In Inception vertolk Leo die rol van Dom Cobb, 'n geniale en slinkse dief wat geheime steel uit mense se onderbewuste terwyl hulle droom. Hier is solank 'n voorsmakie van SARIE se onderhoud met hom deur Bartek Kolodziej, wat eksklusief vir ons uit Europa onderhoude met groot sterre voer:

Vir Inception het jy saam met Christopher Nolan, die regisseur van die Batman-fliek The Dark Knight, gewerk. Was dit pret?
Die hele projek was baie geheimsinnig en het spel besonder moeilik gemaak. Christopher het die draaiboek geskryf en in droomwêrelde gedelf. Dit het net vir hom sin gemaak. Nie een van ons het werklik geweet waaroor die storie gaan nie. Party akteurs het nie eers die hele teks gekry nie. Selfs toe ek die teks lees, het ek ook nie geweet wat aangaan nie! Jy moet jou verbeelding laat gaan en dan werk dit.

Titanic was een van die grootste flieks ooit en jy het oornag 'n sensasie geword. Sukkel jy steeds om daardie beeld af te skud?
Ek moet erken dit was baie moeilik. Ek het nie geweet hoe om die gewildheid te hanteer nie. Sonder daardie rol sou ek nie so gewild geword het nie, so ek is baie dankbaar. Maar dit is juis wat ek nié wou gehad het nie - mense wat berserk raak as ek by 'n hotel uitstap. Ek wou as 'n ernstige akteur gesien word!

Titanic was dit regtig 'n mal tyd: Mense het my gejaag, gesoen, agtervolg. Saam met die roem het ek begin dink ek het baie mag en ek het amper in 'n fantasiewêreld begin leef. My ouers het my geleer om nederig te bly, maar dit was moeilik. Gelukkig het ek gou wakker geskrik.

Miljoene vroue dink jy is sexy. Dink jy ook so?
Natuurlik! (Hy lag.) Wel, dis seker gaaf as mense dink jy is nie te lelik nie, maar die uiterlike is nie vir my belangrik nie. Wat agter die mooi gesiggie aangaan, die karakter, dít is belangrik. Met van my vorige meisies was ek nie werklik verlief op hul skoonheid nie, maar wel op die persoon. Dit maak tog geen sin om die mooiste meisie op aarde te hê, maar julle het niks vir mekaar te sê nie?

As jy bietjie moet wegkom van alles, waar kan jy die beste ontspan?
Sjoe, dit is moeilik. Seker in my tuin? Dit is omtrent die enigste plek waar ek nie gesteur word nie. Selfs op 'n afgeleë plek in Suid-Afrika (tydens 'n vorige besoek) het mense met hul selfone foto's van my geneem. Daar is nie 'n plek waar ek kan wegkruip nie.