Hy is ’n bekoorlike Dominee Tienie.

Frank Opperman het gehore bekoor as Dominee Tienie in die skrywer Dana Snyman se gelyknamige toneelstuk – en so was dit ook by die kykNET Silwerskermfees.

Hy ís die gedweë predikant van die Moedergemeente wat moedeloos is oor dalende kerkbywoning. Sy vrou, Ester, word vertolk deur Henriëtta Greyffenberg (haar eerste rol in jare). En “mamma”, soos hy haar noem, is uitstekend. “Keelvol” vir “pappa”, wat deur haar kyk en te veel aandag aan die gemeente en te min aan sy gesin gee. Dominee Tienie beleef ’n dip.

Frank Opperman speel die hoofrol in die rolprent 'Dominee Tienie'. SKERMGREEP YouTube/ kykNET

“Dit is ’n uitdaging om so ’n rol te vertolk, want dit gaan oor geloof, iets wat baie waardevol vir mense is. Vir baie mense, nie noodwendig vir my nie, is dit die eerste ding waaraan hulle soggens dink as hulle hul oë oopmaak en saans as hulle gaan slaap,” sê Frank. “Jy moet fyn trap en hul emosies respekteer.”

En dít doen hy. Die draaiboek is slim en sensitief. En regisseur Sallas de Jager dra die boodskap van versoening en naasteliefde lieflik oor. “Suid-Afrika het sulke flieks nodig, want ons moet verander. F*kit, man, en ons moet ophou bang wees. Die challenge is om vir mekaar om te gee.”

Hy en Dana kom al ’n lang pad saam – veertien jaar. “Ons lag en huil vir dieselfde goed. Ons praat dieselfde taal. Dis nogal ’n hoogtepunt om te dink ons ou toneelstukkie, wat oor ’n dronkgeselsie begin het, het nou ’n fliek geword.”

Kyk die lokprent hier:

Die room van die land se akteurs, soos Regardt van den Bergh, Paul Eilers, Annette Engelbrecht (wat vanjaar vyftig jaar in die bedryf vier), Gerrit Schoonhoven, Deon Lotz en nuwelinge soos Carel Nel (“the real deal”), Luan Jacobs en Laré Brink, speel daarin. “Ek is ingenome met die spel tussen my en Henriëtta. Ons is ou vriende, soos baie van die mense op die stel. Ons het al 35 jaar gelede saam gepaartie,” vertel hy. Dis sy familie.

Frank is besiger as ooit. Hy bou tans aan by sy huis – ’n gastehuis-projek. “Dit is meer stresvol as enige movie.” Hy het boonop vyf dae gelede wéér ophou rook. (En dié keer wil hy deurdruk, maar “dis hel”.) Hy is mal om te gig met sy band. “Ek begin nou repeteer aan ’n stuk deur Saartjie Botha vir Kunstekaap – Toutjies en Ferreira met Joanie Combrink. Ek en Sallas werk aan ’n fliekprojek en Dana skryf ’n eenmanvertoning – O die donkie. Tussendeur is daar nog Willie Esterhuizen se Ouboet en Wors. Hy moet besig bly, vertel hy, want die bouprojek moet betaal word. “En ek doen graag dinge saam met my twaalfjarige dogter en vrou.”

’n Toneel uit 'Dominee Tienie'. SKERMGREEP YouTube/ kykNET

Dit is sy tweede Silwerskermfees. Die eerste een was met Dis koue kos, skat, toe hy die romantiese hoofrol teenoor Anna-Mart van der Merwe in Marita van der Vyver se romkom gespeel het. “Dis ’n beautiful fees. Ek weet nie hoeveel flieks daar sou gewees het as dit nie hiervoor was nie.”

Frank was mál oor Christiaan Olwagen se veelbesproke rolprent Kanarie, wat by die fees gepremière het. “Dit het internasionale potensiaal. Dis ’n moerse taboe topic. Beautiful. Om na homself te kyk – dit was maar sy tweede keer dat hy Dominee Tienie gesien het – was swaar. “Jy wil net hê dit moet endkry.” Maar hy dink hul span kan tevrede voel. “Man, ek hóóp die mense hou daarvan.”

Dis die eerste keer dat hy en seun, Frankie, saam is by die fees. “Ek verstaan nou hoekom die Amerikaners die dinge het van Frank jr en sr … ons het soveel deurmekaarspulle met vliegtuigbesprekings gehad … en mense raak deurmekaar. My pa was Frank, toe ek, nou Frankie en my kleinseun is ook Frank.” Sy seun woon langs hom in Johannesburg. “My kinders moet naby my woon, ek hóór my kleinseun huil,” vertel hy.

Frank Opperman is nie bang vir ’n uitdagende rol nie. SKERMGREEP YouTube/ kykNET

As sy selfoon lui, kyk hy. “Ek antwoord net as dit my vrou is.” Hy vertel hy gaan Frankie se kortfilm, Die Ongenooides, later die dag sien. En net voor die prysuitdeling speel hy in ’n Ander mens van Quentin Krog. “In die een fliek sê die predikant maak vrede. In die ander een [hy spring op en wys] – skiet ek ’n paar koeëls deur ’n paar ouens se koppe.”

En daarmee groet hy – met ’n druk – en vertel hy het gelees dit is moeiliker om op te hou rook as om heroïenverslawing te oorkom.

- Dominee Tienie word later vanjaar landwyd vrygestel.