Die 70-jarige Themsie Times het vir 13 jaar die rol van die skoonmaker Maria Zibula in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk. Nie net het sy die huis van Oubaas van Zyl (Pierre van Pletzen) en sy bruid, Hilda (Annelisa Weiland), met ’n ysterhand regeer nie, sy het ook gereeld skelm-skelm probeer geld maak.

“Altyd doenig met planne. Jinne, daai mampoer-besigheid saam met Marko was laf. Ou Maria was maar net lief vir geld,” onthou Themsie.

In 2016 het sy met ’n skok uitgevind haar karakter gaan uitgeskryf word. “Ek was absoluut verpletter, ek wou nie gaan nie. ’n Hele ruk ná 7de Laan was ek nog in stukke in absolute ellende. Ek was hartseer.”

Vier jaar later is Themsie op ’n beter plek. Sy speel ’n hoofrol in die splinternuwe e.tv-sepie Isipho. “Ek speel die rol van Gogo, ’n matriarg. Een van haar kleinkinders is ’n moeilikheidmaker en sy probeer vir hom die regte pad wys.” 

Syself is ’n ouma van vier kleinkinders. “Maar hulle gee my darem nie grys hare nie,” lag sy.

Themsie mis die goeie ou dae van 7de Laan. “Ek, Annelisa en Pierre was baie lief vir mekaar. Ek het so baie geleer, 7de Laan was my huis. Ek was lief vir almal.”

Sy reken Maria bou steeds haar huis in QwaQwa.

“O nee, dáái vrou sal nooit ophou huisbou nie! Sy is lief daarvoor om geld te spend,” lag sy uit haar maag.

Themsie vier vanjaar haar 71ste verjaardag.

Maar sy het vrede gemaak. “Ek is nie meer bitter nie. ’n Ander deur is vir my oopgemaak.” 

Haar liefde vir toneelspeel is steeds vurig soos die dag wat sy in die 7de Laan-ateljee ingestap het. “O, ek is so gelukkig! Ek sal aanhou speel tot my dood.”

In September gaan sy 71 kersies op haar verjaardagkoek uitblaas.

“Ek voel nog 40, my geheue is goed. Hoewel my linkerbeen my probleme gee.” 

Sy was in 2012 in ’n ernstige motorongeluk, haar motor is afgeskryf en sy was ’n tyd lank in die hospitaal.

“Maar ek weier om met ’n kierie te loop. Ek is dan nie met een gebore nie.”