Uniek, elegant - dís hoe Elana haar persoonlike styl beskryf. “Dit hang maar af waar ek is. Vir ’n Zoom-oproep hou ek van groot oorbelle en ’n sjiek styl. Vir radio hou ek dit deftig en as ’n mamma is dit gemaklik met ’n kopband en altyd ’n serp.”

FOTO Elana by Glare

Haar staatmaker-uitrusting is ’n rok - die seisoen bepaal of sy sjiek sykouse daarby sal dra. “Jy moet daardie basiese rok hê, selfs al is dit een van daai swart nommertjies. Ek het ’n paar go-to-rokke wat ek dra om myself mooi te laat voel.” 

Onlangs het sy hande gevat met die modeontwerper Izet Changuion van Glare Modern Vintage om die reeks ELANA by Glare bekend te stel. ’n Reeks wat bestaan uit tydlose vintage-styl rompe vir ma en dogter.

“Ek het haar ’n tydjie terug by ’n mark ontmoet en gedink sy is ’n wonderlike mens. Haar klere met ’n vintage-inspirasie is pragtig vir die vroulike figuur.”

Elana saam met die ontwerper van Izet Changuion van Glare Modern Vintage. FOTO ELANA by Glare

Elana het toe met die idee vorendag gekom vir ’n ma-en-dogter-klerereeks. Maar dis meer as dit, verduidelik sy. “Die rompe is nie net bedoel vir ons dogters nie, maar ook daardie spesiale vrou in jou lewe saam met wie jy graag tyd wil spandeer. Toe ek grootgeword het, het jy altyd gevoel jy wil soos jou mamma lyk of soos jou tannie aantrek of selfs soos jou vriendin of maatjie. Dis hoe ELANA by Glare ontstaan het, dis ’n spesiale reeks wat die klein baba is van Glare Modern Vintage.”

Vir die bekendstelling van die reeks het sy en haar twee dogtertjies, Esther Beth en Annabelle, model gespeel. 

“Hulle kon nie uitgepraat raak oor die feit dat hulle soos hul mamma lyk nie en wou saam speel toe ons die foto’s neem.”

FOTO Elana by Glare

Haar dogters is die middelpunt van haar wêreld. “My dogters is my alles, hulle is my grootste prestasie en dit is heerlik om ook iets vir hulle te kan beteken. Ek moet sê meer as om daai pragtige satynrompe aan te trek, was om tyd saam hulle te kan spandeer.”

Elana en haar twee dogtertjies dra rompe van die ELANA by Glare-reeks. FOTO Elana by Glare

Vir drie seisoene het Elana die rol van Gertrude Ungerer in die gewilde reeks Fynskrif gespeel. Sy sal ewig dankbaar wees vir hierdie karakter. “In Fynskrif 3 het ek gesien hoe Gertrude en Dolf emosioneel groei omdat hulle ouers raak. Die een ding wat ek by Gertrude geleer het, is dat ’n mens groei daarin om ’n ouer te wees, jy word nie net een oornag nie.”

Sy het ook geleer dat jy nie soos jou ouers hoef te wees nie. “Jy kan al die goeie goed wat hulle jou geleer het, toepas in jou eie kindertjies se lewens.” 

Dinsdagdromer: ’n SARIE-saamkuier met Donnalee en Elana

Met ons eerste aanlyn kuier in April het ons saam met vroue van reg oor die wêreld die boodskap #JyIsGenoeg uitgedra.

Ons het saam gelag en gehuil, maar ook praktiese lesse gedeel en vrae gevra om meer van mekaar en ons wêrelde te leer. Uit hierdie gedeelde oomblikke het die besef gekom dat so baie van ons steeds voel ons is nie genoeg nie en so is Dinsdagdromer gebore. Jy is nie alleen nie en jy kán jou pad vorentoe anders aanpak as ons mekaar inspireer.

“You might say I’m a dreamer, but I’m not the only one,” sing John Lennon in sy bekende liedjie “Imagine”.

Dinsdagdromer is ’n maandelikse SARIE-kuiersessie met van ons land se inspirerendste vroue. Elke kuier sal sy eie tema hê met ’n SARIE-voorbladster wat haar storie deel, asook ’n praktiese sessie gekoppel aan die tema wat deur kenners aangebied word.

En soos altyd, sal jy kans kry om vrae te vra en raad van ons gaste kry.

Dis Junie en ons gesels koffie!

Ja, al die koffie wat jy as ma drink (ook die een wat koud geword het nadat jy daarvan vergeet het) en dié wat jy geniet terwyl jy jou drome bewaarheid. As ma en dromer het jy baie verantwoordelikhede en die stres en bekommernisse kan soms oorweldigend raak.

Maar weer eens, jy is nie alleen nie, en dís waaroor hierdie saamkuiers gaan; jou oomblik om weg te breek en saam te lag oor die foute, ’n bietjie te huil as jy jou kan vereenselwig met ’n staaltjie, en ook jou vrae te vra sodat jy kan sterkter vorentoe kan tree.

Op die bank saam met nuwe ma Donnalee Roberts is Elana Afrika-Bredenkamp, ’n ervare ma.

Ons nooi jou, ma van baie, nuwe ma, amper-ma, die ma in jou vriendegroep, die een wat drome vertroetel, die versorger van mense, diere en plante. Ons kan almal by mekaar leer.

Sit die uur en ’n half opsy vir jouself, maak die heerlike koffieresepte wat SARIE vooraf met jou gaan deel en sit terug om saam te kuier.

Koop nou jou kaartjies vir 30 Junie se #Dinsdagdromer saam met Donnalee en Elana hier! Kaartjies is slegs R69. 

Elana en haar man, Ian Bredenkamp. FOTO Instagram / Elana Afrika-Bredenkamp