Eintlik moet sý naam Storm gewees het, reken Dozi. Hy spreek dit met ’n harde “r” uit. “Storm is die rustigheid self en baie meer verantwoordelik as wat ek op 22 was.”

Dié pa en seun het onlangs saam “gegrendel” op Dozi se plaas van 15 hektaar by Hartbeespoortdam – die langste tyd wat hulle saam was sedert Storm ’n baba was.

“Ons het elke aand gebrainstorm oor die lewe,” vertel Dozi, gedoop Henk Opperman, trots. “Daai kind is ’n engel, man.”

Storm is Dozi se kind by die model Tanya Metelerkamp. Kleintyd wou hulle nie dat die media oor hul seuntjie skryf nie. “Maar ek het hom nooit ontken nie en is mal oor pa-wees.

“Toe ek destyds pa geword het, was my lewe as muso te wisselvallig. Ek was altyd op reis, by feeste, besig. Dis nie ’n lewe vir ’n kind of vrou nie. Dinge het gelukkig perfek uitgewerk. Sy ma is ’n sterk vrou met haar eie loopbaan en het hom pragtig grootgemaak. Hy het maniere, man, geen hang-ups nie en is sag, clued-up. Soms het hy by my op die plaas kom kuier. Wanneer ek gigs gehad het in die Kaap, het ek hom altyd besoek. Ons het ’n beautiful verhouding.”

Gedurende die grendeltyd, vertel Dozi, het hulle gesond geleef. Elke dag saam pasta, slaai en hoendergeregte gemaak, vleis gebraai. Twee uur gesweet in die “mini-Virgin Active” op die plaas en tot saam hout gekap. “Hy moet self goed doen. Niemand gaan na jou kyk omdat jy ’n muso is nie. Hulle gaan dalk ’n paar bucks uit jou maak . . . Mense dink as jy ’n rock star is, het jy só ’n lewe. Ek moes vrek hard werk vir wat ek bereik het as muso.” 

Daarom is hy bly Storm studeer in die “musiekbesigheid” – ’n sakediploma in musiek aan die Campus of Performing Arts (COPA) in Kaapstad. “Sing is een ding, maar jy moet jou sake kan hanteer.”

Dit was tydens ’n vakansie in Portugal in 2017 saam met vriende dat Dozi besef het sy kind, wat deel is van die groep The Stinging Rogers, kan sing. Storm was toe tydens ’n gap-jaar ’n skipper op ’n seiljag in die Mediterreense See en het vir sy pa gaan kuier in Lissabon. Daar het hulle begin tokkel en sing, iets wat hulle ook saans op die plaas gedoen het. “Daai outjie se DNS is myne, verstaan jy? Jy moet die kombinasie van die ou en die jong stem hoor.”

Die plaas het aan Dozi se oorlede pa, Theunis, behoort. “Ek is nie ’n boer nie, maar ek hou van die veld.” Die swembad het hy en Storm nou omskep in ’n soort “groen” visdam om kostes te bespaar. “Dit het geen onderhoudskoste nie. Ek kan vis eet uit die swembad, en die stikstof gebruik om die groente te besproei. Dis ’n volhoubare projek, maar dit was harde werk – swaar klippe dra en bou.”

Eendag, vertel hy, wil hy nog graag ’n lieflike gastehuis op die plaas oprig, waar hy al sy skilderye (hy het ’n ruk lank grafiese en skone kunste aan die destydse Pretoriase Technikon, nou die Tshwane Universiteit van Tegnologie, studeer) gaan wys.

“Dis Storm se erfplaas en lyk soos ’n soort ‘aardse Sun City’ . . .” Dozi het ook ’n restaurant en ’n pizzaplek, Dozi’s Back to the Roots en Smokey Sanches, wat hy uitverhuur. 

Pas het hy vir Via (DStvkanaal 147) opgetree in Rusbanksessies met Dozi*, wat op sy plaas verfilm is. Hierin doen hy in elke episode onderhoude met kunstenaars soos Jan Blohm en eindig met ’n duet saam met die kunstenaar. Oor sy nuwe album, Vrede, wat pas uitgereik is, sê hy: “Dit is my beste nog. My musiek het gegroei.”

Dozi onthou hoe hy op skool as “dom” uitgekryt is. Net een onderwyseres het vir sy ma gesê die outjie met die blou oë is ’n mooi blompot wat iewers gaan uitkom. “Ek was disleksies en ADHD, jy weet.” Hy dink so ’n bietjie. “Storm kry daai ding, wat ek nie altyd gehad het nie, van sy ma: Storm laat nie toe dat mense met hom mors nie.”

Trou wil hy nooit weer nie, sê Dozi, wie se derde huwelik, met Kim Viljoen, ’n petite blondine van Waterkloof, net vyftien maande gehou het en van wie hy vroeër vanjaar geskei is. Tog, sy hart loop oor van liefde, sê hy.

“Ek is ’n oordrywer, ja, ek wil perform en skep. Musiek is my passie. Ek gaan voluit. Ek bou ’n see, nie ’n swembad nie. Ek géé my lewe vir die liefde. Maar dan vra ek dat mense my aanvaar soos ek is . . . Jy gee óf diep om óf jy is oppervlakkig . . .” Storm aanvaar hom. Honderd persent. “My kind leef ook voluit.”

Nes vir sy seun, loop Dozi se liefde vir sy 91-jarige ma, Susan, ook diep. “In die grendeltyd het ek haar van die plaas na ’n ouetehuis geneem. Dis te gevaarlik hier. Maar ek haal haar uit so gou as wat ek kan. Ek bel haar daagliks. Storm voel ook só oor Tanya.”

Pa en seun lyk en ís dieselfde . . . “Hierdie grendeltyd het op die regte tyd gebeur – vir ons,” sê Dozi.

*Rusbanksessies met Dozi begin op 5 September om 17:00 op Via (DStv-kanaal 147). Daar sal 13 episodes wees.