Hier lê my hart ...

By haar gesin en haar werk is waar Elana se hart nou geanker is. Die Jacaranda FM-aanbieder en eienaar van Baby Brunch, ’n ondersteuningsplatform vir ma’s, word gedryf deur haar liefde om ’n verskil te maak. “Om ’n plek te skep waar vroue, mammas, voel hulle kan behoort.”

Sy, haar man, Ian Bredenkamp, en hul dogters, Esther Beth en Annabelle, het vroeër vanjaar na Johannesburg verhuis – al doen die paartjie steeds sake in die Kaap. “Om in twee stede te bly is nie vir die ‘gewone’ mens nie. Ons het ’n lewe vol avontuur.”

Elana se grootste behoefte is om saam met haar gesin onthou-oomblikke te skep. Hier is sy saam met manlief, Ian Bredenkamp en dogters, Esther Beth en Annabelle. FOTO Instagram / Elana

Vanjaar het sy besef, buiten hul ondernemings se sukses en die geleenthede wat oor haar pad gekom het, is die belangrikste om gesinservarings te skep. “Ek soek memories. Ek wil terugkyk na foto’s en besef ek het die beste tyd van my lewe gehad . . .”

Oor die rol van Gertrude in die kykNET-regsdrama Fynskrif, wat sy in Oktober hervat, sê sy: “Haar lewe raak net beter en haar storielyn nog interessanter. Aktrise-wees bly ’n ongelooflike voorreg. Dis nie werk nie, dis net lekker.”

Elana en Ian by een van SARIE se vier Inspirasie-etes. FOTO Instagram / Elana Afrika-Bredenkamp

Dis jou eerste SARIE-voorblad. Hoe voel dit?

Dis ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. As ’n kind het ek twee Afrikaanse boeke gelees Daan Retief en my ma se SARIE-tydskrif. Dis ’n volle sirkel. Dis ongelooflik, dis ’n voorreg, dis ’n eer. Dis ’n droom wat waar word, vir my ma ook waar word. Vir my is my ouers, my man en my kinders alles. Julle maak ’n hele klomp mense baie gelukkig.

Hoe voel jy oor Afrikaans?

Ek is opgewonde oor Afrikaans, want ek ís Afrikaans. Om ’n loopbaan in my moedertaal te hê is ’n groot voorreg. My droom was nog altyd om uit te saai in Afrikaans – ek doen dit in my radio-loopbaan, op stel in die TV-reeks Fynskrif vir kykNET, en as seremoniemeester. My kinders leer Afrikaans en lees Afrikaans. Ek sê dit al vir die afgelope 21 jaar, die duur van my loopbaan sover: Afrikaans sal nie uitsterf nie! Solank ons dit praat, daarin werk en onsself in dit uittrek sal die taal lewendig bly. Ek is lief vir my taal”

Wat vier jy in die lewe?

Ek vier die eenvoudige goed in die lewe: Goeie gesondheid, die gesondheid van my familie, die feit dat ons liefgehê kan word. En dat ek nog my ouers het.