Applous het losgebars in die Kaapse Hooggeregshof en die Moslemkreet Allahu al Akbar (God is groot) het hard opgeklink toe Najwa Petersen onlangs skuldig bevind is aan die moord op haar man, die bekende musikant Taliep Petersen. Maar een jong man se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie . . . Die koerantfoto van die aantreklike Sulaiman Effendi (20), Najwa se jongste seun uit haar vorige huwelik, het mense bygebly. Pas ná die hofuitspraak was skok, ongeloof en trane duidelik op sy jong gesig te sien.

"Daardie vreeslike oomblik in die hof is een wat ek nog moet verwerk. Dis asof ek niks daarvan kan onthou nie. Wat ek wél onthou, is die oomblik net ná die uitspraak toe ek na my ma toe gestap het . . .

"Dwarsdeur die verhoor het almal gesê sy wys dan geen emosie nie, maar ék het haar tydens die hofsaak gevra om asseblief nie te huil nie. Want dit sou my doodgemaak het van binne om elke dag daar te sit en haar trane te sien. Ek onthou ek het ná die skuldigbevinding vir haar gesê sy mag nou maar huil. Sy het heeltemal ineengestort. Ons het saam gehuil.

"Die hele drama het my laat besef ek het tot dusver baie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Soos toe my ma heeltyd by die huis was. Ek kyk nou anders na haar en waardeer haar veel meer. Alles wat ek is en het en nog sal kry, al sou sy ook in die tronk bly, het ek deur haar gekry. En nou gaan sy nie meer daar wees nie.

"In die Kersvakansie het ek en my sussie, Zainab (Najwa en Taliep se enigste kind, 9), in Namibië gaan vakansie hou om weg te kom van alles en te rus. My hart is absoluut gebroke, want ek glo die regsproses het ons in die steek gelaat. As dit nie vir die ongelooflike ondersteuning van my familie en vriende was nie, sou ek dit sowaar nie kon hanteer het nie. Wanneer ek oopmaak teenoor hulle, luister hulle en dis goed om te weet dat ek hulle honderd persent met my gevoelens kan vertrou. Húlle is my sielkundiges.

"Die krisis het my baie sterker gemaak. Intussen is ek daar vir my sussie, ek was van dag een af, en sal altyd wees. Dit gaan goed met haar.

"Ons gaan beslis teen die uitspraak appelleer. Ek sal my ma besoek tot haar verhoor vir vonnisoplegging (op 4 Februarie, wanneer SARIE al ter perse gegaan het) en elke oomblik saam waardeer." - Riette Rust