Haar karakter Irma Humpel in Vir die Voëls (2016) het dalk byna voor die kansel omgedraai, maar die Afrikaanse aktrise Simoné Nortmann kon nie wag om te trou nie.

Sy en haar geliefde, die rekenmeester en sakeman Andries Pretorius, is Saterdag op die Lunikhy-wildplaas buite Bela-Bela voor 135 gaste getroud.

“Dis die ongelooflikste gevoel in die wêreld om uiteindelik mev. Pretorius genoem te kan word ... ek kan dit amper nie eens in woorde beskryf nie,” het Simoné opgewonde aan SARIE gesê.

Die akteurspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha, sangeres Karlien van Jaarsveld en haar man, die oud-rugbyspeler Joe Breytenbach, die aktrise Ansu Visser, Binnelanders-medesterre Pascal Pienaar, Je-ani Swiegelaar en Germandt Geldenhuys, asook Beer Adriaanse, Mila Guy en Schalk Bezuidenhout, wat saam met haar in Hotel te sien was, was onder die bekendes op die troue.

FOTO Shanay Greene Photography

Simoné, wat pragtig gelyk het in ’n wit Suné Snyman Design-skepping, het die paadjie saam met haar ma, Tinkie Nortmann, afgestap terwyl die Bethel-liedjie “King of My Heart” gespeel het.

“Dit was een van die heiligste oomblikke wat ek ervaar het. Dit was emosioneel en oorweldigend. Net voor die tyd het ek na my ma gedraai en ons het begin huil. Ek het gebid en dankie gesê vir die 28 jaar wat ek in haar huis kon wees en die invloed wat sy in my lewe gehad het.”

Een van die hoogtepunte van hul troue was toe haar oë Andries s’n gevang het.

“Ek het niemand anders raakgesien nie. Andries het gelukkig net so baie gehuil,” lag sy. “Maar dit was ongelooflik!”

Haar pa, Hannes Nortmann, het die dansvloer saam met haar geopen voordat hy sy dogter aan Andries kon oorhandig.

 Simoné Nortmann trou
Simoné Nortmann en haar man, Andries Pretorius. FOTO Shanay Greene Photography

Omring deur die klanke, geure en kleure van die Bosveld is gaste bederf met kaasborde, ’n gourmet-maal en verjaardagkoek-roomys.

“Dit was een van die lekkerste dae van my lewe. Ons het nog tot drieuur die oggend op die dansvloer gedans!”

Die paartjie is nou op pad na Bali, waar hulle hul wittebrood gaan hou.

Hoekom juis dié Indonesiese eiland? “Instagram!” lag sy. “Alles van Bali het net ons asem weggeslaan.”

* Die troufoto’s verskyn eksklusief in SARIE se April 2019-uitgawe, vanaf 25 Maart beskikbaar


Die paartjie wil die volgende verskaffers bedank:

VENUE: Lunikhy Game Farm

TROUBEPLANNERS: Bish Bash Boosh

FOTOGRAAF: Shanay Greene Photography

VIDEOGRAAF: Katinka Productions

TROUROK: Suné Snyman Design

BRUIDEGOM SE PAK: Masterkraft Bespoke

BRUID EN STROOIMEISIES SE HARE: Nudo Hair Lab

WYN: Hermanuspietersfontein

KOFFIE: Seattle Coffee Co

TROUKOEK: Bravery Bakes

TROUGESKENKE: Olive & Arrow Creative

BLOMME: A Seed To Sow

DEKOR: Salt & Pepper Creative

KERSE: Alet Wessels

MEUBELS: Reserved Exclusive Furniture

DJ: Marouise Schoeman