Wanneer die treffer "Summer of '69" speel, jeuk ons voete om te dans. Ná 33 jaar is dit steeds 'n gewilde liedjie op Suid-Afrikaanse troues. SARIE wou weet wat sanger Bryan Adams se reaksie hierop is. En sy antwoord?

"Dit maak heeltemal sin, ek het nog altyd gedink Suid-Afrikaners het goeie smaak!"

Die 58-jarige Kanadese Grammy-wenner is tans in Suid-Afrika as deel van sy wêreldtoer Get Up. Vanaand tree hy in Durban op en Donderdag kom Kaapstad aan die beurt. Maar dis nie sy eerste keer in Suid-Afrika nie, hy het al 'n paar keer hier kom toer. Wat staan vir hom uit van die land?

"Ek kom gelukkig altyd wanneer dit warm is, so dit staan altyd vir my uit. Maar ek geniet die feit dat Suid-Afrikaners so plat op die aarde is. Julle is nes die Kanadese - julle het baie bos, rowwe terrein, ongediertes en dan is daar die diere ook. Dis 'n grappie," skerts hy.

FOTO Instagram / @bryanadams

Vir byna 40 jaar is Bryan al deel van die musiekbedryf. Hy het 13 albums en 'n Grammy agter sy naam en is selfs al vir drie Oscars benoem. Sy geheim?

"Ek weet regtig nie wat anders ek sou doen nie."

Bryan, wat op 51 die eerste keer pa geword het, gaan Kersfees saam met sy lewensmaat, Alicia Grimaldi, en hul twee dogters, Mirabella (6) en Lula (4), deurbring. Daarna hervat hy sy wêreldtoer. 

"Ek en Jim Vallance (ook 'n Kanadese musikant) het so pas die liedjies klaar geskryf vir die Broadway-weergawe van Pretty Woman."

Die musiekblyspel open in Junie 2018. Die hoofrolle van Vivian Ward en Edward Lewis word deur Samantha Barks en Steve Kazee vertolk. 

Hier's nog van sy antwoorde op ons vrae:

Het jy enige geheime talente?

Ek kan my tong in my neus druk, maar dis nie 'n baie praktiese talent nie.

FOTO Instagram / @bryanadams

Het jy enige fobies?

Snaaks genoeg nie, ek volg gewoonlik my instink en dit red my uit moeilike situasies. 

FOTO Instagram / @Bryanadams

Wat doen of eet jy ná 'n vertoning? 

Enigiets op die spyskaart. Ek eet nie voor 'n vertoning nie, en is dan rasend honger agterna.

FOTO Instagram / @Bryanadams

Dink jy kunstenaars van vandag skryf nog goeie lirieke?

Beslis! Kyk maar net vir Coldplay, Ed Sheeran, Lady Gaga ... hulle is almal goeie liriekskrywers.