Elise is in Junie 2008 met borskanker gediagnoseer en het 'n dubbele mastektomie (en rekonstruksie van haar linkerbors) gehad. Weens haar siekte was sy lank werkloos. Sy gaan met die geld vir die rolprent vir haar kankerbehandeling en rekonstruksie van haar regterbors betaal.

"My ondervinding in dié rolprent het my lewe verander. Mense dink daar is 'n groot fisieke ooreenkoms tussen my en Halle is en dís 'n kompliment. Ek het aan die fliek begin werk vier dae nadat nog 'n kanker-gewas verwyder is in die gebied waar my regterbors eers was.

Ek is 'n filmregisseur en deeltydse sanger, maar was maande lank werkloos. Toe klop ek by die Film Industry Learner Mentorship aan. Die dag ná my chirurgie het ek 'n stempos gekry om te vra of ek as produksie-assistent vir die rolprent kan werk. Ek was vasberade! Die huur moes betaal word en my kinders moes eet. En daar word ek boonop gevra vir die dubbelganger-rol in 'n toneel op Chapmanspiek.

Intussen het die organisasie Journey of Hope my genooi om van 9 tot 16 Oktober saam met 20 ander vroue op motorfietse van Durban na Kaapstad te ry om geld in te samel vir borskanker-bewusmaking.

Borskanker het my geleer om my lewe te leef sonder om bekommerd te wees wat ander van my dink. My kêrel, Brandon Florus, is baie ondersteunend. Hy sê hy het verlief geraak op my siel.

En natuurlik is my twee seuns ook baie trots op hul ma oor my rol in die fliek.