Jy het aanvanklik drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer. Hoe het jy in die medialandskap beland?

Ek het nie gedink ek gaan enigsins in die mediawêreld werk nie. Dit het net gebeur, want terwyl ek nog my voete as akteur probeer vind het, het ek ’n internskap by ’n tydskrif gekry, wat toe ’n aanstelling geword het. Die res is geskiedenis.

Wonder jy soms hoe jou pad in die kunste sou gelyk het?

Nie regtig nie. Ek is baie tevrede met my lewe.

Waar kom jou liefde vir stilering vandaan?

Ek het nie noodwendig ’n liefde vir stilering nie, maar eerder ’n liefde vir enigiets wat visueel mooi is. Dit verskaf my ongelooflike plesier. Bygesê, ek is ook sensitief en kompleks. As dit nie vir my mooi is nie, word ek depressief. Ek moet myself baie fyn monitor, want waar ek is en wat ek sien, het ’n groot impak op my gemoed.

Dink jy SA vroue het styl?

Party het en ander glad nie. Sommige mense is pragtig, wonderlik en doen moeite. Ander lyk, wel, nie so goed nie. Styl is in elk geval relatief, wat stylvol is in Kaapstad, is nie noodwendig stylvol in Pretoria nie. Nelspruit het weer ’n ander idee as Johannesburg.

Suid-Afrikaners is broos, weerloos en stukkend. Jy kan vir ’n dag raadgewer vir pres. Cyril Ramaphosa wees. Watter raad sal jy hom gee?

Dit sal baie goed vir jou wees as jy ons land veilig maak – jy sal verbaas wees hoe dinge in plek gaan val as jy dít doen. En asseblief, ek smeek jou, Meneer die President, maak ons paaie reg en ons dorpe mooi, skoon en heel.

Behoort die wêreld van mode ’n politieke stelling te maak?

Politiek is aaklig. Mode moet eerder inspireer en vreugde verskaf.

Jy is versot op Frankryk, die kultuur en mode. Waar kom dié liefde vandaan?

Dit is in my DNS. Ons Cronjés is Franse Hugenote en kom uit die streek Normandië in die noorde van Frankryk. Oorspronklik is ons van Cronier gespel, maar die spelling het verander sodat die Kapenaars destyds die uitspraak kon regkry. Dis seker hoekom ek so gemaklik is tussen die Franse. O jinne, en dis mooi daar! Dit maak my sielsgelukkig.

Jy kan enigiemand in die wêreld stileer. Wie sal dit wees?

As ek een moet kies, sal dit koningin Elizabeth II wees, sy is ’n merkwaardige vrou. Toe ek jonger was, was ek maklik starstruck. Ek onthou hoe opgewonde ek was om die Amerikaanse model Jerry Hall in lewende lywe in New York te kon sien.

Jy is nou mede-aanbieder van Ons Boere, Ons Inspirasie. Watter karaktertrekke bewonder jy die meeste van boere?

Ek ervaar boere as mense wat aards is, miskien omrede hulle so naby aan die natuur leef. Hulle het ’n tipe nederigheid, selfs al bereik hulle groot sukses. Boere is trots, maar nie sommer windgat of arrogant nie.

Is die stereotipe van boere wat kortbroek dra en ’n Hilux-bakkie ry, waar of word jy elke keer verras?

Ek dink dit is gevaarlik om te stereotipeer. Ja, boere dra kortbroeke. Daar is veral nou ’n tendens om kortbroeke nóg korter te laat maak. Hulle ry bakkies, ja, nie noodwendig ’n Hilux nie. Maar dis hul werk en uniform, dit definieer hulle nie. Dit is juis die punt van Ons Boere, Ons Inspirasie. Ons wys die volledige prentjie van die boer, wie hy as mens is. Boere is nie koekerig of onversorg nie. Hulle het ook mooi klere. Hulle het passies, liefdes en leef ook in die 21ste eeu.

Hoe voel jy oor jou mede-aanbieder, Eloise Pretorius?

Dit was heerlik om saam met haar te werk. As radio-aanbieder is sy gesout en het al die regte vrae gevra. Boonop is sy baie aantreklik.

Jy kan drie stylvolle vroue in SA noem. Wie en hoekom?

Die modekenner Jackie Burger, aktrise Rolanda Marais en vervaardiger Elsje Stark. Al drie het ongelooflike styl, hulle weet wat vir hul lyf werk en is nie bang om te eksperimenteer nie. Hulle kry dit net reg.

Wat maak jou opgewonde oor Afrikaans?

Dis so mooi en lekker om Afrikaans te praat. Om boonop nog daarin te werk is iets wat ek elke dag meer en meer waardeer.

Jou grootste lewensles?

Wees bewus van elke liewe ding wat jy doen en sê. Elke aksie het ’n reaksie. Een of ander tyd kom dit terug na jou.

Gunstelinge

Gunsteling-kleur: Olyf- of kakiegroen

Gunsteling-kos: Beskuit

Droomvakansie: Winters in Europa

Gunsteling-aktrise: Anna-Mart van der Merwe

Gunsteling-akteur: Jacques Bessenger

Gunsteling-woord in Afrikaans: Wonderlik