Vir iemand wat in die hartjie van die nat Kaapse winter gebore is, is ek verbasend sku vir koue. Eintlik haat ek dit! Dit verlam my van kop tot tone en verander my in sprokies se yskoningin.

Ek glo jy bly gesond in die winter deur jouself en jou huis warm te hou en gesonde winterkos te eet. Ek word dus ’n ui en dra die snoesigste klere in verskeie lae: langmou-frokkies, dik wolkouse, leggings, truie, pelsserpies, jasse en boots. Ek het ’n kosak-hoed in Rusland gekoop en dra my ma se kerkhandskoene van swart leer.

Ons huis het groot glasvensters wat noord kyk en die son gul laat instroom. Bedags trek ek soos ’n
swaeltjie agter die sonkolle aan. Ek werk en kuier sommer op die mat in die weldadige wintersonnetjie. Ons het ondermatverhitting op die juiste plekke waar ons werk en ontspan. Op die banke lê throws vir gryp en geniet.

Sodra dit donker word, trek ons die swaar gordyne toe om die hitte binne te hou.

Ons winterkos is bredies, melkkos en sappige lam met groente. Lensie- en boontjiesop met beesvleis, asook ertjiesop met gerookte varkskenkel.

My man, John, maak dik soppe waarin die lepel kan regop staan.

In die wintervakansie kuier ons in die Bosveld waar ’n groot vuur tot laatnag in die boma brand. Ons vertel stories, eet braaivleis en tuur na die vlamme wat skiet en verteer.