Die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff se gróótste uur het aangebreek. In sy vlootblou pak het hy op die Ashanti-landgoed buite die Paarl om halfvyf die middag teen die agtergrond van ’n pragtige meer trou aan Aimee Steenkamp, sy blondekop met die vietse lyf, gesweer.

“Die troue was veel meer as waarvoor ek ooit kon hoop,” het hy ná die tyd laat weet. “Dit was ’n droom wat waar geword het.”

Vir hom was die hoogtepunt toe hy sy bruid aan die arm van haar pa, Eddie, na hom toe sien aangestap kom. “Ek is geseënd om haar man te wees.”

troue
Aimee se pa, Eddie Steenkamp, vergesel haar na haar bruidegom

Volgens Aimee het die weer nie saam gespeel nie en vir ’n bietjie stres gesorg, “maar op die ou einde was alles perfek. Ek wou gehad het almal moes gelukkig wees en die ambience was uitstekend. Ons eerste dans was absoluut ongelooflik . . .”

Bekende gaste op hul groot dag was onder andere die rugbyspelers Damian de Allende, Chris van Zyl, Pieter-Steph du Toit, Scarra Ntubeni, Bongi Mbonambi, Malcolm Marx en rugbyafrigters Robbie Fleck en Rassie Erasmus. Prinses Diana se niggies lady Amelia en lady Eliza Spencer, wat Aimee goed leer ken het deur een van haar strooimeisies, was ook daar. So ook Vanes-Mari du Toit, die Springbok-netbalspeler wat al haar slag in die televisiereeks Dancing with the Stars gewys het.

Voor die troue gesels Aimee met SARIE in ’n intieme hotel in Kaapstad. Steven het eers vyf dae voor die troue, ná die wedstryd tussen die Barbarians en Argentinië op Twickenham op 1 Desember, na Suid-Afrika teruggekeer.

Aimee is ’n sportiewe blondekop, stylvol geklee in ’n swart kleeftop en mini, met natuurlike grimering en hare wat sag oor haar skouers hang. Met hul Franse straatkat, Shaka, woon sy in hul woonstel op Groentemarkplein in die geroesemoes van Kaapstad.

“Steven is mal oor katte. Dit was ’n verskriklike drama om Shaka van Parys tot in Suid-Afrika te kry. Die papierwerk! Hy het byna ’n hartaanval gekry,” borrel sy. Maklik om te sien hoekom die fris rooikop haar uitgesoek het. “Jong, hy is baie stil, ek doen die praatwerk vir twee.”

Sy het sedert die begin van verlede jaar 18 kg afgeskud. “Niks motiveer jou meer as wanneer jy in ’n wit rok moet klim nie!” Sy ruk haar foon uit en wys ’n foto van haar ronder self. “Maar gelukkig was Steven nog altyd mal oor my!”

troue
Aimee se trourok was 'n roomkleurige Galluzzie Gini-skepping van sy-mikado. Sy het gehou van die tradisionele, koninklike gevoel daarvan.

Deesdae oefen sy sewe dae per week in die gimnasium. Die eerste vier dae van die week twee keer per dag. Die laaste drie, net een en ’n half uur per dag. “Ek is mal oor eet en om by ’n ou wat 125 kg weeg by te hou . . .”

Steven hou van haar borrelende persoonlikheid, maar, eg man, tel voorkoms ook. Sy aarsel, lag en vertel dan, byna fluisterend. “Hy blaas tot soms my hare droog. Ek dink hy maak my dood as ek dit sê.”

Aimee, ’n grimeerkunstenaar, kom uit ’n lang stamboom van skoonhede. Haar ouma, Marlene Smith, was ’n Mej. SA-finalis, en dié se suster, Cynthia, ’n internasionale model.

“My ma is baie stylvol. Sy het die ongelooflikste kombuis-tee met ’n Franse tema by die Bantry Bay-hotel in Kaapstad vir my gereël.” Aimee sê sy sal altyd vir Frankryk ’n sagte plek hê, en sy het selfs op haar troudag die klassieke Chanel No. 5 gedra. Sy en Steven het immers twee jaar in die Franse stad Bordeaux gebly toe hy tussen 2015 en 2017 klubrugby vir die Bordeaux Bègles gespeel het.

troue
Aimee saam met haar ma, Eleanor, en suster, Ingrid.

Die twee ken mekaar al sewe jaar lank en dit was liefde met die eerste oogopslag toe hulle deur gemeenskaplike vriende op Stellenbosch ontmoet het. “Hy was aanvanklik maar stil. Maar het ná ons tweede afspraak reeds vir sy ma gesê hy wil met my trou.” Aimee sê sy sal eers later aan haar loopbaan aandag skenk. “Op die oomblik is dit Steven se kans om te presteer. Eintlik is ek sy ‘voltydse assistent’. Sjoe, hy is baie agterlosig. Soms moet ek vreeslik skel. Ek reël alles vir hom en probeer soveel as moontlik saam met hom reis, want hy is my ou groot teddiebeer.”

troue
Die bruidsgevolg. Van links is Bok-haker Malcolm Marx, Kirsty du Toit, Jase Arundel, Aimee, Steven, Sanri van der Merwe, Pierre-Andrew Baxter en Zora Sandenbergh.

Steven het grootgeword op Somerset-Wes en gematrikuleer aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. “Hy wou al voor hy skool toe is vir die Springbokke rugby speel. “In Frankryk, op pad na Lyon, was ons eendag in ’n donder- storm toe die destydse afrigter van die Bokke, Allister Coetzee, hom bel en sê hy wil hê hy moet terugkeer en vir die Bokke speel. Dit was magic,” onthou sy.

Dan borduur sy voort: “Ek was mal oor Frankryk. Ons het die ongelooflikste wynlandgoedere besoek, want ons het met van die wynmakers bevriend geraak. Ons het ook na Griekeland en Italië gereis, dit was fantasties.”

Maar die Karoo roer haar. Sy was tot die middel van graad nege op Hoërskool Beaufort-Wes, maar het aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer

“Ek is ’n plaaskind. My pa is ’n skaapboer op ons plaas Doornboomsfontein. Die koppies, skaap wat so plek-plek wei in die veld, die reuk in die lug, dit is dinge wat net ’n Karookind ken. Ons het ook ’n saaiplaas, Karbonaatjieskraal, aan die Weskus waar my pa ’n besigheid het wat gifhalsbande en klokkies maak om skape teen roofdiere te beskerm. Hy is mal oor diere en baie ‘groen’.”

Steven is ’n bietjie soos haar pa – vasberade en ambisieus. “Dit het my dadelik aangetrek.” Sy vertel dat mense in winkelsentrums soms vra of hy die Bok is, en dan sê hy nee, hy is sy broer, Ruben. “Hulle lyk baie na mekaar. Steven gee om vir ander. Almal hou van hom.”

troue
Bok- en Stormersspanmaats van Steven. Van links is Wilco Louw, JJ Engelbrecht, Pieter-Steph du Toit, Damian de Allende, die bruidegom, Chris van Zyl, Bongi Mbonambi, Kobus van Dyk en EW Viljoen.

Een van sy beste vriende, ook ’n strooijonker, die Bok Malcolm Marx, sê: “Hy is gemaklik en saggeaard. Ek ken hom al vier jaar lank. Steven doen goeie dinge vir ander en verwag niks terug nie. Hy verlang baie na sy Aimee wanneer hulle lank weg van die huis af is en sal gereeld vir haar whatsapps stuur. Hy bederf haar met geskenke en koop selfs grimering by haar gunsteling- Europese winkels – presies waarvan sy hou!”

Steven sê: “Ek en Aimee deel soveel belangstellings en ons verhouding is op ’n sterk vriendskap gebou. Ons probeer altyd die ander se behoeftes voor ons eie stel. En sy is soveel pret. Sy is my rots.” 

Aimee bederf hom graag met ’n lekker bord kos. “Vleis. Dit is sy ding. Ribbetjies, skaapboud, tjops. Gelukkig is my pa ’n skaapboer.” En hý stuur haar gereeld vir ’n lekker massering, pedikuur of gesigbehandeling wanneer hy gholf speel. Sy hou haar ring tevrede uit. “Hy weet presies waarvan ek hou. Ek het vir hom foto’s gewys. Die ring is perfek. ’n Diamant van 2,2 karaat in die smarag-snit, geset in roosgoud. My geboortesteen, ’n granaat, is ook ingesit. Hoe spesiaal.”

Die verlowing was soos ’n rolprent. Hy wou in die Alpe verloof raak, maar dit was winter in Frankryk en hulle is son-mense. Sy bespreek toe in Doebai. In Desember 2016 raak hulle in die woestyn verloof. Aimee kom goed oor die weg met haar skoonouers, skoonpa Steven en skoonma Martha Johanna.

troue
Organiese konfetti: goud-en-wit gespreide bloekomblare.

“My skoonma is sorgeloos. Die eerste keer wat ons ontmoet het, het ons op die koffietafel gedans.” Sy pa is ’n skuldinvorderaar en ondersteun Steven onvoorwaardelik. “Hulle is ’n prettige lotjie.” En hoewel Steven angstig was om haar familie te ontmoet, het hulle dadelik vir die sagte kêrel geval.

Als klink rooskleurig, maar dit is vir seker nie aldag maklik om ’n “rugbyvrou” te wees nie. “Ek en Marise [getroud met Bok-losskakel Handré Pollard] skree seker die hardste in die losie wanneer ons almal saam rugby kyk. Ons hou oë toe en gryp mekaar se hande wanneer die ouens in die skrum sak of wanneer Handré pale toe skop. Die volgende dag voel dit gewoonlik vir die mans asof hulle in ’n motorongeluk was.”

troue
Aimee en Steven saam met sy familie. Van links is sy broer, Ruben, sy ma, Martha Johanna, en regs is sy pa, Steven (sr).

Sy torring nie aan Steven as die Bokke verloor nie. “Soms is hy so senuweeagtig voor ’n wedstryd dat ek hom Nuweland toe vat, want hy verdwáál soontoe. Dan luister hy Afrikaanse musiek soos Die Heuwels Fantasties. Hy is mak soos ’n lam weg van die veld, maar adrenalien skop op die veld in.”

Hy steur hom nie aan die negatiewe kommentaar wat die Bokke kry noudat hulle nommer vyf op die wêreldranglys is nie. “Hy glo dit moet van jou afrol en jy moet fokus op die volgende wedstryd.” Dít maak haar lief vir hom. Nooit ’n skewe woord nie.

Dan erken sy: “Gelukkig het ek ’n stewige vriendekring en as hy so baie weg is van die huis, hou ek my besig. Maar jy verlang maar.”

troue
Honderde origami-voëltjies en goue koutjies teen ’n wolk van wit ballonne skep die sprokie waaroor Aimee gedroom het.

Aimee is duidelik baie georganiseerd. Sy het lysies vir alles. “Steven het die spyskaart vir die troue gekies. Reuse-porsies, want die manne is honger. Die res van die beplanning doen ek saam met my ma en my vriendin Kirsty du Toit, die ‘troubeplanner’ en my hoof-strooimeisie.”

Haar troutema is geïnspireer deur die projek “Follow Me To” van die Russiese fotograaf Murad Osmann, wat in 2011 in Barcelona begin het om foto’s met sy iPhone te neem van sy meisie Natalia Zakharova, nou sy vrou. Aimee het van die misterieuse, dromerige voorkoms gehou.

“Dié gevoel gaan wonderlik werk by die Europees geïnspireerde Ashanti-restaurant. Pure art deco. Origami-voëls wat fladder teen nagemaakte wolke, reusagtige blomme, half sprokiesagtig.” En sy het die bekroonde Suid-Afrikaanse fotograaf Ryan Graham gekies om die gevoel vir haar te herskep.

troue
Op pad na die onthaal in haar tweede rok. Die styl is deur haar gunsteling-ontwerper Krikor Jabotian en Ashi Studio geïnspireer. “Dramaties en prettig met 100 m vere.”

Hoewel hulle dol is op Suid-Afrika, is sy en Steven oop vir enige avonture. “Ek is ’n wêreldburger. Steven was al baie in Argentinië, waar daar die wonderlikste perdrymoontlikhede is. Hulle speel mos baie polo daar. Ek sal dit so graag wil beleef.” Self was sy op haar dag ’n Springbok-perderuiter in pensteek (tent pegging). “Dit is ’n soort militêre sport, soos daai wat hulle so in die moewies die lemoene kap met die lanse en swaarde,” vertel sy.

En hulle wil kinders hê, maar vir eers is daar nog te veel om te verken. Kuba, Jamaika, Buenos Aires. “Ek wil die wêreld platreis. Ons hou van fliek en uiteet. Ons boks graag saam in die gimnasium en geniet adrenalien-aktiwiteite soos bungee en hy het al in ’n hok neergedaal om haaie te kyk.” Hul gunsteling-eetplekke is Sevruga, bekend vir sy seekos, en Carne, bekend vir sy vleis, albei in Kaapstad.

Maar vir nou soek hulle kalmte vir hul wittebrood. “In die son sal ons watersport doen, en ek is mal oor snorkel en kan dit ure aaneen doen. Dit is rustig. Steven verdien kalmte ná sy lyf heeljaar deurgeloop het op die rugbyveld.”

troue
Pret op die dansbaan.
troue
Die mooie Ashanti-landgoed
troue
’n Drielaagkoek met marmerversiering en goue lint, ontwerp deur Emma’s Cakes.
troue
Steven en Pierre-Andrew Baxter, een van sy strooijonkers.
troue
Die gewilde groep The Black Ties het tydens die drankies voor die onthaal die musiek verskaf. Van links is Chad Saaiman, Keeno-Lee Hector en Lloyd Jansen.
troue
Die pragtige Ashanti-landgoed verskaf die perfekte agtergrond vir 'n droomtroue.

Trouplek: Ashanti-landgoed, 021 001 3198 (Kristin), events@ashantiestate.co.za, www.ashantiestate.co.za

Fotograaf: Ryan Graham Photography, 071 444 7716, ryangrahamphotography@gmail.com, www.ryangrahamphotography.com

Videograaf: Dawid Botha, 076 173 0203, www.dawidbotha.co.za

Bruid en strooimeisies se rokke: Galluzzi e Gini, Cristian en Claudio, Cristian 079 428 7942, www.galluzziegini.com

Bruid en strooimeisies se grimering: Corné Visser, 079 765 1789, crnvisser@gmail.com

Bruidegom en strooijonker se pakke: T.M. Lewin, Gayle Pullen, 021 447 7718, www.tmlewin.com

Trouringe: Prins & Prins, Riana Courtis, 021 422 1091, www.prinsandprins.com

Aimee se verloofring: Pura, www.pura.co.za

Wyn: Zorgvliet www.zorgvliet.com, Simonsig www.simonsig.co.za, Graham Beck www.grahambeck.com

Troukoek: Emma’s Cakes, Jenny Mielacher, 083 986 5894, www.emmascakes.co.za

Trougeskenke vir gaste: Fragrance Boutique, Anabela Killin, 081 336 1044, www.fragranceboutique.co.za

Dekor: Baie Goeters, Nicola Kaden, 072 671 5919, www.baiegoeters.co.za

Blomme: Blomstories, Ilse Louw, 082 095 9222, www.blomstories.co.za

Bestuurspan: KDT Comms, Kerryn du Toit, 082 888 2369, www.kdtcomms.com

Sokkies: Toe Porn www.toeporn.co.za

Mansjetknope: Silvery www.silvery.co.za