High School Musical se Carmen Pretorius vat skaars grond. Sedert sy M-Net se werklikheidsreeks High School Musical Spotlight South Africa 2008 gewen en die rol van Gabriella Montez in dié verhoogproduksie losgeslaan het, ry sy “op golwe van vreugde”. Dié 19-jarige Gautenger is binnekort te sien in Footloose, the Musical*, in die vroulike hoofrol – Ariel Moore, die priester se dogter. Carmen gesels met Mercy Morkel oor haar loopbaan – wat op 7 begin het . . .

Openingsaand . . . High School Musical. Hoe’t jy gevoel?
Ek het vir 6 maande HSM gelééf en ingeasem. En toe, die gewag vir die gordyn om oop te gaan! Ek was intens bewus van ervare akteurs, resensente, regisseurs, familie en die mense wat vir my gestem het aan die ander kant van die gordyn. Daar was ’n mengsel van emosies agter die skerms. Ek het ’n gesonde hoeveelheid druk (sy lag) ervaar en wou my beste lewer.

Hoe hou jy jou emosies in toom?
Ek tree sedert my sewende jaar op voor gehore, insluitend produksies van my alma mater, Hoërskool Northcliff in Johannesburg. Ek het tegnieke gevind om druk te hanteer en die fladdering in die maag te beheer. Ek is baie gefokus en kan oorweldigende emosies eenkant skuif wanneer ek werk. Ek is ’n positiewe denker en glo alles sal oukei wees. En dit werk áltyd.

Footloose, the Musical het lekker skop, met uitstekende danstegnieke. Of is sang jou sterkpunt?
Sang is my groot liefde, hoewel ek eintlik eerste begin dans het, naamlik ballet, moderne en klopdanse. Ek het op 13 begin hip-hop. Op 14 het ek uitsluitlik op my sangloopbaan begin konsentreer. Ek kan egter nie wag om in Footloose te dans nie. Carlo McFarlane* (die manlike hoofspeler) se talent inspireer my en ek glo ek sal baie van hom kan leer.

Wat is die verskille of ooreenkomste tussen jou en jou Footloose-karakter?
Ariel en ek is albei onafhanklike siele, spontaan (soms 'n bietjie roekeloos), en ons wil nie onderdruk word nie. Ons is albei jonk en vind ons pad deur die lewe. Maar anders as Ariel het ek nog nie ’n gesinslid aan die dood afgestaan nie.

Verloop alles altyd glad op die verhoog?
O nee, beslis nie! Ek dink fratsongelukke spook by alle verhoogkunstenaars. Ek onthou in HSM het ’n hoofdanser se skoen tydens ’n dansroetine afgeval! Sy moes maar voortgaan. Ek het drie keer van die verhoog afgeval, my romp het op ’n keer tot by my knieë gesak en ek het al ontelbare klankprobleme ondervind. Maar the show must go on! Jy’t ook ’n draai in Japan en Amerika gemaak. Vir ’n vakansie?
Ek het op 16 as lid van ’n SA groep tienermusikante in Japan vrede en eenheid bevorder deur middel van musiek. Ons het gedans en liedjies gesing van The Black Eyed Peas ('n Amerikaanse hip-hop-groep), Michael Jackson en wyle Miriam Makeba. Ons het in groot konsertsale soos Kani-hoken Hall in Tokio opgetree, asook langs die rivier in Hiroshima, op die herdenking van die verskriklike kernbom-aanval van 1945. 'n Jaar later het ek in die sang- en toneelkategorieë aan die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles deelgeneem. Ek het drie goue en twee silwermedaljes gewen. Hoe het jy jou skoolwerk in jou besige program ingepas?
Ek het in Julie 2008 my matriekjaar gestaak om aan HSM deel te neem. In Maart vanjaar het ek my matriekeksamen afgelê, en met ’n B-gemiddelde en drie onderskeidings geslaag. En as die tyd my toelaat, sal ek graag musiekteater wil studeer.
*Footloose, the Musical word van 10 Julie tot 23 Augustus 2009 in die Joburg Theatre (voorheen die Johannesburg Civic Theatre) opgevoer. Kaartjies by Computicket. *Carlo McFarlane speel Ren McCormack, dieselfde rol wat in die 1984-fliek Kevin Bacon se loopbaan ’n geweldige hupstoot gegee het. McFarlane het in 2004 die Naledi Theatre-toekenning ontvang vir beste nuweling as Tyrone in Fame, the Musical. Sy deurbraak as akteur het gekom as Shaun in e.tv se Backstage. Hy’t ook in die kykNET-sepie Villa Rosa en in die gewilde TV-reeks Muvhango gespeel.