Die vrou langs hom lag en roep uit: “Ag Johan, jy’s ’n genie!” Sy weet wat baie Suid-Afrikaners nié weet nie – hoe slim die liedjieskrywer, sanger en vervaardiger Johan Vorster (32) eintlik is.

Vir die meeste mense is hy net die stil, mooi outjie van die Afrikaanse boyband Eden, die een met die soet seunsgesig, die een wat die laaste tyd stil-stil van die verhoog verdwyn het. Maar hierdie skoongesig-kêrel is die brein agter meer as 30 groot Afrikaanse musiektreffers.

“Toe stop my hart”, “Jy soen my nie meer nie”, “Jakkals trou met wolf se vrou”, die opspraakwekkende “De la Rey” (saam met Sean Else), “Tyd om te trek”, noem maar op. Die meeste liedjieskrywers stoei hul lewe lank om één so ’n treffer te kry. En dis nie al nie, Johan weet hoe om met dié talent van hom te woeker.

’n Paar groot name in die Afrikaanse musiekbedryf het nou kontrakte met sy platemaatskappy, Johan Vorster Songs, geteken: Karlien van Jaarsveld, Lianie May en Bok van Blerk – sangers wat mense in hul massas lok, CD’s van rakke laat vlieg.

Johan is ook betrokke by die Afrikaans is Groot-musiekkonsert wat in Oktober vanjaar aangebied word en waarvan SARIE en Rapport die mediavennote is.

In die Augustus-uitgawe van SARIE praat Johan openhartig oor 'n donker tyd in sy verlede. Lees die volledige onderhoud in dié uitgawe.

SARIE TV: Johan het spesiaal vir sarie.com hierdie video gemaak en ons in sy huis in genooi om eksklusief te wys hoe hy een van Karlien van Jaarsveld se nuutste treffers klaarskryf.