High School Musical se Carmen Pretorius vat skaars grond. Sedert sy M-Net se werklikheidsreeks High School Musical Spotlight South Africa 2008 gewen en die rol as Gabriella Montez in dié verhoogproduksie losgeslaan het, ry sy “op golwe van vreugde”. Dié 19-jarige Gautenger is binnekort te sien in Footloose, the Musical* in die vroulike hoofrol as Ariel Moore, die priester se dogter. Sy gesels met Mercy Morkel oor haar loopbaan wat op 7 begin het.

Openingsaand ... High School Musical. Hoe’t jy gevoel?

Ek het vir 6 maande HSM gelééf en ingeasem. En toe, die gewag vir die gordyn om oop te gaan! Ek was intens bewus van ervare akteurs, resensente, regisseurs, familie en die mense wat vir my gestem het, aan die ander kant van die gordyn. Daar was ’n mengsel van emosies agter die skerms. Ek het ’n gesonde hoeveelheid druk (lag) gevoel en wóú my beste lewer.

Hoe hou jy hou emosies in toom?

Ek tree sedert my sewende jaar op voor gehore, insluitende produksies van my alma mater, Hoërskool Northcliff in Johannesburg. Ek het tegnieke gevind om druk te hanteer en die fladdering in die maag te beheer. Ek is baie gefokus en kan oorweldigende emosies eenkant skuif wanneer ek werk. Ek is ’n positiewe denker en glo alles sal okei wees. En dit werk áltyd.

Footloose, the Musical het lekker skop, met uitstekende danstegnieke. Of is sang jou sterk punt?

Sang is my groot liefde, hoewel ek eintlik eers begin dans het, onder meer ballet, moderne en klopdanse. Ek het op 13 begin hip-hop. Op 14 het ek uitsluitlik op my sangloopbaan begin konsentreer. Maar ek kan nie wag om in Footloose te dans nie. Carlo McFarlane* (manlike hoofspeler) se talent inspireer my en ek glo ek sal baie van hom kan leer.

Wat is die verskille of ooreenkomste tussen jou en jou Footloose-karakter?

Ariel en ek is albei onafhanklike siele, spontaan (soms bietjie roekeloos) en ons wil nie onderdruk word nie. Ons is albei jonk en vind ons pad deur die lewe. Anders as Ariel, het ek nog nie ’n gesinslid aan die dood afgestaan nie.

Verloop alles altyd glad op die verhoog?

O nee, beslis nie! Ek dink fratsongelukke spook by alle verhoogkunstenaars. Ek onthou in HSM het ’n hoofdanser se skoen tydens ’n dansroetine uitgeval! Sy moes maar voortgaan. Ek het al drie keer van die verhoog afgeval, my romp het op ’n keer tot by my knieë gesak en ek het al ontelbare klankprobleme ondervind. Maar the show must go on!

Jy’t ook al ’n draai in Japan en Amerika gemaak. Vir ’n vakansie? Ek het op 16 as lid van ’n SA groep tienermusikante in Japan eenheid en vrede deur middel van musiek gaan bevorder. Ons het gedans en liedjies gesing van The Black Eyed Peas, Michael Jackson en wyle Miriam Makeba. Ons het in groot konsertsale soos Kan’I Hoken Hall in Tokio opgetree, asook reg langs die rivier in Hiroshima, op die herdenking van die verskriklike kernbom-aanval van 1945. Die volgende jaar het in die sang- en toneelkategorie aan die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles deelgeneem. Ek het drie goue en twee silwermedaljes gewen. Hoe het jy jou skoolwerk in jou besige program ingepas? Ek het in Julie 2008 my matriekjaar gestaak om aan HSM deel te neem. Ek het in Maart vanjaar my matriekeksamen afgelê, en met ’n B-gemiddelde en drie onderskeidings geslaag. *Footloose, the Musical word van 10 Julie tot 23 Augustus 2009 in Joburg Theatre (voorheen bekend as Johannesburg Civic Theatre) opgevoer. Kaartjies is by Compiticket beskikbaar. *Carlo McFarlane speel Ren McCormack, dieselfde rol wat in die 1984-fliek Kevin Bacon se loopbaan ’n geweldige hupstoot gegee het. McFarlane het in 2004 die Naledi Theatre-toekenning gewen vir beste nuweling vir sy rol as Tyrone in Fame, the Musical. Sy deurbraak het gekom as Shaun in e.tv se Backstage. Hy’t in die kyk-NET-sepie Villa Rosa gespeel, asook in die gewilde TV-reeks Muvhango, as Malcolm, die prokureur.