"Ek sit op my stoeptuin en wag vir 2018 se rolle om te manifesteer," sê Hotel-ster Mila Guy.

Sy werk wel aan 'n kortfilm oor 'n rusbank, maar meer sê sy nog nie.

Dié aktrise van Linden, Johannesburg, was die afgelope paar jaar sommer baie besig. Sy het in die dramareekse Erfsondes op kykNET en SABC se Keeping Score gespeel. Sy was te sien in die komediereeks Hotel. En in flieks soos Liewe Kersfeesvader, Ballade vir 'n enkeling en Vir die voëls het sy ook haar ding gedoen.

FOTO Mandy Stander
FOTO Mandy Stander

Gesoute akteurs soos Milan Murray, wat al saam met haar gewerk het, sê sy is deel van 'n opwindende nuwe geslag akteurs wat talentvol en hardwerkend is en nie 'n groot ego het nie. Die ideale stuk "klei" vir 'n regisseur.

Mila sê beskeie sy bewonder aktrises soos Rolanda Marais, "wat al die balle - 'n interessante en volronde loopbaan, en boonop 'n pragtige dogtertjie, alles tegelyk in die lug kan hou". Sy is ook 'n groot aanhanger van die Hollywood-aktrise Margot Robbie, wat pas ook 'n fliek vervaardig het.

FOTO Mandy Stander
FOTO Mandy Stander

Sy bieg sy sukkel om te wag vir rolle om na haar kant toe te kom. "Dit is soms erg angswekkend. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf is op 'n vreemde plek. Flieks doen nie meer so goed by die loket nie, maar tog is daar genoeg kreatiewes en dapperes dat ons werklik nou interessante films begin sien. Dit gee my baie moed."

FOTO Mandy Stander
FOTO Mandy Stander

Mila se droomrol is soos dié van Emmy Rossum se karakter in Shameless. "Sy dra die familie en die storie en verteenwoordig so baie vroue in die wêreld wat dieselfde moet doen."

Háár mees uitdagende rol tot nou toe was as die bruid in die rolprent Wonderlus. "Sy beeld 'n erg teenstrydige emosionele situasie uit."

Om toneel te speel motiveer haar daagliks om haar beste te lewer. "Ek wou van kleins af nét dit doen. Daar gebeur net iets wanneer jy in die oomblik is en amper vergeet van die regte wêreld." Sy is mal oor televisie- en fliekrolle, maar wil graag meer teaterrolle aanpak omdat sy dit gestudeer het.

FOTO Mandy Stander

Die energie tussen haar en haar akteursvriende, van wie baie ook in Linden of soos sy spot "Melrose Place" woon, hou haar aan die gang. "Ons is 'n baie ondersteunende groep. Behalwe dat ons saamwerk, kuier ons ook gereeld saam en woon ons almal basies op 'n hoop. Dis goed om vriende in die industrie te hê."

FOTO Mandy Stander
FOTO Mandy Stander

Is sy lief vir Afrikaans? "Selfs toe ons gesin in Nieu-Seeland gebly het, het ons Afrikaans gepraat. Dit is wie ons is. My gunstelingwoord is pantoffel." Maar sy lees wyd - in Afrikaans én Engels. "Ek is nou besig met The Virgin Suicides deur Jeffrey Eugenides. Ek het ook 'n wye musieksmaak - op die oomblik is ek mal oor Sylvan Esso."

Sy het hope belangstellings en wil veel eerder hê mense moet aan haar dink as 'n hardwerkende akteur wat interessante en uitdagende rolle aanpak en hopelik 'n goeie bestaan in die bedryf uitkerf as wat na haar verwys word as 'n celeb.

Mila verklap 3 dinge oor haarself:

* Sy haat groente

* Sy droom daaroor om te sing

* Sy hou van vinnig ry

FOTO Mandy Stander


FOTOSESSIE

Fotograaf: Mandy Stander

Rok: Ciska Barnard Couture

Grimering en hare: Annie B Makeup Studio

Blomme: Some Day Flower & Decor Styling