Ná ’n jaar is haar beeld as die nuwe Jane van Egoli op M-Net gevestig – al het sommige kykers geen tyd vir haar nie. Maar dit laat Corine du Toit glad nie terugverlang na haar glansloopbaan as internasionale model nie.

deur MARTIE SWANEPOEL
foto LEANA CLUNIES-ROSS
grimering en hare FANIE NEL,
stilering en konsep JAMES EMANUEL fanjam@telkomsa.net

Toe sy as Jane oorgeneem het, het sy nie beplan om as “die nuwe superfeeks op TV” bekend te staan nie, maar Corine du Toit is slim genoeg om ’n stewige onderskeid te tref tussen haarself en haar Egoli-karakter.
“Ek het nie gedink Jane sal so gehaat word omdat sy die arme Lara se kêrel, Darius, afgevry het nie. Wys jou net hoe kykers hulle in ’n reeks inleef. Vir my toon dit dat ek Jane goed uitbeeld. Dis ’n goeie teken as ’n karakter sulke reaksie uitlok.”
Ná ’n jaar in die rol kom Corine twee soorte reaksies oor Jane teë: Sommige kykers word woedend vir Jane en ander het empatie met haar.
Egoli-slawe soos AnitaGrindlay-Whieldon, SARIE-sekretaresse in Kaapstad, en Sheray Barnard, ’n finansiële mediakonsultant van Boksburg, meen onderskeidelik die nuwe Jane is sluwer, en is “lekkerder om te haat”.
Maar Emily Venter, ’n onderwyseres van Randburg, sê sy en haar vriendinne meen Jane verdien liefde ná haar ongelukkige huwelik met Tim.
“Sy is sagter en baie mooier,” sê Emily.
Corine is deeglik daarvan bewus dat sommige doemprofete gemeen het die oorgang van die ou na die nuwe Jane sal nie werk nie.
“Ek het dit as ’n uitdaging beskou, en ek glo die oorgang is nou voltooi. Die woede-reaksie
toon kykers identifiseer nou met die nuwe Jane,” sê sy.
Sy weet die karakter wat sy speel, is gewikkel in ’n liefde-haatverhouding met die kykers, maar dit skrik haar nie af nie. Die uitdagings van ’n rol in ’n sepie, is één ding waarvoor haar vorige loopbaan haar deeglik voorberei het.

Haar loopbaan as model
In die strawwe internasionale modebedryf – waar dwelms en dieetsiektes algemeen is en waar sy altyd “vet” gevoel het – het Corine na haar wortels in Suid-Afrika teruggegryp om te oorleef. Min mense weet dalk dat sy ’n lang loopbaan as advertensiemodel agter die blad het. Dis ’n loopbaan waaraan sy goeie en minder goeie herinneringe het. Dis vir eers op ys geplaas omdat die kollig voor die TV-kamera haar op die oomblik meer bekoor.
Sewentien jaar lank was haar oorlewingsresep eenvoudig: “’n Mens moet altyd onthou waar jy vandaan kom.” Vir haar is dit haar kinderjare in Bloemfontein …
Haar modelloopbaan het haar ook op ander gebiede voorberei op die eise aan ’n sepiester: Lang ure waarin jy altyd op jou beste moet lyk. Daar is min krisisse wat sy nie kan hanteer nie.
As bloedjong model was sy gereeld uitgelewer aan moeilike fotograwe, van wie sommiges geen respek vir modelle as mense het nie. Sy het soms soos “’n produk” gevoel – al het sy
destyds ’n nr. 8-rok gedra, het stiliste haar dikwels ingeprent dat sy te “vet” is vir die nommer-sessies waarin Europese modelle so gemaklik pas.
“Jy ontneem jouself al die vreugde, soos om aan ’n sjokolade te smul. Jy werk in Europa tussen die romerigste sjokolade, maar dit raak nooit jou lippe nie!”
Nou kan sy daaroor lag, maar om vir ’n modesessie te poseer en die klere is altyd te klein, doen nie veel vir ’n mens se selfbeeld nie. “Stiliste moes die meeste broeke en rompe
agter oopsny sodat ek daarin kon pas met my ‘groot’ 32.”
Sy besef tydskrifte “verkoop” aspirasies aan lesers en dat lesers maer modelle wil sien, maar sy meen dis nie altyd natuurlik nie. “Gelukkig is nie alle tydskrifte daaraan skuldig nie. ’n Té maer beeld beïnvloed jou vrou-wees. Dit het ’n invloed op hoe jy na jouself kyk.”
Sy meen die modelwêreld maak van kos ’n emosionele ding.
Daarby beskou die meeste vroue kos as ’n vriendin wat jou troos as jy hartseer is en saam met jou fees vier as jy gelukkig is.
Sy is verlig om ontslae te wees van die ewige druk en om nooit lekker te mag eet nie.
Deesdae eet sy wat sy wil en sy voel dolgelukkig in Jane se nr. 10-uitrustings, dankie, sê Corine en lek die skuim van die cappuccino van haar lippe af.
Dis dieselfde lippe waaroor ’n druppel Bon Aqua-mineraalwa ter ’n paar jaar gelede sensueel in ’n televisie-advertensie gebiggel het.
Dit is na aanleiding van hierdie advertensie dat Suid-Afrikaners haar nog dikwels herken. Die
Franse sal haar as model in jogurt-advertensies eien en Skandinawiërs as die meisie wat ’n duur koffie adverteer. Moet dus nie verbaas wees as jy in ’n Europese rolprentteater sit
en sien hoe Walco se kroonprinses roomys, ’n motor, sonbrille of kougom adverteer nie. Die indrukwekkende lang lys internasionale advertensies waarin sy al gespeel het, het haar na
eksotiese plekke soos die Franse Alpe, Majorka, Monte Carlo, Senegal, Wene, Rome, Sardinië en Wallis geneem. Haar gesig het al op TV, in rolprentteaters en in tydskrifte in Europa, Amerika, Kanada en die Verre Ooste verskyn.

Haar lewe voor Jane
Haar lewe voor Jane lees inderdaad soos ’n sprokie:  Sy is as 15-jarige skoolmeisie deur die fotograaf Renico van Rensburg in Bloemfontein ontdek. ’n Blink modelloopbaan het dadelik gelok, maar Daan en Lulu du Toit het vasgeskop. Corine kon deeltyds modelleer, maar moes eers haar skoolloopbaan aan die
Hoërskool Fichardt Park voltooi.
“Vandag is ek innig dankbaar oor my ouers se besluit. Dit was die beste besluit vir my lewe. Dit het my fondament versterk. Daarsonder sou ek nie die modelwêreld kon aanpak nie.”
Eintlik wou sy eers ’n dokter geword het. Vandaar die vakkeuse van wiskunde, wetenskap en biologie. Maar haar belangstelling in modelwerk het uiteindelik die rigtingwyser van haar loopbaan geword. Sy was onder meer in 1993 een van die finaliste in Beeld se Model van die Jaar-wedstryd.
In die week het sy op die skoolbanke gesit en naweke het haar ma met haar Johannesburg toe gery vir modelwerk. Sy is direk ná skool Johannesburg toe vir ’n voltydse modelloopbaan. Haar eerste blyplek was ’n kamertjie in Houghton en sy was verskrik en skaam vir die vreemde wêreld.
“Almal het my Kleintjie genoem en ek moes as Bloemfonteiner hard sukkel om my tong om die Engelse tenses te buig. Ek was soms so hard besig om te dink wat die Engelse woord is waarna ek soek, dan was die gesprek al verby!”
(Dis aan haar te danke dat ons Jane deesdae ook Afrikaans hoor praat.)
Haar eerste fotosessie by Next-modelagentskap was ’n agtblad mode-artikel vir Femina. Kort daarna het ’n Coca-Cola-TV advertensie gevolg. Sy was dus gelukkig om groot te kon afskop.
Maar sy was bang en het geïntimideer gevoel deur ervare modefotograwe.
Corine het gaandeweg haar voete gevind en haar later by die Storm-modelagent
skap in Kaapstad aangesluit. Daarna het sy byna sewe jaar lank seisoen ná seisoen tussen Kaapstad en Europa gependel.
Op 18 is sy die eerste keer oorsee vir ’n katalogus-kontrak in Griekeland. “Ek was vrek bang en vreemd. Die kameraspan het my aan myself oorgelaat en ek het gereeld verdwaal. Soms het die trane gespat.”
Maar dit was die begin van vele oorsese reise en later was sy ’n gesoute reisiger wat onafhanklik in enige groot wêreldstad haar weg kon vind. Was dit nie vir haar Afrikaanse wortels in Bloemfontein en haar hegte gesinslewe nie, het sy sweerlik gecrack,
weet sy nou.
“Die modelwêreld kan hard en ongenaakbaar wees. Die eise is hoog. Dis nie ’n plek vir sissies nie.”
Sy vertel trots dat die Afrikaanse meisies die druk baie beter hanteer as Europese modelle.
“As jy basiese sterk morele waardes het, trek dit jou deur. Daar is baie groepsdruk. Al wou ek soms hoe graag deel van die gewilde gang wees, het ek geweet as ek swig voor dwelms, is al my harde werk daarmee heen. Ek het geklou aan my kans van ’n leeftyd en wou dit nie verbrou nie. Ek het te veel ander gesien val.”
Al die ure voor die kameras het haar gewoond gemaak aan prima donnas op stel. Sy het nou ook die geduld om ’n toneel oor en oor te skiet. Selfs onder moeilike omstandighede.
“As model sorg jy dat jy altyd op jou beste lyk en glimlag, al staan jy in vriesende water. Ek het geleer om my gedagtes na iets aangenaams te verplaas.”
Sy roem haar daarop dat sy nooit van ’n fotosessie weggestap het nie, maar erken sy was soms “baie naby daaraan”.

Die uitdagings van internasionale modelwerk
“’n Loopbaan as internasionale model klink glansryk, maar dit is nie altyd nie. Stel jou voor jy moet in die Europese winter somer rokkies paradeer. Elke keer as jou vel te blou word van die koue, boender die stilis, wat in ’n dik donsjas toegewikkel is, jou in ’n kombi wat eenkant staan en luier sodat die verwarmer jou vel weer pienk kan kleur. Dan word jy weer uitgeboender om voor die kamera fleurige lentemodes te wys.”
Sy moes op ’n dag oor en oor die see in hardloop, op ’n waterponie spring, rondjaag, afval, land toe swem, weer die see in hardloop... Die week daarna moes sy spierverslappers drink en
het sy so skeef soos ’n krap geloop.
Sy erken sy het darem nie te hard gekla nie, want die betaling het alles die moeite werd gemaak. Daarvan kon sy heelwat in eiendom belê. “Ek het van jongs af ’n behoefte gehad om my eie, eie plek te besit. In die jare dat ek oor die wêreld rondgeswerf en uit tasse geleef het, was dit gerusstellend om te weet ek het my eie huis in Suid-Afrika (in die Kaap) waar ek soms kon gaan afpak, waar ek my goetertjies wat ek orals gekoop het, kon uitstal.”
As plattelandse kind wat ongekompliseerd grootgeword het, het sy uit haar reise geleer dat die wêreld se grense baie wyer as Bloemfontein strek. “Ek kon ongelooflike plekke sien en
wonderlike mense ontmoet.”
Die blootstelling het haar ook geleer om haar probleme self uit te stryk. Gelukkig was haar ouers altyd net ’n foonoproep ver.
“Ek het baie tyd alleen deurgebring tussen fotosessies. Ek het in strate en katedrale rondgedwaal en verkies om alleen te wees. Ek was nog altyd ’n alleenloper. As jy so op jou eie in ’n vreemde land ronddwaal, vind jy jouself, of jy wil of nie.”
Maar ná ’n paar jaar raak ’n mens moeg van swerf. Sy het ’n behoefte gehad om elke aand na dieselfde huis terug te gaan. Sy het ’n lang ruk die ideaal gekoester om ’n aktrise te word.
Die Storm-agentskap het ook ’n afdeling vir akteurs en sy het ’n oudisie vir Egoli gedoen.

Ná die Egoli-oudisie
Die vervaardigers het na iemand gesoek met dieselfde “energie” as Catriona Andrew, haar voorganger. Dit was nie ’n maklik oorgang nie. Kykers hou nie van veranderings nie. Ná
weke is die verbande van die arme Jane se geskende gesig gedraai ... en siedaar, die beeldskone Corine het verskyn.
“Ek het van die begin probeer om Catriona nie na te boots nie. Ek wou Jane op die natuurlikste manier moontlik speel.”
Ondanks haar ervaring as TV-advertensiemodel was sy steeds doodbang die eerste dag op die Egoli-stel. Die druk en adrenalien was anders as tydens die verfilming van ’n advertensie.
“Ek was so bang ek gaan nie my dialoog onthou nie, maar talle van die gesoute akteurs het my onder hul vlerk geneem.”
Sy het gou gewoond geraak daaraan om elke dag ’n episode te skiet. Dit is ’n baie meer geroetineerde lewe as waaraan sy gewoond was as model.
“Ek geniet elke oomblik daarvan. Ek put hope bevrediging daaruit. Dit is hoekom ek hoop ek kan so lank moontlik deel van die Egoli-span wees.”
Volgens haar is sy baie dankbaar vir die kans wat Franz Marx haar in dié sepie gee.
Ja, trou en kinders is nog ver in die verskiet, en die wanderlust pak haar nog soms, maar eers wil sy net Jane wees... al is sy nie al die kykers se liefling nie.