Anri, beeldskone modeldogter van Rina Hugo en Johan van Rensburg, trou vroeg aanstaande
jaar met die man van haar hart. Ons voorblad-ster vertel van haar lewe en liefdes.

deur ELSA KRÜGER
foto’s LEANA CLUNIES-ROSS

Twintig jaar gelede het ma en dogter Rina Hugo en Anri van Rensburg dié duet gesing, die enigste liedjie wat hulle nog saam gesing het. En nou trou Anri (27) met ’n goeie man wat báie van haar hou.
“Jy sien, ek dink al lank aan trou!” spot Anri.
“Daar is nie hekke voor ons huis nie,” beduie sy die pad na haar ouerhuis. Ná ’n paar uur se gesels dink mens dis nogal simbolies – daar is nie skanse by hierdie mooi blondekop wat deeglik naam gemaak het in die internasionale modelwêreld nie.
Sy is oop en sonder draadwerk. Ja, sê Rina. “Sy was nooit eens ’n probleemtiener wat haar deur toegeslaan en in die kamer gaan sit en broei het nie.
Altwee ons kinders was maklik.” (Haar broer, Riaan, maak musiek saam met hul pa, Johan, in die Musiekfabriek-orkes vir Noot vir Noot.)
Die trouery op 21 Januarie aanstaande jaar met renjaer Etienne van der Linde (27) is ’n groot opgewondenheid. “Maar ons het ooreengekom ons kyk nie vir mekaar tot ek voor die preekstoel is nie, want as die eerste traan loop, is dit verby,” giggel Anri. “Ons is ’n vreeslik huilerige familie,” beaam Rina.
Rina leer nou vir Anri kook (soms sommer so oor die foon) waar sy in haar eie meenthuis in Paulshof, Johannesburg, bak en brou. Die eerste kapokaartappels was “’n groot gemors”, maar met die tweede probeerslag het Etienne gesê sy kan dit maar op die lysie aftik, sy kan dit nou doen.

Jou familie is musikante – is jy ook met musikale gene geseën?
Op ’n snaakse manier, ja. Ek het my klassieke klavieropleiding voltooi. Vandag speel ek klavier bloot vir die lekkerte, dis vir my terapie. Maar wat my tans groot plesier gee, is om ’n DJ te wees. Ek draai plate in ’n klub! Dit was altyd ’n groot droom. Ek wil ook my eie dansmusiek produce. Ek het die voorsprong dat ek danksy my ouers se invloed ’n goeie oor
het vir musiek wat “werk”.

Hoe het die model en die renjaer ontmoet?
Ons is van st. 6 af in dieselfde skool. Dit was in die Hoërskool Randburg, maar as ons in al daardie tyd tien woorde met Ster in die kollig mekaar gepraat het, was dit baie. Ek het in st. 8 ’n geheime crush op hom gehad, maar dit het vinnig oorgewaai. Hy was op skool te behep met karre. Sy pa het vir hom gesê “dis resies of meisies”, en die karre het gewen. Hy het ná skool in sy pa se werkwinkel geboer. Ná skool het ons albei baie gereis, ek vir my modelwerk en hy vir sy motorsport, en met ons terugkeer het ons in dieselfde vriendekring beland. Ek het in Desember drie jaar gelede besef ek is verlief op hom.

Was dit nie amper te maklik, te eenvoudig nie?
Ek wou nie ’n ding begin en later sy vriendskap verloor nie, maar een van ons gemeenskaplike vriendinne het agtergekom hy voel dieselfde oor my en het gehelp om die knoop deur te hak. Ja, dit klink seker te maklik, maar ek kla glad nie! Dis wonderlik
dat my toekomstige man ook een van my beste vriende is, en ons het beslis die vriendskap behou. Ons kan alles saamdoen.

Renjaag ook?
Hy ry produksiemotors vir BMW en het my nou die dag op Kyalami om die baan saamgeneem. Ek het nog nooit in my lewe so geskree nie! Ek het groot respek gekry
vir wat hy doen. Dit was tegelykertyd vreesaanjaend en opwindend. Maar ek sal nie ’n gewoonte daarvan maak nie.

Watter eienskap van Etienne waardeer jy die meeste?
Hy het ’n oulike sin vir humor, hy is baie skerp en spitsvondig. Hy laat my lag en kan my vir
myself maak lag. Hy is baie bedagsaam en sorgsaam – hy pas my op. Hy is ook baie gefokus
op sy werk en het ’n passie vir wat hy in die familie-onderneming doen.

Hou jou familie van hom?
Hy is, nes ek, baie geheg aan sy gesin, ’n familiemens. My ma-hulle het hom as nog ’n seun aanvaar. Hy kom oor as stil en skaam as jy hom ontmoet, maar dan ontdooi hy.

Waarom het julle 21 Januarie 2006 as ’n troudag gekies?
In Februarie begin Etienne weer met die jaery en ek sterf as ek die Saterdag daar voor die kerk staan en hy moet nog van die baan af kom, word dalk opgehou en kom in sy overall aangehardloop! Op dié manier kry ons ook tyd vir die wittebrood voor die renseisoen begin.

Jou modelloopbaan het jonk-jonk afgeskop?
My eerste tydskrif-modesessie was toe ek 15 was, op Mauritius – nogal in trourokke.
En daar was ’n rok waaroor ek en my ma gesê het dis die een vir eendag. Die foto lê nog hier in die huis rond.

En, lyk jou rok so?
Nee, nie presies nie. Het jou modelwerk jou skoolloopbaan onderbreek?
Nee, ek het eers matriek klaargemaak en toe oorsee begin gaan. Hoofsaaklik Europa
–    Duitsland, Parys, Londen …

Was dit alleen en moeilik?
Met die modelwerk het ek probeer dapper wees met die baie oorsese werk, maar die langste wat ek van die huis kon wegbly, was drie maande. Dan moes ek terugkom om almal te kom druk en soen, al was dit net vir ’n week. Ek het in daardie tyd geleer ek kan vir ’n lang ruk alleen met my eie geselskap tevrede wees. Toe het ek ook die ander kant van die modelwêreld begin raaksien en daarin geïnteresseerd geraak: Die beplanning, die kunsdirekteure, die grafiese kunstenaars, wat rondom en voor die fotosessie gebeur. Terug in Suid-Afrika het ek besluit dis wat ek wil doen en ek het grafiese ontwerp, multimedia directing en webontwerp begin studeer.

Jy het nou jou eie onderneming wat jy uit jou ouerhuis bedryf.
Ja, want dis lekker hier en ek sien my ouers baie. Ek het nou ’n nuwe onderneming begin
waaroor ek baie opgewonde is, maar ek wil nie te gou te veel sê nie. Dis dekor. Digitale kuns op canvas – en julle moet op die uitkyk wees vir my etiket, Luvart!

Jy ontwerp ook jou ma se CD-omslae.
Sy’t my so drie, vier jaar gelede gevra om vir haar omslae te ontwerp. Toe het ander mense my begin vra om soortgelyke werk te doen. Ek is nou besig met haar heel jongste CD.

Jy het ’n besonderse verhouding met jou ouers.
As ek kaartjies vir Vadersdag en Moedersdag skryf, herhaal ek myself gedurig: “Ek
is so gelukkig om sulke wonderlike ouers te hê.” Hulle het my so ondersteun in elke
liewe besluit wat ek geneem het.

Dit kon nie vir hulle maklik gewees het toe jy so jonk alleen jou potjie oorsee gaan krap het nie.
Nee, glad nie, maar hulle het gesê gaan, doen dit, ons glo in jou, maar as jy ons môre
bel en sê jy kom terug, dan is dit reg. Ons het ’n baie oop verhouding. My pa, oeee,
ek vind hom baie wys. Ek sal hom iets vra en dan sal hy so lank stilbly. En dan kom hy
met hierdie oplossing, gee hy raad. Hulle sê ook nooit ’n lelike ding van iemand nie.
My verhouding met hulle beteken vir my alles – ek sou nie vandag wees wie en waar
ek is as dit nie vir hulle was nie.

Jy was ’n topmodel en ’n gunsteling by tydskrifredakteurs omdat jy so professioneel is. Maar jy pas nie heeltemal in die stereotipe van “supermodel en dis al” nie.
Dis vir my ’n groot kompliment dat redakteurs ’n hoë dunk van my het. Ek sê baie min “ek is ’n model” as mense vra wat ek doen. Ek het altyd geweet dis tydelik, daar is iets anders. Ek is bly ek het nie alles prysgegee vir ’n modellewe nie. As ek wegry van ’n shoot, is ek gewoonlik bly dis verby en dat ek weer normaal kan wees. My identiteit word beslis nie bepaal deur my modelwees nie. Ek moet besig bly en kreatief wees – ek het altyd geweet
modelwerk is nie vir my vir altyd nie.

Sing jy self?
Ek sing in die kar en die bad … Ek is baie lief vir sing, en wonder soms wat sou gebeur
het as ek gesing het. Maar ek het ’n definitiewe besluit geneem toe ek jonk was
– ek gaan nie sing nie. Daar was êrens ’n rebelse streep: My pa is in musiek, en my ma
en my boetie – ék gaan nou anders wees!

Wou jy ooit ’n aktrise word?
O, ek hou van perform! Met speletjies soos stomstreke is ek in die wolke as ek voor
mense kan staan en act. Maar ek dink nie ek sou formeel ’n aktrise wou wees nie.

Was jy ’n maklike tiener of het jy amok gemaak?
Nee, ek was ’n maklike tiener. Ek het hard gewerk vir my punte. (Sy giggel.) Ja, ek
was ’n A-student. En ek het ook onderhoofmeisie geword.

So, jy was eintlik stroopsoet, ’n goody-two-shoes? Nêrens ’n nuk of ’n stout streep nie?
O, ja, ek het ’n stout streep. Ek is lief vir kuier, laat nagte met my vriende. Ek het nog nie die kuier uit my bloed nie. Ek is op my gelukkigste as ek my vriende en Etienne by my het en ons kan ure lank gaan dans en die stad behoorlik rooi verf, of blou, of pienk … My motto is: As jy voel jy wil iets doen, doen dit. Soos hierdie DJ storie van my. Ek wil nie eendag terugkyk en spyt wees oor dinge wat ek nie gedoen het nie. Ek wil eendag baie stories hê om
vir my kinders te vertel.

Wil jy kinders hê?
Ek wil. Maar ek kan nie sê wanneer nie. Ek weet wanneer ek reg is vir iets. Soos met
ons verlowing. Ek het eers in Desember gevoel ek is reg vir trou. My tannie sê ek het toe eers “om die hoekie gekom”. Toe sê ek vir Etienne hy kan maar vra, net wanneer hy wil, want ek is nou reg. Ek het hom lank terug gewaarsku hy moet my nie vra voor ek nie sê ek is reg nie, hy moet my nie verras met ’n ring en op sy knieë neersak nie.

En toe doen hy dit?
Toe ons verloof geraak het, was dit een van my grootste oomblikke. Dit was my Groot Ja. Die troue se “ja” is vir my amper ’n formaliteit. Dit was op 25 Februarie by die Westcliff Hotel op Etienne se verjaardag. Hy het agter my rug my ouers kom vra en my toe verras.

Dit klink asof jy ’n sonskynlewe het – sukses, familie, vriende, liefde, alles verloop vir jou so goed.
Ek het ’n veiligheidskussing van mense wat my liefhet, wat my vang as ek val. ’n Mens
móét val, dis hoe jy leer. Maar daar is altyd iemand om dit beter te soen! En my geloof –
ek het ’n baie persoonlike Godsverhouding en bid baie. Ek het baie min skadukolle in
my lewe, maar ek het ’n sagte hart, ek is emosioneel en ek het al baie seergekry.

Beskryf jouself soos jy dink ander jou sien.
Ek glo aan eerlikheid. Ek is betroubaar, ek sal nie mense se vertroue breek nie.
En humor, ’n mens moet lag. Ek het ’n permanente smile op my gesig. Die lagplooie
wys al erg. Ek neem myself nie te ernstig op nie. En ek glo aan harde werk, nie dat dinge in jou skoot val nie. Ek begin myself nou ken, ek weet wie ek is en ek geniet om te ervaar hoe ek verander en groei. En nou het ek iemand saam met wie ek kan groei. Dink net – as ons gelukkig genoeg is om saam stokoud te word gaan ons langer saam wees as wat ons nou al lewe. Die res van my lewe – sjoe, dis ’n lang tyd!

Jou kosbaarste besittings?
My kat, Sushi, en my verloofring.