Verlede November, toe die sanger Jak de Priester (38) by Afrikaans is Groot in Kaapstad opgetree het, kry hy ’n oproep van sy vrou, Michelle (39). Sy is swanger. . . Aanvanklik was hy effe geskok, maar dié glips beskou hulle as 'n gróót wonderwerk.

"Eers is jy bietjie geskok, maar dán besef jy dit gebeur seker met ’n rede, dit is eintlik ’n wonderwerk. . .’’

Die Pretoriase sanger Jak de Priester en sy vrou, Michelle, verwag in Julie hul derde baba. "Ons het laterig ouers geword. Ná die geboortes van Jamie (5) en Mija (sy word in Julie 4) het ons gedink ons is ouer ouers en daar gaan nie nog wees nie. Tog het ek altyd omgekyk as ek bestuur en as ek die spasie in die middel van die agterste sitplek sien, het ek gevoel: daar moet nog enetjie sit. Kinders het geldelike implikasies. Jy bly maar ’n sanger wat rondry van dorp tot dorp en liedjies verkoop. Jy is nie skatryk nie. Maar ’n kind is ‘n geskenk van die Here ...’’

Hy werk hard. Tussen al sy shows deur het hy opgeneem aan sy nuwe CD (17 nuwe snitte, almal deur hom geskryf) wat in Februarie uitgereik word. "Ek dink nog aan ’n naam daarvoor. Dalk Die lewe is ’n legkaart.’’ Hy bied ook die kykNET-dokkie-reeks Reis na gister aan waar hy bekendes soos Sandra Prinsloo, Nataniël en Leon Schuster se huise besoek (dit het 13 Januarie afgeskop en duur 3 maande).

"Michelle voel bietjie moeg van die swangerskap, maar sy is nie naar nie," vertel hy. "Dit is maar omdat ek so baie weg is van die huis en sy alles moet doen. Sy het boonop heeltemal herstel van baie ernstige beserings aan haar regterarm wat sy in November 2012 opgedoen het in n gru-motorongeluk op die N2, 40 km weg van Uvongo in KwaZulu-Natal. (Lees meer oor dié ongeluk HIER). Dokters was bang sy sou nie weer die gebruik van haar arm terugkry nie.’’

Jak en sy gesin in 2012, net ná die ongeluk Jak en sy gesin in 2012, net ná die ongeluk

Hul kinders en haar ma, Bettie du Toit, en hul huishulp, Lydia Ntje, en haar 4-jarige dogtertjie, Dora, het saamgereis tydens die aaklige ongeluk. (Haar ma is oorlede).

"Dit is ’n wonderwerk. Sy kan weer alles doen wat sy vroeër gedoen het. Sy kan die kinders optel. Haar littekens, ná hordes operasies, vertel hul eie verhaal.’’

Die twee kleintjies is ook baie opgewonde oor die nuweling en het besluit die nuwe baba se naam moet "Flaminkie" wees. "Ons gaan nou nie dié naam op die paspoort laat druk nie, maar ons praat lustig saam van Flaminkie. Ek hou nogal van unisex-name. Iets soos Chrissie of Jamie. Dit is so belangrik om vir jou kind die regte naam te gee. Een waarmee hy of sy positief die wêreld mee kan ingaan. Jy wil byna hê mense moet dit in Afrikaans, Engels en Duits kan uitspreek.’’

verskaf Jak en sy gesin vandag

En hy soek nie verrassings nie. Met die volgende skandering iewers in Februarie, sal hulle vasstel of dit ’n dogtertjie of seuntjie gaan wees. "Ons is baie bevoorreg om ’n dogtertjie én seuntjie te hê. Ek dink ’n dogtertjie is fantasties. Ek het al ’n liedjie geskryf oor boyfriends wat eendag vir my dogtertjie wil kom kuier.. . ’n pa en ’n dogtertjie se verhouding is baie spesiaal. Maar dogtertjies is so weerloos. As jy so aan die toekoms dink, dan dink jy net jy moet ’n dogtertjie báie beskerm. So eintlik moet dit dalk ’n seuntjie wees. . .

"Ons sien uit na die kleintjie. Ons is ouer, rustiger en weet wat om te verwag. En die kleintjies wil ook help. As jy jonger is, is jy soms bietjie angstig oor ’n nuwe baba. Nou is dit ’n gesinspoging.’’

Lees nou