Woon jy in die Kaap?
Ek en my man, (die akteur)Johan Botha, bly op Leipoldtville aan die Weskus, naby Elandsbaai, waar hulle so surf.

Kan jy branderplank ry?
Nee, my dierbare kind, ek stap. Ek is nie een vir herhalings nie. Met oefening is dit oor en oor dieselfde ding.

Jy speel altyd ’n sterk ondersteunende rol, nooit die hoofrol nie.
Omrede ek altyd die karakters doen. Die hoofrol is mos maar vir die mooi mense. Ag, nee, moet dit nie sê nie.

Maar ek was bang vir jou in Fiela se kind. Was dit moeilik?
Nee, ek het my net ingeleef. Hulle was so aards, daai bosmense. Dit was ’n lekker rol.

Jou rol in Manakwalanners was vir my lekker.
O ja, die kinders se ma! Dit was ’n wonderlike teks. Ons het baie plesier gehad op die stel.

En Roepman is ’n briljante fliek?
Daar is soveel hart in die produksie. Dit kan nie anders as om ’n wonderlike sukses te wees nie. Wat ’n plesier! En Afrikaans het dit nodig, hoor. Ek’s bly dit word so goed ontvang.

Die toneel waar jy so lag op die stoep, is goed. Hoe kry jy dit reg om so op cue te lag?
Lag is my hobby! En noudat ek oud is, kan ek op cue huil ook!

Watter nuwe rolle wag?
Ek en my man toer die land vol met ons toneelstuk Oupa en Ouma sit op die stoep. Selfs Oos-Londen toe.