Raai wie gaan jou help om jou wildste drome uit te leef in M-Net se nuwe realiteitsprogram, I wanna be . . . Elana Afrika! Sy is die aanbieder van dié nuwe weeklikse program vanaf Sondag 10 Mei. Phyllis Green het met haar gesels oor drome en werklikheid.

Hoekom nog 'n realiteitsprogram?
Mense wil altyd iemand anders wees, en met hierdie realiteitsprogram kán hulle. Hulle kan 'n rukkie ontsnap uit hul gewone lewe en wie weet, miskien is dit die begin van 'n nuwe lewe vir hulle. Dalk net die kickstart wat hulle nodig het!

Wat behels die program?
Ons gaan mense die geleentheid gee om vir een dag hul droom waar te maak. As jy ooit 'n kabaretster wou wees of 'n towenaar of wat ook al, dan is dié jou kans. I wanna be gaan vir gewone mense help om daardie geheime ambisie eindelik 'n realiteit te maak.

Waarom wil jy deel wees van die produksie?
Ek kan iemand se droom waar maak. Ek gaan dit doen saam met 'n groot gentleman, maar wie hy is bly vir eers 'n verrassing!

Waarmee het jy jou besig gehou voor I wanna be?
Ek het programme vervaardig vir die DStv-platform. Dis alles interaktiewe jeugprogramme - SMS na TV of internet. Dit is beter as Mxit! Dink net: TV op jou selfoon, dis onmiddellik. Interaktief is die toekoms vir TV.

Wat is die lekkerste van wat jy doen?
Om idees uit te dink. Ek moet in voeling bly met trends. Ek doen ook steeds aanbiederswerk, omdat daar 'n aanvraag is daarna. Dis baie lekker om die twee te kan kombineer. As aanbieder besef ek ook wanneer die vervaardiging van 'n program nie goed is nie en dan raak dit so effe frustrerend.

Vertel my iets oor jou wat nie algemene kennis is nie.
Toe ek 25 geword het, het ek besef ek sal 'n baie goeie ma wees, maar dat ek nie binne die volgende tien jaar kinders wil hê nie. Ek is nou 28 en het pas nog 'n peetkind in Londen bygekry. Sy naam is Ndukwe en hy is nege maande oud. Sy boetie, Aaron, is drie en is ook my peetkind. Ek verdwyn elke nou en dan om vir hulle te gaan kuier. Dan is daar Saskia in die Kaap. Sy is nou twee. Hulle is almal familie van my. Ek is mal oor familie, dis my anker in die lewe.