ma?
Ek wou al so lank 'n mamma wees. Die verantwoordelikheid is daagliks 'n uitdaging wat my hart vul met liefde en vreugde. Dis harde werk en die dissipline om 'n dag op te breek in spesifieke tye vir eet, slaap en speel, verg goeie beplanning, maar ek geniet die dividende - Lia is 'n gebalanseerde kind en gelukkig om hier op die plaas in die natuur groot te word. Ons kuier in die Kaap by ouma en oupa Potgieter wanneer die geleentheid homself voordoen en sy geniet reis, of ons nou in 'n vliegtuig of te pad daar aankom, sy vat als in haar 'stride'. Solank Mamma of Pappa naby is, voel Lia veilig en kan sy haar wêreld verken. Dis lekker om te weet ons sal altyd haar ouers wees en die liefde wat Lia in ons lewens gebring het, is so tasbaar, ek ruil ma-wees vir niks in die wêreld nie.

4. Wat is die grootste uitdaging daarvan om kinders in die vermaaklikheidsbedryf groot te maak?
Die vermaaklikheidsbedryf is net soos enige ander bedryf vol goed en sleg. Mense stel belang in die persoon agter die persona wat hulle deur die media leer ken, ek dink dit bied vir baie hoop. Ons het nie regtig die bedryf gekies nie, die bedryf kies jou. Die keuse lê wel by ons hoe ons ons privaatheid beskerm. Ek het lankal geleer om die media soos water oor 'n eend se rug te laat rol wanneer dinge te belaglik raak. Al wat ons as ouers vir Lia kan beteken, is om vir haar 'n goeie, stabiele fondament binne huisverband te bied. So kan sy altyd terugkeer na 'n veilige huis van liefde, verdraagsaamheid en goeie beginsels waarbinne sy haarself kan uitleef. Ons wil Lia bystaan om die regte besluite in die lewe te neem en nie deur enige druk van buite ons foute te herhaal nie. Sy sal wel haar eie voetspore trap.

Lia Luna en Riku by Kleinbos naby Boggomsbaai

Riku:

1. Jy is die man agter die musiek in die nuwe Afrikaanse film Die ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom. Is dit iets wat jy nog altyd wou doen?
Om musiek te kan maak is my lewe en as ek só kos op die tafel kan sit, ja, dan wou ek nog altyd dit doen. Ek geniet uitdagings en die film waaraan ek werk, het my horisonne verbreed.

2. Hoeveel tracks moes jy op die ou end skryf?
Heelwat meer as wat hulle gebruik het.

3. Ek sien Radio Lava is besig met 'n kinderalbum vir Lia Luna Li. Vertel meer... het pa-wees hierdie album geïnspireer? Voel jy dalk dat daar 'n gaping in die mark is vir 'n ander tipe kinderalbum? Gaan dit in Afrikaans wees, wie skryf almal aan die liedjies?
Lia Luna Li is 'n inspirasie vir elke dag en deur Dorette se swangerskap het ek alleen geskryf aan die lekkerste album nog. Die album was nie geskryf om 'n gaping te vul nie, maar wel om kinders se liefde vir Afrikaans en ook musiek te laat groei. Ons het baie bekende name wat saamsing en speel op die album, soos Albert Frost, Neil Sandilands, Bacchus Nel, Lani Pieters, Arnaud van Vliet, Morne Visser, Jahn Beukes en Dorette, wat ook al die vertellings tussendeur behartig. Ons beoog om die Afrikaanse kinderalbum genaamd Janneman in die Diereryk Volume 1 voor die einde van die jaar op die rakke te hê, ongelukkig is geld skaars, maar ons is geduldig.