Dit het klein begin. Met ’n kompliment. “Jy’t ’n mooi rok aan.” En: “Oe, jy’t darem so ’n klein lyfie.”

En later: “Jy’t mos gedans, is dit hoe jy jou figure behou? Jy’s seker baie flexible ...” Voor Sue Pyler haar kon kry, het haar senior kollega se opmerkings begin eskaleer: “So wat sê jou partner van jou flexibility?” “Bevredig jou partner jou darem?” En skielik, een oggend: “As jou partner jou nie gisteraand bevredig het nie, moet jy net een aand saam met my deurbring, dan wys ek vir jou wat om te doen ...”

Altyd onder luide gelag van kollegas. Onlangs kyk Sue die fliek Bombshell wat die verhaal vertel van TV-ankervrou Gretchen Carlson wat Fox News-baas Roger Ailes vir seksuele teistering gedagvaar het.

En soos die krediete oor die skerm rol, besef sy: “Dis my storie dié. Ek wil dit met ander deel.” Seksuele teistering in die werkplek het soveel nuanses – sy wil vroue bewus maak daarvan, verduidelik Sue. “En dis nie net mans wat hulle daaraan skuldig maak nie ... ’n vrou het dit aan my gedoen.”

Toe sy haar prokureur-vriendin vertel dat sy ’n klag van seksuele teistering teen ’n senior persoon, Bertha Kriel*, wil indien, is sy gewaarsku: “Is jy gereed om ge-grind te word? Want jy gaan soos die skuldige party voel. Dis hoe sulke sake uitspeel.”

Sue wás gereed. Sy wou dit doen. Nie soseer vir haarself nie, maar veral vir ’n jonger kollega wat daagliks uitgelewer was aan die vrou se teistering.

Letterlik enkele ure voordat die interne tugverhoor teen haar sou begin, het Bertha Kriel bedank met onmiddellike ingang. ’n Enorme verligting vir Sue, hoewel sy verras was oor van haar kollegas – mans én vroue – se reaksie.

“Party het my kwalik geneem; selfs gevra hoe ek iemand se werk op die spel kan plaas oor my eie insecurities. Dít komend van mense wat elke dag getuies van haar gedrag was.”

Bertha se opmerkings teenoor Sue was altyd ten aanhore van almal op kantoor, wat oënskynlik haar “grappies” geniet het. Soms sou sy dit sommer so oor twee lessenaars na haar skreeu.

Ander kere sou sy na haar toe stap: “Sjoe, jy het so ’n dun middeltjie. Kan ek my hande om jou middeltjie sit?” As dit ’n man was, het die rooi ligte begin flikker, maar omdat dit ’n vrou is, staan jy nou maar verleë daar terwyl iemand wat jou senior is, jou middel “meet” en almal op kantoor daaroor lag.

Die opmerkings het elke keer net so bietjie meer suggestief geraak, die lyne elke keer net effens meer ge-blur, vertel Sue. “Dis moeilik om te peil. As jy vir my sê ek het ’n mooi bra aan, is dit ’n kompliment van een vrou vir ’n ander een, of het jy pas ’n lyn by die werk oorgesteek? Sy was my senior, ons het nie ’n persoonlike verhouding of vriendskap gehad nie.”

Sue het al hoe meer ongemaklik gevoel. “Ek het soms nie geweet waar om my kop in te druk nie. Almal het gelag omdat ek niks gesê het nie, maar hoe moes ek reageer?”

Vir iemand wat van kleins af haar sê kon sê – sy is steeds die enigste ATKV-redenaarskampioen wat gewen het in al drie kategorieë: beste redenaar, beste onvoorbereide toespraak en beste taalgebruik – was dit eintlik ondenkbaar om “sprakeloos en sonder ’n comeback” te wees.

“Maar ek was die nuweling op kantoor, ek het nie die werkkultuur geken nie en my kollegas se reaksie het dit duidelik gemaak dis hoe dinge daar gedoen word. Dit was die norm. Die mense wat nie [vir die ‘grappies’] gelag het nie, het gemaak asof hulle dit nie gehoor het nie.” Dis soos die toneel in Bombshell toe Ailes vir ’n potensiële werknemer sê sy moet in die rondte draai sodat hy haar bene kan sien. En toe sy vra hoekom, sê hy: “Want dis hoe dit hier werk.”

“Een of twee keer het Ben*, ons grootbaas, vir Bertha, ’n goeie vriendin van hom, vermaan: ‘Nee, nou gaan jy darem bietjie ver’, maar dan het sy dit laggend afgemaak met ’n: ‘Ja man, oukei’,” vertel Sue.

Volgens haar het sy geswyg, eerder as om kapsie te maak, want “jy word grootgemaak om te luister na ’n gesagsfiguur”. En sy was so opgewonde om ’n voet in die deur te kry. “Dit was ’n kans om waardevolle ervaring op te doen. Bertha was boonop goed in haar werk. My toekoms was in ’n groot mate in haar hande. As vryskut sou ek tweede kom as ek iets sou sê, môre is daar iemand anders om jou te vervang,” verduidelik sy.

Sy het ook ander kontrakwerk gedoen en was net sekere dae op kantoor. Op ’n dag het Bertha haar skielik met drukkies begin verwelkom. Sy het nie ’n kans laat verbygaan om haar só te kom “groet” nie. Eers was dit net ’n klein drukkie, toe het die omhelsings al hoe stywer geraak, totdat dit later soos ’n mini-rugmassering gevoel het.

Sue het haar begin vermy. “Ek het kontak met haar tot die minimum beperk, en huis toe gegaan sodra my werk klaar was.” In daardie tyd het Sue bewus geraak van Karla*, “nog jonger en kleiner as ek”, wat ook in Bertha se visier was. “Sy het duidelik net jong, petite vroue geteiken. Ek het haar nooit so sien optree teenoor ouer kollegas nie. Karla was elke dag uitgelewer aan haar. Bertha sou by haar lessenaar agter haar staan en haar skouers vryf terwyl hulle praat. Karla se lyftaal was so ongemaklik, sy het amper gevries daar gesit. Ek het eenkeer gesien hoe Bertha in haar hand vir haar ‘wys’ wat sy aan haarself kan doen.”

Sue het besluit tot hiertoe en nie verder nie. “Iemand moes iets doen. Ek het geweet Karla kon weens haar persoonlike omstandighede nie bekostig om iets te sê en die risiko loop om haar werk te verloor nie.”

Sue het ammunisie benodig om ’n klag by die mensehulpbronafdeling in te dien, anders sou dit in “’n situasie van hy sê, sy sê” ontaard. Ná ’n private koffie-afspraak met Karla het Karla ingestem om in camera te getuig. Sue het ook twee manskollegas in haar vertroue geneem wat bereid was om te getuig.

Twee dae nadat sy met haar prokureur gekonsulteer het, het Sue onverwags die bewys gekry wat sy nodig gehad het.

Bertha moes haar namens Ben na ’n dringende vergadering met die mensehulpbronafdeling vergesel. “Op pad het sy die gewone innuendo’s kwytgeraak, maar ek het net my skouers opgehaal, ek was onrustig oor wat die doel van die vergadering was wat Ben aangevra het – en nou was hy nie eens daar nie.” Daar gekom, was die personeel in die afdeling onbewus daarvan dat iets geskeduleer is. Sue se intuïsie het vir haar gesê iets is nie reg nie, en sy het haar selfoon se stemopnemer aangeskakel om die vergadering op te neem.

Terwyl hulle voor die kantoor vir Ben gewag het, het sy die deurslaggewende bewys vasgevang. Doodse stilte vir 90 sekondes. Dan sê Bertha: “Ek hou van jou skoene.” Sue, beleefd: “Dankie.” Bertha: “I would f_k you just with your shoes on.” Sue se “verstand het gaan stilstaan” toe sy dit hoor. Maar minute later is hulle ingeroep vir die vergadering, waar hulle ingelig is dat van die nuwelinge se kontrakte beëindig is – Sue s’n inkluis.

Al was sy haar werk kwyt, wou Sue met die klag voortgaan. Die personeel in die mensehulpbronafdeling se oë het gerek toe sy sê dis ’n vrou – hulle het nog nooit so ’n saak hanteer nie. Ben het “borrels gehap soos ’n vis buite water” en ontken dat hy bewus was van ontoepaslike gedrag.

Bertha is geskors, hangende ’n ondersoek. Die volgende twee weke, totdat die tugverhoor sou begin, was van die moeilikste tye in haar lewe, vertel Sue.

“Ek moes steeds elke dag met my ander werk voortgaan, maar binne my het dit gebreek. Daar het ’n stryd in my gewoed: Doen ek die regte ding? Doen ek dit om die regte redes? Wil ek voortgaan noudat ek nie meer daar werk nie? Ek het nog nooit so baie na die Bybel gegryp vir antwoorde nie.”

Die groot vraag was of al dié trauma die moeite werd was. Uiteindelik het sy besluit dat sy moet voortgaan – ter wille van Karla, wat steeds daar gewerk het. Al het die sessies met die mensehulpbronafdeling haar na aan trane gehad – “en ek is glad nie ’n huiler nie”. Sy is met vrae gepeper, asof sy die een is wat iets verkeerds gedoen het. Haar reaksies is met ’n vergrootglas bekyk.

“My prokureur het my op sulke vrae voorberei, maar dit het dit steeds nie makliker gemaak nie. Hoekom het jy dit nou eers aangemeld? Wanneer het dit begin? Wat het jou ongemaklik gemaak? Hoekom? Wat was jou reaksie? Het jy vir haar gesê? Het jy vir haar baas gesê? Hoekom het jy haar laat begaan? Het jy saamgelag? Hoekom?”

Haar sielkundige – ook ’n vrou – het haar vir die verhoor voorberei. “Vir iemand wat nog nooit deur so iets is nie, was al die inligting oorweldigend – hoe ek moet sit, asemhaal, aantrek, praat, vrae beantwoord ...”

Sy het die aand voor die verhoor sommer aan die huil geraak. “Ek het vir myself gesê ek moet nou sterk wees. My ma het my ook geleer as jy iets aanpak, dan druk jy deur tot die einde.”

Die volgende oggend was Sue al so te sê op pad toe sy ingelig word oor Bertha se bedanking. Die saak is uitgegooi. “Daar was niks wat hulle verder kon doen nie.”

Al was die ervaring traumaties, is Sue nie spyt dat sy ’n klag ingedien het nie. Sy sal dit weer doen. Dit het haar oë oopgemaak vir hoe mense elke dag daardie lyn oorskry, hoe vinnig mense op hul manier gemaklik raak met jou, al is jy nie noodwendig gemaklik daarmee nie.

Sy is bly sy het uitgehou om bewyse te kry. “Sonder die bewyse sou ek lankal gebreek het. Hiermee sê ek beslis nie almal moet opnames maak nie, maar hou dagboek as iemand se gedrag by die werk jou ongemaklik maak. “Mense moenie nou bang wees om komplimente te gee nie – enigiemand waardeer ’n opreg bedoelde kompliment – maar as iets nie eg voel nie, as dit voel asof dit iets versteek, asof die persoon bybedoelings het, en as hy of sy daarmee áánhou, moet jy op jou hoede wees.”

* Om die ander slagoffer en betrokkenes se onthalwe word skuilname gebruik en enige verwysing na wanneer, waar en by watter instelling die seksuele teistering plaasgevind het, weggelaat.