Skuif Sondag 18:00 reg vir M-Net se nuwe realiteitsreeks I wanna be. Vir 13 weke gaan die aanbieders Ed Jordan en Elana Afrika help om mense se drome waar te maak. Charis Labuschagne het met Ed by dié reeks se bekendstelling gesels.

Jy’s blykbaar die man met die little black book wat weet wie om te bel om te help om mense se drome te help bewaarheid?
Omdat ek vir lank ’n TV-aanbieder is en sing, het ek al ’n klomp mense ontmoet. As ons iemand nodig het om te help, weet ek op wie se nommer om te druk.

Vanwaar die idee?
M-Net wou eers ’n make over-program doen, maar dit kan vinnig vervelig raak. Ons het toe besluit om eerder ’n 'fantasie-program’ te maak. Dis heelwat meer opwindend.

Wat kan ons met die eerste episode verwag?
Een deelnemer se droom was om haar vir ’n dag lank nie te bekommer nie en die ander deelnemer wou graag in ’n kroeggeveg wees. Ons gaan hulle help om dit te doen, maar ons vat dit ’n stappie verder...

Dit klink of dit pret is om deel van I wanna be te wees?
Dis ongelooflik vervullend om deel van iets te wees wat ’n verskil aan iemand se lewe maak, al is dit net vir ’n kort rukkie.

Hoekom gaan mense daarvan hou?
Dis ’n feel good-program.

Jou groot droom?
As kind wou ek popmusiek maak en deel van die TV-wêreld wees. Ek het dít gedoen. Nou sal ek graag ’n regisseur van ’n internasionale fliek met ’n groot begroting wil wees.

**Charis was by die bekendstelling van I wanna be in Zambië. Lees haar blog