In 2006 het Vicky Davis, toe net 25 en oë vol sterre, op die stel van 7de Laan verskyn. Sy het stories gedroom, geleef en gespeel.

Vir twee jaar kon kykers sien hoe Vicky die karakter Tessa Krige se kelnerin-sneakers volstaan – ’n karakter wat ná al die jare nog onthou word. Tessa was immers deel van ’n tragiese liefdesverhaal. Sy het haar hart verloor op die deli-eienaar Bart Kruger (Neil Sandilands), net om uit te vind hy het breinkanker. Op sy sterfbed sou hulle Meneer en Mevrou Kruger word. 

Nou, 14 jaar later, keer Vicky terug na die wêreld van sepies – ’n genre wat sedertdien baie verander het. Op 13 November gaan kykers haar in Suidooster ontmoet as Robin, ’n vrou wat ’n fout gemaak het en nou alles sal doen om haar gesin weer bymekaar te kry. En Vicky waarsku: “Sy is ’n katjie wat jy nie sonder handskoene wil hanteer nie.”

Die talentvolle aktrise en TV-aanbieder het SARIE.com se vrae beantwoord.

Verklap ’n bietjie meer oor jou karakter se verskyning in Suidooster se Ruiterbosch?

Robin is ’n heerlike karakter! Sy is ’n suksesvolle beroepsvrou en ma. Maar sy is ook ’n vrou wat ’n fout gemaak het en nou met alle mag wil regmaak wat sy verbrou het. Robin is al sewe jaar getroud met Lukas (Louw Venter) en hulle het ’n seuntjie, Pieter (Daniel Snyman). Sy het ’n jaar tevore besluit om haar gesin te los vir ’n werksgeleentheid in Johannesburg. Maar toe besef sy dit was ’n fout en kom terug om dinge met haar man en kind reg te stel. Haar man het egter aanbeweeg en verlief geraak op OosWes se bestuurder Bianca Fourie (Simone Biscombe). Maar Robin sal enigiets doen om haar gesin terug te kry en dan begin die drama!

Sy klink na ’n komplekse karakter.

Robin is koel en berekenend, maar ook baie onvoorspelbaar en volatiel, wat haar gevaarlik maak. Sy is nie ’n katjie wat jy sonder handskoene wil hanteer nie, sy sal hard veg vir dit wat sy wil hê. Sy is nie bang om oor mense te loop nie en sal vuil speel as dit moet. Robin is wel opreg lief vir haar kind en man en werklik jammer oor haar fout. Haar klerekas was ’n hoogtepunt vir my. Sy is baie stylvol en dra fantastiese snyerspakkies waaroor ek gevrek het. Karakters soos sy kom min oor ’n mens se pad, so dit was vir my heerlik om haar te speel.

Vicky Davis op die stel van Suidooster saam met Louw Venter (agter), Daniel Snyman en Simone Biscombe. FOTO Verskaf
FOTO Verskaf


Dis weer die eerste keer in jare wat jy in ’n sepie speel. Hoe het dit gevoel om weer op stel te wees?

Ek het dit ongelooflik geniet. Ek het die laaste paar jaar meer TV-aanbiedinge en -reekse gedoen en lanklaas multi-kamera-werk gedoen, maar dit was soos om ’n ou bekende jas weer aan te trek! Wat mense dalk nie weet nie, is ek was voor 7de Laan ook lank by Backstage en het ná 7de Laan ’n ruk lank in Egoli gespeel, so daar het baie “muscle memory” weer ingeskop. Maar my ervaring by Suidooster het werklik uitgestaan bo, want die hele produksiespan was net lieflik! Ongelooflik professioneel en ontspanne. Wonderlike mense voor en agter die skerms wat hul werk baie ernstig opneem.

Het die medium baie verander?

Beslis! ’n Sepie soos Suidooster is belangrik vir ons Suid-Afrikaanse samelewing. Wat ek veral geniet is dat Suidooster se storielyne realisties is. Die stories is real en die karakters ook. Die taalgebruik is hoe mense regtig praat en dit is bemoedigend dat Afrikaaps ook op ons skerms gehoor en gesien word. Iets anders wat heeltemal nuut is sedert my 7de Laan-dae en ook Pasella se heyday, is die impak van sosiale media. So 10 tot 15 jaar terug is daar nie gefokus op followers nie, jy was gewild in die gedrukte media en het werk gekry as jy jou werk goed gedoen en talent gehad het. Dit bly vir my vreemd dat jy nou kan rolle losslaan bloot net oor jy oulik in die virtuele wêreld is. Maar dit is natuurlik wat die getalle en advertensies bring! Gelukkig kan dit darem aangewend word vir baie goeie doeleindes ook.

FOTO Verskaf

Jy is veelsydig – ’n skrywer, regisseur, aktrise, aanbieder én vervaardiger.

Ek is van 2021 af weer voltyds vryskut en hoop om lekker op my toneelspel ook te kan fokus so deur alles wat ek doen. Ek dink ek het nou lank genoeg daardie talent van my verwaarloos! Maar ek het oor die jare baie gediversifiseer in my loopbaan. Ek was vir vier jaar die programbestuurder van die maatskappy sonder winsoogmerk The Cape Town Music Academy, wat spesifiek ten doel gehad het om kunstenaars in die Wes-Kaap te bevorder. Meeste mense ken my as aktrise, TV-aanbieder en stemkunstenaar, maar ek is ook ’n vervaardiger en regisseur van onder meer TV-programme en verhoogproduksies, ek is skrywer en aanbieder van redenaarswerkswinkels (nagraadse akademiese aanbiedings en korporatief). En ek is altyd baie aktief met opvoeding en ontwikkelingsprogramme in die kunste wat die jeug, werkskepping en positiewe sosiale impak bevorder.

 

Watter projekte is in die pyplyn waaroor jy meer kan verklap?

As vervaardiger is ek tans hard aan die werk saam met die Suidoosterfees en ons bied ’n baie opwindende inryteater-konsertreeks aan by Atlantic Film Studios in November – daar is lewendige konserte met Emo & Loukmaan Adams, Marc Lottering, Francois van Coke en Early B, PJ Powers en die Tygerberg Kinderkoor en nog vele meer wat jy uit jou kar kan aanskou soos in die ou dae. Ek neem ook oudioboeke op saam met die baie opwindende nuwe Afrikaanse oudiobiblioteek-luister-app BIB – ons reik binnekort Chanette Paul se Lira (uit die Vyvervrou-trilogie) uit, wat deur my voorgelees word. Die ander twee boeke in die reeks is gelees deur Therese Benade en Roelien Daneel, so dis ’n lekker luisterervaring.

Vicky is in 2021 weer voltyds vryskut en sy kan nie wag om weer die wêreld van toneel ten volle te betree nie. FOTO Instagram / Vicky Davis

2020 was ’n uitdagende jaar vir mense oor die wêreld heen. Tog was dit ook ’n tyd van introspeksie. Watter insigte het jy hierdie jaar gekry, oor jouself en jou menswees?

Behalwe dat ek en my man, Schalk, as eerstens ouers en tweedens werkers in die vermaaklikheidsbedryf maar soos almal baie uitdagings ervaar het, het my pa ook ’n hartaanval gehad in hierdie tyd. Hy is gelukkig nou oukei, maar is nog aan die herstel en my ouers is steeds in isolasie. Ek dink dit en die hele lockdown-ervaring het my die waarde van familiebande en vriendskappe geleer. Ek het geleer dat ek sterker is en meer kan vat as wat ek dink, maar ook dat mens baie mooi van hier af sal moet fokus op wat belangrik is en fyn gaan moet beplan. ’n Mens sal nie nou meer net kan “go with the flow” nie, want ek is bevrees ek dink nie 2020 is noodwendig ons grootste uitdaging nie, ek vermoed dinge gaan nog moeiliker raak voor dit makliker raak.

Jy is ook die skrywer van kinderboeke. Kan ons binnekort ’n nuwe boek verwag? En wat is die boeke wat jy graag saam met jou kinders lees?

Sjoe, dit is nou werklik een van my drome! Om binnekort weer ’n boek te kan uitbring. So, as tyd en die lewe my die luuksheid van ’n boek skryf sou gun, dan is die antwoord beslis ja. Om die waarheid te sê, van alles is dit eintlik al wat ek heeldag sou wou doen! Ons lees ’n groot verskeidenheid boeke vir ons kinders. Gewoonlik wissel ons fiksie (leesboekies) af met die feitlike (prettige ensiklopidieë). Ek is gelukkig om twee goeie vriendinne in die kinder- en jeug-uitgewerswese te hê, so ek bedel gereeld boekies daar! Omdat my kinders Engels skoolgaan, is dit vir my baie belangrik om vir hulle Afrikaans te lees. Op hulle bedkassies op die oomblik is twee gunsteling-boekies, Nellie en Sion Beletha (LAPA) en Die Hasie van Fluweel (NB Uitgewers).

   
Vicky en haar musikant-man, Schalk Joubert, is die trotse ouers van twee kinders Lira en Jean-Luc. FOTO Instagram / Vicky Davis
 - Op 13 November maak Vicky haar eerste verskyning in Suidooster!