Michelle du Toit van Barefoot Rescue, ’n dierebeskermingsorganisasie sonder winsoogmerk in Kaapstad

As kind was sy omring deur katte, honde, ’n troetelgans en selfs muise en rotte wat in haar ouerhuis in Kaapstad met die hand grootgemaak is.

Michelle du Toit, medestigter van Barefoot Rescue in Kirstenhof, Kaapstad, se ma, Suzette Squire-Howe, ’n bedrewe valkenier, het besef kinders leer uit die natuur, nie net in die klaskamer nie.

“Ek is geleer om diere te bejeën as wesens wat ook dink en voel. En dis wat ek as enkelma ook vir my seun, Luke, leer. Kinders boots bloot ouers na.”

Vele diere het ’n heenkome in hul huis gevind. “Saskia, die tien jaar oue Duitse herdershond, die tweelingkaters Linus en Tigger, hasies Nano, Juliet, Hippo, Jessica . . . en ’n 23-jarige gryspapegaai, Rubbish, woon saam met ons,” vertel sy.

Nadat sy as projek-en-ontwikkelingsbestuurder in die korporatiewe wêreld gewerk het, het sy in 2014 haar eie konsultasie-agentskap begin, dankbaar dat sy voortaan meer tyd sou hê om diere te red.

In 2016 het sy en ’n vriendin, Candida Howarth, Barefoot Rescue, ’n dierebeskermingsorganisasie sonder winsoogmerk, begin. “Ons was die kaalvoet-helpers, elk met ’n kind op die heup,” lag Michelle. (Candida is intussen oorsee.)

Diereredding verg sowat 90% van  haar tyd. Sy maak ook hokke skoon, voed en vertroetel diere, besorg hulle by die veearts, reël aannemings.

“As werkende ma is dit nie altyd maklik nie, maar ek is dankbaar dat ek en Luke só baie tyd saam kan deurbring. Hy help my baie. So ook my liewe huiswerker Winnet Munemo.”

Aanvanklik het die organisasie veral hase gered. “Daar was min skuilings vir hulle in die Kaap, maar gelukkig versorg Noordhoek Bunny Rescue nou sowat honderd volwasse hase. Ons fokus nou op die grootmaak van wees-babahase en om huise vir hulle te vind.”

Sy versorg ook pasgebore katjies, beseerde eekhorings en voëls. Die eekhorings en voëls word, wanneer hulle gesond is, vrygelaat in die natuur. Een van die grootste uitdagings is om mense te vind wat die diere aanneem.

“Dis hartverskeurend om hasies groot te  maak en dan wil niemand hulle hê nie.”

Van die stories ruk aan die hart. Soos Bimbo en Zimbi, twee haasboeties wat uitgeteer en met ’n nare veluitslag in Mitchells Plain gevind is.

“Hase verg baie sorg en kos heelwat geld. As jy nie daarvoor kans sien nie, moet jy nie ’n haas kry nie.” Gelukkig is die twee weer springlewendig en reg vir ’n liefdevolle huis.

Maar nie alle stories eindig gelukkig nie. Sy het al ’n hasie van kleins af grootgemaak, gedínk sy plaas hom by goeie aanneemouers, net om uit te vind hulle het hom gruwelik verwaarloos. Hy het uiteindelik gesterf. “Ek het nagte daaroor wakker gelê . . .”

Die geldnood is groot. Die organisasie is afhanklik van skenkings vir kos, mediese uitgawes en om die hokke in stand te hou. “Die plaaslike polisie skenk ou koerante vir die hokke, ’n kwekery verskaf haaskos, ’n naaldwerkgroep maak komberse, en mense dra ook by vir sterilisasie.”

Michelle wil met haar hele wese ’n verskil in diere se lewe maak. “Ons is trots om verbind te word met Bunny Huggers SA, Tears en Noordhoek Bunny Rescue. Hoe meer ons mekaar help, hoe meer diere kan ons red.”

Navrae: barefootrescue@gmail.com; 082 780 395