"Ek versamel álles – verkoop nie eens ’n ou kar nie. En nou moet ek van my vrou ontslae raak! Ons was tien jaar getroud, twaalf jaar saam. Dis nie iets wat jy net só kan wegsmyt nie." Mathys Roets se lang lyf is opgekrul in ’n plastiek-restaurantstoel en sy kenmerkende wye glimlag flits gereeld. Net sy hande, wat aanmekaar deur sy hare kam, weerspieël die sterk gevoelens agter sy woorde. Hande in die hare, letterlik en figuurlik. Want hy wou nie skei nie. Oor die kinders. Omdat hy nie gedink het dinge is só sleg tussen hom en Karen nie. Hulle het nie eens vreeslik baklei nie. Verby mekaar geleef, ja. Maar hy het aanhou glo hulle kan dit láát werk. Toe nie. Mathys het in Augustus verlede jaar uit hul huis in Centurion naby Pretoria getrek. Toe ons gesels, was hulle anderhalfweek amptelik geskei. Desember was die gesin nog saam op vakansie – ook maar net omdat hulle die reis na Oostenryk lank reeds beplan het. Hulle was in ’n groep saam met vriende en familie. Die doemprofete het gesê hier kom ’n groot gemors. Maar inteendeel: Die reis het gehelp om die lug tussen hom en Karen ’n bietjie te suiwer. "Die eerste dag of twee van die vakansie was ek moeilik. Eke is nie ’n ou wat sommer moeilik raak nie. Maar ek was vies: Vir myself, die omstandighede, dat ek nou tye moet reël om my kinders te sien." Twee blondekoppies. Yuan (5) lyk na hom, máér. Aard ook na hom: ’n toeskouer eerder as ’n deelnemer, gelukkig met sy eie geselskap. Liam (9) is die woelwater. Albei het Karen se oë. Potblou. Sy lang vingers werk deur sy hare. "Dis weird, ons huwelik het moeiliker tye oorleef. Maar jy kom op ’n punt waar julle mekaar verkeerd begin opvryf, en alles wat die ander een sê as kritiek beskou. Tot onlangs nog het ek gedink dit sal nie regtig gebeur nie. Karen het vantevore die kinders gevat en vir drie maande uitgetrek. Ons het oor en weer gekuier. Een aand was hulle sak en pak terug.

"Van ons vriende het gedink ons is nie goed vir mekaar nie. Veral Karen steek nie haar gevoelens weg nie. Maar ons kon ’n ernstige meningsverskil hê en ’n halfuur later is dinge weer reg. Ek kan nie een keer onthou wat ek langer as twee uur nie met haar of sy nie met my wou praat nie. Ons het goed vinnig uitgesorteer en aangegaan."

Maar skielik wou die ratte nie meer "inmekaardraai" nie. En hoe graag julle ook al dinge wil regmaak, julle kan nie teen die grein gaan van wie en wat julle is nie.

Mathys is weens sy werk baie weg van die huis af. Karen, ’n prokureur, werk ook hard. Hul loopbane is boonop wêrelde uitmekaar. Toe begin dinge uitmekaarval.

Die kinders se behoeftes is nou voorop in albei se gedagtes.

"Ons het hulle vinnig by terapeute gekry – mense wat kan kyk hoe hulle dit hanteer. Die groot ding is dat hulle kan sien hul ouers is fine, dit gaan goed met ons albei. Liam verstaan dinge beter. Yuan wens dikwels ons kan almal nog saam in een huis woon. Dit breek jou hart."

Hoop jy dinge kan nog regkom?

"Dit is maar altyd in jou agterkop. Die oggend toe sy my gedagvaar het, het sy gebel en gesê sy het dit byna gelos. Ons kán dinge uitwerk. My grootste frustrasie . . . ek kan nie sien waarom ons geskei het nie. Dis waarom ek so vreeslik kwáád was. “Ek was vies: Vir myself, die omstandighede, dat ek nou tye moet reël om my kinders te sien "Elke keer wanneer ek die kinders gaan oplaai of met hulle oor die foon praat, elke keer wanneer ek moet hoor hulle het iets gedoen waarvan ek nie deel was nie, is ek van vooraf gefrustreerd en woedend. Om só uitgesluit te voel is verskriklik. "My gesin was die een ding waarop ek die trotsste was. Jy’s net só magteloos. Dalk moes ek teen die egskeiding baklei het. Dis my groot spyt . . . Maar ek is nie ’n fighter nie en dit sou in daardie stadium nie gehelp het nie. Ons was albei te hardkoppig." Daar is nou ’n ander man in haar lewe, maar dís nie die oorsaak van die egskeiding nie. Ook hy het iemand anders ontmoet, maar Mathys wil nie nou meer oor haar verklap nie. Hy gee sy skewe glimlag. "Ek het nie gedink ek sal gou weer by iemand betrokke raak nie. Dit het net gebeur. Ek glo nie dat twee mense vir mekaar bedoel is en daarom gaan alles van daar af reg wees nie. Julle moet aanhoudend aan die verhouding werk. Mense het meningsverskille, dis nie die einde van die wêreld nie. Ons het dit dalk te laat besef." Hoe verduidelik jy vir die kinders daar is ’n nuwe vrou in jou lewe? "Ek loop maar suutjies-voet, versigtig. Gee hulle kans om haar op ’n natuurlike manier te leer ken, betrek hulle by die lekker dinge wat ons doen. Ek is nie lieftallig met haar voor hulle nie. Hulle hoef nie nou al daarmee gekonfronteer te word nie." Hy wil die doemprofete verkeerd bewys: Ná ’n egskeiding kán jy ’n goeie verhouding met jou eks hê. "Ons gaan nou nie beste pêlle wees nie, maar ons hoef mekaar nie af te kraak nie. Veral Liam is baie op ons emosies ingestel. Dit sal só onregverdig wees om hom te gebruik om mekaar by te kom. Ons los ons persoonlike kwessies as hulle by is, die klein jaloesies. Ons kan hulle nie nog verder emosioneel verdeel nie." Hy en Karen het anderdag gekyk hoe Liam gewigstoot. Sáám langs die baan gestaan. Albei is maer; die ander pa’s voormalige gewigstoters, is gróót. En toe wen Liam. Mathys was laat en Liam het reeds twee keer gestoot. "Hy het my gesien en ek het beduie: Go . . . go . . . toe stoot hy die verste nóg. Hy kon dit nog nie weer regkry nie. "Ons moet sáám daar wees vir die kinders. As ek aan die een kant van die baan staan en sy aan die ander kant . . . dit sal hulle in twee skeur. Hulle moet met vrymoedigheid kan praat oor Ma én Pa. "Ek en Karen sal nie iets ondermyn wat die ander een sê of doen nie. Nóú nog minder as toe ons getroud was." Hy sukkel nog om gewoond te raak daaraan dat hy nou hoofsaaklik ’n "naweek-pa" is. "Dis net só onnatuurlik. Ek kan hulle bedags sien soos ek wil, hulle smiddae by die skool gaan haal om by my te kuier. Maar dis nie dieselfde as om elke dag by die huis te wees nie. "Saans as ek laat tuisgekom het, het ek gaan kyk of hulle toegegooi is. Hulle het nie eens geweet nie, maar dit was ’n belangrike deeltjie van my lewe. Dis nou net weg. Weens my werk het ek nie beheer oor my tyd nie: Hulle sal die naweek by my wees en dan is ek nie daar nie. My ouers woon by my en kyk dan na hulle. ’n Mens is dankbaar dat jy in dié moeilike tye werk het. Maar om dit met my persoonlike lewe te versoen is só moeilik." “Ek het nie gedink ek sal gou weer by iemand betrokke raak nie. Dit het net gebeur Hoe het die egskeiding jou loopbaan beïnvloed? (Weer hand in die hare): "Aanvanklik voel jy byna skuldig om op te tree, want jou gedagtes is op ’n ander plek. Maar ek was in dié tyd met soveel projekte besig dat ek nie oor my emosies kon sit en tob nie." (Hy was onder meer mede-aanbieder van Kamp dit uit, wat tot vroeg in April op kykNET te sien is, en het ’n reeks van drie CD’s, Masters of Song, uitgereik. As student het hy dié liedjies van Cat Stevens, Neil Diamond en Roger Whittaker in kroeë en restaurante gesing.) "Ek is nie ’n ou wat sal verval in ’n depressie wat my loopbaan beïnvloed nie. The show must go on." *Besoek www.mathysroets.co.za. Lees ook die artikel oor algemene vrae tydens egskeiding: My eks kry nie koers.