Aktrise Dorette Potgieter was lank lam, seer, moedeloos. Daar was ’n miskraam, verbreekte verhouding, geldelike probleme. Maar nou is sy weer op ’n goeie plek

Lees 'n uittreksel uit die onderhoud met Dorette in jou November-uitgawe van SARIE:

Dis maar die toneelwêreld, sê sy filosofies. Jy is hero en dan zero. Dorette behoort te weet, sy het gesing, gedans, model- en radiowerk gedoen – alles voor sy 18 was. Sy haal diep asem. “Voor Lia Luna Li [haar vierjarige dogtertjie] het ek ’n miskraam gehad. Niemand weet dit nie. En niemand verstaan hoekom dinge daai tyd van my lewe so hectic was nie, hoekom ek goed so moeilik verwerk het nie. Dit was gedurende my tyd by Glitterati. Die helfte van my 22 maande daar moes ek die verlies van ’n tweeling verwerk. Ek en Riku [Lätti, die musikant] was nie getroud nie en ek het ’n hoëprofiel-werk gehad. Waar iemand my heeltyd por om ander mense te teister om hul siel te ontbloot. Terwyl ek sukkel om net deur elke dag te kom.”

Sy besef sy is swanger by die KKNK in 2007, tydens die opvoering van Die burg van hertog Bloubaard. (Chris van Niekerk en Riku het gedigte uit dié bekroonde digbundel van Henning J. Pieterse getoonset. Sy was die vervaardiger.) Riku vra haar kort daarna om te trou: Op die verhoog van ’n restaurant/teater op Bronkhorstspruit. “Maar dinge het só woes skeefgeloop nadat ek die tweeling verloor het, ons het nie weer daaroor gepraat nie.” Sy verloor enetjie op vyf weke, die ander een op nege. Die dag daarna vertrek sy België toe om Riku op toer te ondersteun. Sy huil letterlik in elke katedraal in België waar sy haar voete sit. En tot vandag het sy ’n spesiale band met dié land. “Want ek moes ’n deel van myself daar los.”

....

Sy was twee maande swanger met Lia toe sy klaarmaak by Glitterati. Sy het in dié tyd ook besef haar en Riku se verhouding is aan’t flarde. Hulle het op sy ouers se plaas in die Magaliesberg gewoon.

“Ek moes besluit: Gaan ek hom uit my lewe sny? Of probeer om ’n band van vertroue tussen hom en ons kind te bou? Dít het ek reggekry. Glo my, Lia het die ongelooflikste

pappa vir wie sy net so lief soos vir haar mamma is. Dit was ’n baie moeilike tyd, maar ek was dapper en het elke dag my glimlag probeer opsit. Want dit was die beste vir my ongebore dogtertjie.

...

Dit was egter Riku wat finaal die streep getrek het. In Januarie 2011 het hulle by ’n verhoudingsterapeut in Durbanville aangeklop. Riku het daarna besluit dis verby. “Hy het gesê hy is nie meer lief vir my nie, hy wil nie saam met my oud word nie.

“Wat doen jy dan? Jy moet dit laat gaan. Ek is nie ’n masochis nie. Hoe laat jy iemand gaan vir wie jy so lief is en saam met wie jy jou ’n ideale wêreld kan voorstel? Maar hy wou dit nie so sien nie, wou dit nie so hê nie.

...

“En ek en Lia het permanent Kaap toe getrek. Die een plek in die wêreld waar ek goed genoeg is. Ek is goed genoeg vir die berg en die see en die wit strande. Vir die mense hier wat my liefhet, vir my ouers. Ek is goed genoeg. En Lia maak dit nog beter.

Lees die volledige onderhoud in jou November-uitgawe van SARIE.