Hul vierde seuntjie arriveer einde Mei. En sy drie ouer boeties, James (7), Kadar (3) en Ziah (1), is baie opgewonde, sê ma Michelle, wat nou 25 weke swanger is.

Sy en Emo is al gekonfyt in ouerskap, vertel sy. “Ons volg ’n roetine en terwyl ons werk, kyk iemand na ons jongste. Die ouer seuns gaan skool toe.’’

Hulle laai die seuns self by die skool af en laai hulle weer op, en albei woon die sport- en ander byeenkomste by. “Ons doen ons bes om betrokke ouers te wees. Ons is baie dankbaar dat ons vir onsself werk en ’n fleksie-skedule het.’’

Maar sy gee toe dat hul ondersteuningsnetwerk ook goed is – oupas, oumas, haar eie en skoonfamilie doen hul ding. En dít help.

’n Swanger Michelle met haar drie seuns, James (links), Kadar en Ziah. FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys

Ma-wees is ’n groot vreugde, vertel sy.

“Jy dink nooit aan die negatiewe dinge van ma-wees nie. Kinders voeg soveel waarde tot jou lewe toe. Hulle hou jou voete op die grond en help jou om spesiale oomblikke te beleef. Hulle gee onvoorwaardelike liefde en wys hul eerlike gevoelens. Seuns het ’n spesiale band met hul ma. Dit is baie besonders.’’

Die grootste uitdagings van ma-wees is die bestuur van skuldgevoelens: “Doen ek altyd die regte dinge in hul belang, is ek goed genoeg? Ek is bang ek maak hulle nie groot om as volwassenes ’n verskil in die gemeenskap te maak nie. Ek wil hê ons kinders moet respek vir hulself en die wêreld hê.’’

Emo en sy jongste. FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys

Emo is, volgens haar, die beste pa in die wêreld.

“Hy is ’n ongelooflike doek-omruiler. Die seuns is mal daaroor as hy stories vertel. Hy is so slim — hy sal húlle as karakters in die stories inwerk wanneer hy iets voorlees. Ek is baie dankbaar vir sy voorbeeld. Ons is ’n lekker span. Hy is baie geduldig en ook hul held.’’

Michelle dink hul gesin sal voltallig wees ná baba nommer vier. “Maar ek is bereid om ’n kindjie aan te neem. Ek het al geleer om nooit ‘nooit’ te sê nie. Ek skik my na God se plan.’’

Michelle saam met haar twee jongstes. FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys

Sy is elke dag dankbaar dat sy kinders, ’n man en vriende het wat haar verstaan en ondersteun.

“Ek maak ook tyd vir myself. Om middagete met vriendinne te geniet is belangrik. Ek en Emo maak tyd om saam uit te eet. Dit is belangrik dat die seuns in ’n huis grootword waar hulle sien hul ouers is lief vir mekaar. Hulle moet ook rolmodelle hê wat wys hoe belangrik dit is om hard te werk en altyd na ’n beter lewe te streef.’’   

Ma Michelle en haar kroos. FOTO Instagram / Michelle Gildenhuys

Hier is Michelle se vier wenke vir jong ma’s:

1. Volg ’n roetine. Dit laat kinders veilig voel.

2. Moet nie bang wees om vir hulp te vra nie.

3. Onthou, ’n perfekte ma bestaan nie.

4. Geniet jou kinders wanneer hulle nog klein is. Binne ’n oogwink gaan hulle skool toe en dan mis jy hulle heeldag lank.