TV-ster Elma Postma het in 2010 ’n grimeerkursus voltooi en vandag gebruik sy dié kuns om vroue te help om mooi te voel. 

Elma, wat tot vroeër vanjaar nog Bea Delport in die kykNET-sepie Binnelanders gespeel het, het onlangs begin om vir vroue van alle ouderdomme grimeerlesse te gee. Die aktrise het haar eerste grimeerles die afgelope naweek aangebied.

Bekendes met ander werk

"Dis vir my ’n hoogtepunt as ek vir ’n vrou iets oor grimering kan leer wat sy nog nie geweet het nie," vertel sy oor haar eerste sessie. "Ek hou daarvan om met mense te werk en om te sien hoe jy ’n gesig kan verander deur grimering op verskillende maniere aan te wend," wei sy uit.

Akteur droom van prokureur word

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Sy het vier jaar gelede tussen die tweede en die derde seisoen van Boer soek ’n vrou, wat sy aangebied het, ’n voltydse grimeerkursus gedoen.

Boer soek ’n vrou se nuwe aanbieder

"Ek wou dit graag doen om te leer hoe om ook op my eie gesig te ‘speel’, vir enige geleentheid, sodat ek nie altyd dieselfde lyk nie," onthou sy. Sy vertel SARIE.com meer oor dié geheime talent van haar.

Hoe lank doen jy dit al?

“Ná die kursus het ek nie vreeslik tyd gehad om te fokus op die grimering nie, want die reis deur die land en toe Binnelanders het al my tyd in beslag geneem. Ek het hier en daar my vriendinne grimeer voor spesiale geleenthede, en het selfs ’n paar dae op Proesstraat [komedie op kykNET] grimering gedoen. Maar nou kry ek uiteindelik tyd om tussen oudisies en my eenvrou-vertoning, Trousseau, motiveringspraatjies en seremoniemeester speel deur ook aandag te gee aan dié passie van my.”

Wat het jou laat besluit om dit te doen?

“Ek het ’n paar maande gelede besef daar is ’n behoefte by die ‘gewone’ vrou om meer te leer oor grimering en hoe om dit aan te wend. Ek het ’n praatjie oor grimering en algemene voorkoms gaan hou vir ’n groep vroue – dit het gegaan oor hoe jy jou beeld wil uitdra in ’n korporatiewe milieu, maar ook hoe jy sonder veel moeite kan goed lyk op ’n gewone dag by die huis of tydens ’n vakansie. Die projek is dus betreklik nuut, maar ek sien uit daarna dat dit vinnig sal groei.

“Ek wil hê vroue moet besef hoe belangrik dit is om ‘gaaf’ te wees met jouself en moeite te doen met jou voorkoms, want daaruit spruit baie groter dinge in jou menswees. Jy het nie baie geld of tyd nodig nie, net ’n bietjie selfrespek en omgee.”

Wat leer jy die vroue?

“Die lesse sluit onder andere drie looks in – die ‘Saterdag-look’, die ‘werk-look’ en ook ‘n ‘aand-look’. Dis basiese dinge soos hoe om onderlaag, maskara en lipstiffie aan te wend. My uiteindelike doel is om die ‘gewone’ vrou te laat besef hoe mooi sy kan wees, met een of twee klein veranderinge aan haar uiterlike, sonder om dit te oordoen. Sy moet ná die sessie goed voel oor haarself, in alle opsigte.”

Doen jy dit nou voltyds?

“Ek is steeds eerstens ’n aktrise, maar hierdie is beslis iets wat ek meer en meer wil doen, omdat ek dit ook baie geniet. Ek het ook nou baie meer tyd daarvoor omdat ek nie elke dag op ’n stel is nie.”

FOTO: verskaf Elma en haar eerste "studente" - Vasti, Eurika en Santi FOTO: verskaf

Elma se top-5 grimeerwenke

  • Vir grimering om goed te lyk, is velsorg vooraf baie belangrik

  • ’n Gesonde leefstyl en genoeg water bevog jou vel

  • Wend jou grimering só aan dat mense dink jy lyk mooi, maar hulle wonder hoekom

  • Doen moeite met jou onderlaag en maak seker dis die regte skakering (niks lyk so verkeerd soos ’n spierwit gesig en ’n donkerder nek nie)

  • Probeer verskillende produkte gebruik – dis nie altyd die peperduur produkte wat die beste resultate lewer nie

Vriendinne, bruide, ma’s en dogters kan info@elmapostma.com kontak vir meer inligting.