As model en vrou van ’n superstersanger moet sy immers altyd op haar mooiste lyk. Sy is byna soos ’n handelsmerk-uitbreiding van Kurt se sukses, maar sy is ook ’n handelsmerk uit eie reg – die gesogte model Dunay Nortjé wat ook ’n honneursgraad in sielkunde het en nou wil aansoek doen
vir toelating tot ’n meestersgraad in spelterapie.

Die gonswoord WAG pas haar. Dis die term wat deur Britse poniekoerante geskep is om oorspronklik na die vroue en meisies van hoëprofiel- Engelse sokkerspelers te verwys.

Die blog wagsrag.com sê WAGs is lankal nie meer nét langs die sokkerveld te sien nie. Hulle is op
Wimbledon se hoofpaviljoen, in rugbylosies, agter die verhoë waar hul beroemde musiekmanne optree en aan die sy van skatryk sakemanne.

Sexy en o, so hot! Stylvol ook, kan altyd deur ’n ring getrek word en weet hoe om in die kollig te beweeg. Die meeste het hul eie loopbaan as model of sakevrou. Party selfs beroemder as die man in hul lewe – die super-WAGs.

Met die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat op 9 September in Nieu-Seeland afskop, sal hierdie glansvroue op hul pos in die losies wees. En ons wil hulle daar sien. ( Jammer, manne, ons verstaan jul fokus op gebeure op die veld, maar vir ons is die belangstelling in hul WAGs ’n girly-ding. Ons wil sién wat in die losies aangaan! Dit gaan oor inspirasie en aspirasie en sommer netom ’n bietjie van die nare ou wêreld te vergeet wanneer ons in glansblaaie oor hulle lees. Die hare, die grimering, die handsakke, die stiletto’s, die labels.)

Veral die Engelse sokkerbase het al gekla dat dié vroue soms meer aandag as die spelers self kry. Victoria Beckham (Posh Spice) – ongetwyfeld die koningin van super-WAGs en ’n onbetwiste styl-ikoon – is ’n sprekende voorbeeld. Maar sy staan ook deur dik en dun aan die sy van haar sexy man, David, het ’n loopbaan van haar eie as ontwerper (en was ’n hoogs suksesvolle sangeres) en is boonop ’n goeie ma.

Kyk verby die glans en jy sien sterk vroue raak. As jy ’n gewone WAG is, is jy daar net om mooi te lyk, maar as jy ’n super-WAG is, is jy daar om jou eie stempel af te druk: Haai, kyk, ek is hier en my lewe bestaan nie net uit bling, belts, bags en boobs nie.

Die moet-hê’s van 'n WAG

  • Waar shop WAGs: WAGs koop in Londen in Oxford Street, Carnaby Street, Covent Garden en Soho. In Parys is dit onder meer Rue Saint-Honoré, Rue de la Paix en Place Vendôme. En in Rome kry jy in Via Borgognona modehuise soos Fendi, Laura Biagiotti en Gai Mattiolo.
  • Klere: Dolce & Gabbana, Victoria Beckham-rokke, Chanel, Ralph Lauren, Roberto Cavalli, Balenciaga, Lanvin, Gucci en Valentino.
  • Gewilde skoen-etikette: Christian Louboutin, Jimmy Choo, Pierre Hardy en Giuseppe Zanotti.
  • Handsakke: The Hermes Birkin, Yves Saint Laurent, Chloé, Stella McCartney Chanel en Prada

Vir meer oor  sa se eie WAGs koop die September-uitgawe van SARIE

Volg SARIE op Twitter en Facebook