In 2004 het aanhangers van Egoli die eerste keer kennis gemaak met Mandi du Plooy (nou Baard), toe sy as die borrelende Lara haar verskyning in die destydse M-Net-sepie gemaak het. Nou keer die ma van twee ná nege jaar terug om weer in ’n sepie te speel. Dié keer as Lienkie du Randt, ’n enkelma, in kykNET se gewilde Getroud met rugby.

FOTO Verskaf

Die tyd was reg, verduidelik Mandi oor haar besluit om na die sepiewêreld terug te keer. “My kinders, Jeandré en Sumé, is bietjie ouer. Boonop het my hart verlang na die medium waarvoor ek so lief is,” het sy aan SARIE.com gesê.

Sy kon maklik weer op die sepiefiets klim. “Getroud met rugby is ’n geoliede masjien wat steeds ’n familiegevoel behou. Ek het ook dadelik van my karakter gehou.”

Op stel van Getroud met Rugby. FOTO Facebook / Mandi Baard

Haar hart het aanvanklik vir Lienkie gebreek. “As ek dink hoe swaar sy as enkelouer moes gekry het. En dan op so ’n jong ouderdom. Ek het soveel respek vir enkelouers wat hul hart en siel insit om vir hul kinders te sorg.”

Volgens Mandi is Lienkie opreg en eerlik. “Sy soek die beste vir haar kind, maar sal nooit ander te na kom nie. Sy het my weer gewys hoe onselfsugtig ’n ma kan wees.”

Mandi, wat getroud is met sanger Schalk Baard, erken ma-wees het haar lewe handomkeer verander.

Mandi en haar twee kinders. FOTO Instagram / Mandi Baard

“Daai twee lyfies laat my op ’n daaglikse basis besef wat werklik belangrik in die lewe is. Geen aardse besittings kan vergelyk word met die waarde van familie, jou kinders se lag, blydskap, drukkies en soentjies nie! Kinders sit die lewe in perspektief.”

Sy het baie by haar spruite geleer. “Jeandré en Sumé herinner my dat geen berg te hoog is nie, veral as jy die regte ingesteldheid het. Lag is die beste medisyne in die wêreld.”

Vanaand gaan kykers vir die eerste keer vir Lienkie in Getroud met rugby sien, wanneer sy by haar ou universiteitsliefde Blitz Vermeulen (Werner Coetser), losskakel van die Stryders, ’n draai kom maak.