EK HOOP

vroue besef watter ongelooflike krag hulle het. As vroue hul energie reg gebruik, kan ons alles wat verkeerd is, regmaak en SA omkeer. Maar dan moet ons betrokke raak. Vroue onderskat hul vermoëns.

om ’n beter wêreld te skep, wat ek ook al doen. Ek sien dit nie as pie in the sky of vroom nie, maar as ek net een kind se ellende kan verlig, of een joernalis oplei om ’n beter perspektief op die lewe te gee . . .

my dogters leef hul potensiaal ten volle uit - op alle vlakke. Ek leer hulle ’n vrou het baie dimensies. Laat niémand vir jou sê jy moet net op een faset fokus nie.

om in 2008 my meestersgraad in mediaetiek te doen en later my doktorsgraad. My kop staan akademie toe, maar ek bly altyd “praktiese” joernalis, dit is in my bloed.

EK IS BANG

dat ons (Suid-Afrikaners) dié tweede kans wat God ons gegee het, gaan opmors. En dat ons iemand anders daarvoor gaan blameer. Dat ons nie sien/besef ons het elkeen ’n verantwoordelikheid nie.

dat Allan voor my sal sterf. Of dat ons kinders fisiek en emosioneel seerkry. Die verlies van my geliefdes sal verpletterend wees. Maar ek is nie self bang vir die dood nie, ook nie vir swaarkry nie.

vir vlieg. Mede-joernaliste het altyd lootjies getrek - wie vlieg, en wie ry bussie saam met Elna! Allan het my geleer om daardie vrees te oorkom.

Ek is nie paranoïes oor misdaad nie, ons het nie eers ’n alarm nie.

WAT EK GELEER HET

Geloof is ’n deurslaggewende, standhoudende krag. Dít, die liefde van my man en my kinders, familie en ’n handvol vriende wat die pad saamgeloop het, het my staande gehou in die moeilikste tyd in ons lewe.

Jy het nie altyd beheer oor wat met jou gebeur nie, maar jy het beheer oor jou reaksie. Jy kan woede en bitterheid vertroetel, of jy kan dit laat gaan. Dis menslik om te gryp na sulke emosies om jou regop te hou, maar ek het doelbewus (en voortdurend) gekies om dit nie te vertroetel nie.

My ouers het ’n sin vir uitnemendheid by my gekweek. Ek leer my kinders hulle is A-mense. Dit het niks met snobisme te make nie, maar met ’n strewe na uitmuntendheid in die lewe. Maar jy loop nooit bo-oor iemand nie, dan misluk jy liederlik.

In swaar tye is jy so daarop ingestel om by die oorkantste oewer uit te kom dat jy niks anders raaksien nie. Maar as jy uiteindelik kán terugkyk, sien jy ook die komiese, die ligkant - en jy kan selfs lag daaroor.

Ek is ’n fixer, ek wil als in die lewe regmaak. Maar soms moet jy net jou hande laat sak en vir God wag om te werk. Dis geloof. Dít verg nogal moed en krag.

Ware liefde is nie ’n keuse nie. Allan was die een wat móés gebeur. Dit het net sin gemaak. Hy maak my die beste Elna wat ek kan wees. Hy is my beste maat, hy vervul my. Ek raak baie gou verveeld, en in 17 jaar het hy my nog nooit verveel nie!

Ek het twee keer geskei, júis omdat ek die huwelik respekteer. Ons hou so dikwels vir die wêreld voor dat alles goed gaan, maar dalk moet ons weer die huwelik definieer en mekaar nie flous nie: Weet jy wie jy is? En wie hy is? Is julle op mekaar ingestel? Moenie jou lewe so volpak dat julle nie eers mekaar se seer agterkom nie. Ek doen dikwels berading, ek sien hoe gou huweliksmaats uitmekaar kan groei.

Jong mense is onder druk, hul wortels gaan dood. Ons moet ophou praat en preek en tyd maak om te lúister, sodat ons weet wat die wortels kort.

My ma het my geleer: Hou jou kop omhoog. Al breek jou hart in stukkies, jy wys dit nie “daar buite” nie. Daar is goed en sleg daaraan, maar vir my het dit gewerk.

’n Verhouding met God is nie ’n gegewe nie. Dit verg werk. Geloof is “maklik” totdat ’n moeilike ding gebeur. Dan moet jy geloof begin léwe. Dan word jou verhouding met God ’n werklikheid en nie ’n leë gewoonte nie.