SARIE het die ‘Ons Boere, Ons Inspirasie’-projek saam met kykNET, GWK, John Deere en McDonald’s aangepak om boere in ’n nuwe lig te stel.

In die TV-reeks en SARIE-tydskrif ontmoet ons die volronde en innoverende mense wat Suid-Afrika voed. In die eerste episode het ons gaan kuier by HF Cilliers, ’n aartappelboer van Douglas.

Aan die einde van die episode is ’n portret van wêreldgehalte geneem wat in SARIE se November-uitgawe verskyn. Dié onderstaande portret wys die boer op ’n nuwe manier. Sodat mense kan sien hóé inspirerend boere regtig is. Dat hulle anders sal kyk na die mense agter SA landbou.

Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspi
Skermgreep uit Episode 1 van 'Ons Boere, Ons Inspirasie'

HF CILLIERS, De Hoek, Douglas

“Daar’s so baie van ons, die noemname is al op!” Só verduidelik HF Cilliers van die plaas De Hoek op Douglas sy ryk familiegeskiedenis.

Die Cilliers’s is lief vir die aarde hier. Reeds vir vyf generasies word op die plaas teruggeploeg, nie net in die vrugbare grond nie, maar ook in die gemeenskap.

HF, die oudste seun en naasoudste van vyf kinders, boer met lusern, aartappels, gars, koring, hawer, mielies, uie en pekanneute. Sy ouer suster en jonger broers beskryf hom as die kwaaiste van al die kinders, maar die spilpunt van hierdie passievolle familie.

Spilpunte is volop. Destyds is daar vir HF gesê hy sou nooit in die omgewing kon besproei nie. Maar dit het nie dié innoverende boer gestuit nie en al vir jare is sy grond onder besproeiing nadat hy sy eie spilpunte ontwerp het.

Buiten sy liefde vir die grond, is HF ook vuur en vlam dat die plaaslike skool ondersteun moet word, want dis die kern van die gemeenskap se gesondheid en groei. “Die kinders moet hier skool toe gaan. Sonder die skool loop ons dorp dood, kry die gemeenskap swaar.”

Dié pa van twee se oë raak sag wanneer hy die omvang van die saak verduidelik. En jy glo hom, want by die Cilliers’s van Douglas is familie goud werd. Dis juis hierdie bande wat maak dat hulle vooruit boer.

Hul riviervesting, Vaallus, is sy “happy place”, sê HF. “Ons vang al vir jare teen die rivier vis. Om die waarheid te sê, ons gaan nie eens weg oor Desembervakansies nie, dis net te lekker hier.” Langs die waters van die Vaalrivier het die Cilliers’s ’n ry huisies opgerig wat jou laat dink aan die ryk kleure van die Bo-Kaap. Dis waar hulle saamkuier en saamdroom.

Sy wortels lê diep op die plaas, sê HF. “Ek is gemaak vir Suid-Afrika. Hier bly ek.”

HF Cilliers, Ons Boere, Ons Inspirasie
HF met sy visstok langs die Vaalrivier FOTO Marijke Willems

Moenie SARIE se Desember-uitgawe misloop nie wanneer ons boere van Boshof, Loeriesfontein, Namakwaland en Wesselsbron wys.

*Ons Boere, Ons Inspirasie is Donderdae om 21:00 op kykNET (kanaal 144) te sien. Na afloop van elke episode sal dit ook op DStv Catch Up wees.