Die warm sjokoladedrankies in Oostenryk laat Chireze dink aan lekker soene. ''Maar soene is natuurlik nog lekkerder.'' 

In 'n ''whacky'', grys  gehekelde mussie met 'n kleurvolle blommetjie langs die oor (''ek het agt mussies bestel, maar net een het gepas, dalk is my kop net te groot!'' grap sy), is sy paraat vir die hange.

Chireze, Elvis Blue se 32-jarige vrou, ma van hul twee-jarige dogtertjie Lila en opgeleide grimeerkunstenaar, kan nie uitgepraat raak oor die sneeu en die tyd wat sy alleen saam met Elvis kan deurbring nie.

''Eintlik wou ons vir ons wittebrood gaan ski het, maar toe gaan ons na Mauritius. Ons het nie geld gehad nie. Op Mauritius het dit heeltyd gereën, ons kon nie veel doen nie, want ons was arm en Elvis het boonop siek geraak. Toe moes ons  die reis kort knip.

''Elvis kan goed ski. Sy pa woon in Colorado Springs in Amerika en hy het al vier keer daar gaan ski.'' Chireze het al een keer saamgegaan.

Maar met die Snocomber ski-celeb-toer kan hulle hulself net geniet.

''Ek hoef nie bekommerd te wees oor Lila nie, want sy bly by my liewe skoonma en skoonpa, Mila en Piet Venter in Linden. Ek net vir haar voor die tyd 'n storieboek, 'Lila kuier by Ouma se huis' met foto's gemaak oor wat sy elke dag gaan doen. Een dag gaan hulle byvoorbeeld dieretuin toe, want sy is mal oor diere. Dan is daar weer die roomys eet dag, want roomys is net so koud soos die sneeu waarin Mamma en Pappa gaan ski... Vooraf het ek foto's geneem van haar wat roomys eet en eendjies voer en dit dan by die 'storieboek' geplak.''

Sy het die storie-boek idee by haar skoonsuster, Kona Brown, wat pas as Mev Verenigde Nasies gekroon is, gekry. Sy beskryf haar as 'n ''wonderma''.

Sy en Elvis, wat pa-skap as die wonderlikste ding in sy lewe beskryf, Skype elke aand vanuit St Johann met Lila. En hulle beplan beslis om haar eendag te laat ski.

''Die Here het ons so gesëen met die ski-reis. Ons het voorheen so min geld gehad, ons kon kwalik kos koop voor Elvis se Idols-dae. Vanoggend toe ek die venster optrek en ek sien die sneeuvlokkies neersif, toe wou ek dit in 'n botteltjie toemaak en saamneem vir Lila. Wat 'n wonderlike geskenk. Sy is nie vreeslik erg oor geskenke nie. Sy hou daarvan om dinge te doen.''

As Chireze  op die hange is, dan wil sy net huil, so mooi is dit vir haar. ''Jy kan mos nie anders as om te glo in die Here nie.''   

En sy erken sy is 'n adrenalien-verslaafde. Bungi, waterski, sy sal graag wil vlieg  (''maar my wiskunde was nooit goed genoeg nie''), ''paraglide''. ''Ski is ook super-avontuurlik. Elvis laat val goedig dat hul groot ''gevegte'' ontstaan omdat hy te stadig motor ry.

''Sy hou van spoed!''

Maar, erken sy: ''Ek is maar 'n paniekbom, want ek wil nie val as ek ski nie en ek kyk nog die heeltyd ondertoe – ek konsentreer baie."

Sy dink ski is bietjie soos ma-wees. ''Niks kan jou eintlik daarop voorberei nie. Jy moet leef in die oomblik.  Jy leer so tree vir tree en geniet net als. Ma-wees is ook wonderlik.''