Hoe voel dit om verloof te wees aan een van die bekendste Suid-Afrikaanse sangers?
Toe ek hom ontmoet het, het ek nie 'n idee gehad wie hy is nie. Maar die afgelope vyf jaar met hom aan my sy besef ek hy kan enige meisie in die wêreld kies, en die feit dat hy my gekies het, maak my baie gelukkig en lief vir hom. Hy is 'n mens-mens. Ek en hy deel baie belangstelings, soos ons liefde vir uiteet, veral Thai-kos en seekos. Ons is ook mal oor reis. Saam met hom het ek al die wonderlikste plekke ontdek. Ons reis na Phuket vroeër vanjaar was ongelooflik. Hy het nodig om nou en dan net 'n breek te neem en bietjie tot verhaal te kom. Ons is dol op die bos. Ons is albei lief vir ons families. Daar is niks so lekker vir hom as om net by sy broer-hulle te braai nie. Hy is regtig 'n baie spesiale mens.

Hoe bederf hy jou?
Báie! Deur al die reise sien ek só baie. Minstens een tot twee per jaar. Hy glo reis verruim 'n mens se kop. En hy is romanties op sy eie manier. As ons op ons eie is, is hy régtig homself. Só baie mense neem sy tyd in beslag en hy is goed vir sy bewonderaars, maar by my kan hy regtig homself wees. Soms sal ons op die roltrap wees en dan trek hy my nader en gee 'n soentjie of drukkie en sê hy is lief vir my. Of hy koop soms uit die bloute vir my blomme. Dis nie materiële dinge wat hy doen wat hom spesiaal maak nie. Hy let op die klein dingetjies wat saak maak.

Hoe bederf jy hom?
Ek is 'n arts and crafts-mens. Voor sy CD uitgekom het verlede jaar, het ek 'n geraamde ding vir hom gemaak met een van sy liedjies se versies daarin en 'n klaviertjie binne-in. En ek is geen uithaler-kok nie, maar die ander aand het ek 'n dis gemaak met hopeloos te veel vleis-aftreksel, en hy het dit maar geëet. Dis eintlik baie snaaks. Ek maak baie lekker ontbyte vir hom. En ek sê elke dag vir hom hoe lief ek hom het.

Wil julle kinders hê?
Beslis. Ek is 'n enigste kind en wil beslis twee kinders hê. Dis een van die redes hoekom ek sielkunde gestudeer het. Ek is baie lief vir kinders en dink Kurt sal 'n wonderlike pa wees. Ons het al bietjie gepraat oor name vir kinders. Kurt dink Luca sal 'n mooi naam vir 'n dogtertjie wees. Ons kon nog nie saamstem oor name vir kinders nie. Dis baie snaaks.

Wanneer wil julle trou?
Ons het nog glad nie gepraat oor datums en waar en hoe nie. Dit was so 'n groot verrassing toe hy my vra. Ek verjaar op 29 Junie en omdat Kurt daardie aand 'n vertoning gehad het, het ek gedink die wegbreek by Richard Branson se plek is om my verjaarsdag te vier. Ek het gedink hy is nou op so 'n goeie plek in sy lewe en hy het so lank gewerk om dit te bereik, hy is nou baie gelukkig, dit sal nog so een tot twee jaar duur voor hy die vraag vra en ek was heeltemal bereid om te wag . . . En toe vra hy my! Dit sal beslis 'n groot troue wees, ons het nie juis 'n keuse nie. Ons beplan ook om dit nét een keer te doen. Hy kom uit 'n baie groot familie en het baie vriende. En ons het nog altyd gesê ons wil nie 'n uitgerekte verlowing hê nie.

Vertel meer van die private lodge van Richard Branson wat julle besoek het.

Ons was baie bevoorreg. Kurt het nogal vir my gesê die enigste verblyf wat beskikbaar was, was in die presidensiële suite. Toe ons daar aankom, was daar nie so baie mense nie, en ek het gedink dit kos sekerlik belaglik baie geld. Maar dit was só ongelooflik. Die eerste aand tydens ons safari-rit het ons twee leeumannetjies gesien wat 'n buffel eet. Ons het gelukkig nie die vangs gesien nie. Dít sou vir my te veel gewees het. Ek het al 'n jakkals en koedoe op Kurt se plaas in Naboomspruit (hy wil dit Hemel op Waterberg doop!) gedokter. Ek is mal oor diere. Ons het ook 'n luiperd met vyf kleintjies tydens ons besoek gesien. Eintlik het ons tydens ons tweedag-besoek die volle Groot Vyf gesien.

Hoekom dink jy werk jou en Kurt se verhouding?
Want ons het tyd geneem om mekaar te leer ken. Ons was vier maande lank net vriende en het soms ses ure op 'n slag net gepraat en koffie gedrink of saam gaan fliek. Een keer toe ons saam was ná so vier maande, het Kurt my gesoen en toe het ons besef ons sien kans om vir ewig saam te wees. Ons gee mekaar vryheid en respekteer mekaar se lewens. Kurt is dikwels lang rukke weg van die huis, maar dit maak dat ons mekaar soveel meer waardeer as ons mekaar sien. Ons verhouding verval nooit in vervelige roetines nie. Ons hou dit spesiaal deurdat ons altyd lekker dinge beplan en die vlam lewendig hou.