Hoe het dit gebeur dat jy Kwêla-aanbieder geword het?
Kwêla se produksiebestuurder het my gevra of ek sou belangstel om vir 'n oudisie te gaan. Toe ek klaar met haar gesels het, het ek dadelik my man en ouers gebel. Ek was verskriklik opgewonde! Omdat ek nog altyd 'n Kwêla-aanhanger was, het ek die geleentheid met albei hande aangegryp.

Hoe moeilik was die skuif van aktrise na aanbieder?
Ek is nog besig met die 'skuif-proses' en leer elke dag onsettend baie. Ek't skielik besef daar is 'n tipe 'veiligheidsnet' as jy 'n aktrise is, want jy vertolk 'n karakter. As aanbieder is dit anders. Geen karakter nie, net ek, Mandi. Ek sien uit om by die ander aanbieders en die res van die Kwêla-span te leer en te groei.

Met wie sal jy graag 'n onderhoud wil doen?
Daar is so baie mense. Eerstens met die a capella groep, Navi Redd. Omdat my man daarin sing (Schalk Baard) en die res van die ouens my beste vriende is, sal dit moontlik pret wees. Dan ook met Charlene Wittstock. Haar lewensverhaal lyk soos 'n ware feëverhaal - van 'n SA swemmer tot prinses van Monaco. Ek dink die onderhoud sal interessant wees.

Waarmee hou jy jouself nog besig?
Ek is 'n projekbestuurder by The Ceres Beverage Company (Liqui-Fruit, Ceres, Lipton, Fruitree en Pepsi). Ek't drie dae nadat Egoli geëindig het daar begin werk. Dit was 'n jaar van groei by 'n ongelooflike maatskappy.