"Dis 'n drastiese verandering van my blonde, langer hare. Die vervaardigers van die M-Net-sepie Binneland het besluit ek moet bietjie meer gesofistikeerd en ouer lyk. En toe skep die haarstilis Raquel Bouredji, wat ons hare versorg, dié voorkoms vir my. En onthou, Bea Delport is 'n ma van twee – die haarstyl moes vir haar werk,” vertel Elma Postma (33), wat dié gedaanteverwisseling drie weke gelede ondergaan het.
 
Die "nuwe Bea" het nog glad nie met dié nuwe haarstyl op TV verskyn nie. "Die kykers moet wag tot so om en by 11 April. Dit sal interessant wees om te sien wat hulle gaan sê."
 
Die reaksie op straat?
"Mense sê veral my groen oë staan baie uit met die donker kop. En ek lyk glo meer klassiek. Ek grimeer my oë nou ook meer smokey. En as ek nou klere koop, kyk ek na die helder kleure. Dis ook asof mense blondines meer toeganklik vind en amper so bietjie versigtiger is vir 'n brunet. Dalk dink hulle 'n brunet is bietjie meer 'hard'..."
 
Elma is op 'n lekker plek in haar lewe. Sy het die afgelope naweek heerlik tuinwerk gedoen. Sy woon in 'n kothuis op die erf van haar  7de Laan-vriendin Bertha le Roux. "Dit het so goed gevoel om in die grond met my hande te woel en vier sakke onkruid tussen die plantjies uit te trek. Maar my lyf is lekker styf. Ek verpes oefening, maar ek is nogal baie krities op wat ek eet. Nét gesonde kos."
 
As sy soms mismoedig is, dan skryf sy goed neer waarvoor sy dankbaar is. "Gesondheid, my ma, Elmarie, en pa, Fanie, wat so lief is vir my, Sokkies, Bertha se hondjie wat soggens vir my kom groet, kos, 'n lekker bed, 'n goeie opvoeding, my werk..."
 
Natuurlik droom sy van 'n gesin. "Ek dink ek sal 'n goeie ma wees. As ek so kyk na my ma en pa en al die vreugde wat hulle vir ons gee en al die lekker goed wat ons doen – ons is vriende – dít wil ek ook eendag met kinders deel. Maar ek glo jou pad is reeds uitgewerk voor jy gebore is. So as dit nie gebeur nie, sal ek glo die regte dinge gebeur soos dit moet."
 
En ja, daar is maar altyd iemand wat mens eye, gee sy toe... Maar sy ís enkellopend. Haar droomman hoef nie 'n spesifieke voorkoms te hê nie. "Hy moet my wel onvoorwaardelik liefhê, ondersteun in wat en wie ek is, my vriend wees, en ek sal al daai dinge vir hom ook wees. Die liefde sal kom as dit die regte tyd is."
 
Op die oomblik fokus sy op haar vriende. "Dis vir my belangrik om rustig te wees, balans te kry, gesond te eet. Verlede jaar het ek amper te veel dinge aangepak.

Elma Postma in SARIE oor die jare

Maart 2008

Elma op SARIE se Maart 2008-voorbladSARIE Maart 2008 - Elma Postma met donker hare

SARIE Maart 2008 - Elma Postma met blonde hare

Junie 2009

SARIE Junie 2009 - Elma Postma op die voorbladElma Postma in SARIE Junie 2009

Elma Postma in SARIE Junie 2009

Kies jou gunsteling Elma-styl en laat weet ons in die kommentaar-boksie hieronder