Ons gesels met hom oor sy nuwe eerste solo-album.

Wat is die naam van jou debuut-solo-album?
Solo.

Het jy self al die liedjies geskryf? 

Ek het help skryf aan 'n paar van die liedjies. Ewald Coleske, Reana Nel, Dewald Wasserfall en Johan Vorster het saamgeskryf aan die album.

Hoekom het jy besluit om 'n solo-loopbaan aan te pak?
Ek het dit reeds besluit toe ek 'n baie jong seuntjie was, dit is nou net eindelik die regte tyd vir my om dit te doen. Dit was nog altyd wat ek beplan het.

Eden was uiteraard goeie ervaring vir jou as sanger, wat is volgens jou die grootste uitdaging van 'n solo-debuut?
Eden was vir my goeie ervaring in baie opsigte, net soos dit vir my was in Musiek Teater en toe ek saam met Joe Niemand 'n duet-album gemaak het, voor Eden. Ek sien nie enige uitdagings daarin om solo te wees nie, dit is meer soos die punt waarop ek uiteindelik al die ervaring wat ek oor 14 jaar opgedoen het, kan gebruik. Opwindend!

In watter streek van SA show 'n mens die lekkerste?
Moeilik om te sê, maar Pretoria is definitief in die top-3, en dan is die Oos-Rand nogal groot en ook die Wes-Rand... Verder suid sal die Vaaldriehoek eerste op my lys wees.

Hoop jy dat een van jou kinders ook eendag musiek maak?
Ek hoop verseker dat hulle 'n liefde daarvoor sal ontwikkel, maar daar is geen druk dat een van hulle moet afhanklik wees van musiek om 'n lewe te maak nie. As hulle dit wel besluit en hulle het die talent daarvoor, sal ek hulle sover help as wat ek moontlik kan.

Jay se gunstelinge:

Jay Kos: Skaapvleis in enige vorm

Drankie: Brandewyn met regte Coke!

Vakansieplek: Mosselbaai

Boek: Freakonomics! van Stephen J. Dubner en Steven D. Levitt

Fliek: Bad Boys

Liedjie: Faithfulness van Skin