As spesialis-borschirurg het dit dr. Liana Roodt jare lank ondergekry om te sien hoe kankerpasiënte wat van staatsorg afhanklik is, maande lank moet wag vir noodsaaklike chirurgie. Sy moes toekyk hoe die waglyste bly langer word terwyl pasiënte sonder bystand moed verloor. Iets moes gedoen word.

In 2010 het sy met die hulp van vriendinne Project Flamingo gestig om gratis chirurgie aan dié vroue te verskaf en ’n klein verskil aan die waglyste te begin maak. “Ek het een aand met vriendinne sit en gesels oor my frustrasies. Hulle het aangebied om my te help met die eerste geldinsameling en so het Project Flamingo afgeskop. Ek het dieselfde aand aan almal in my kontaklys ’n e-pos geskryf om hulp te vra en mense het geld begin stuur, veral vroue wat self borskanker oorwin het.”

Vandag het Project Flamingo al 628 operasies moontlik gemaak. Dit is ’n ongelooflike werk om net een operasie uit te voer, want tot R20 000 moet eers ingesamel word. “Daar is nou al nege chirurge en ’n span narkotiseurs en assistente wat almal vrywillig help, maar ons moet steeds vir die teatertoerusting en verpleegpersoneel in die hospitale betaal.”

Die operasies word by die Groote Schuur- en die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap en by die Livingstonehospitaal in die Oos-Kaap gedoen, met planne om die projek volgende jaar na die Vrystaat en Gauteng uit te brei.

Hulle gee ook vir die vroue bederfpakkies wanneer hulle gediagnoseer word en 7 000 van dié pakkies, met onder meer ’n waslap, seep, lyfroom, versnaperings en naellak, is al uitgedeel. “Pasiënte se vroulikheid word so aangetas deur die diagnose, en van hulle kom hospitaal toe sonder eens ’n waslap om mee te kan bad. Dis maar net iets kleins om vir hulle te wys jy bly ’n vrou ten spyte van die diagnose, en iemand verstaan en gee om.”

Sy dink tog sy en die ander vrywilligers kry meer uit die projek as die pasiënte. “Hulle bly so sterk en positief ondanks ongelooflik moeilike omstandighede. Dit hou jou nederig en maak dit so ’n vreugde om te kan géé. En jy sien hoe ruim mense se hart kan wees as jy hulle die geleentheid gee om te kan help.”

– Delia du Toit | FOTO Abigail Klopper

Besoek projectflamingo.co.za