Chereé deel haar hoop, vrese en lewenslesse in die Mei-uitgawe 2011 van SARIE.

Ek hoop:

... vir nog ’n kind. Ek het my swangerskap baie geniet, en ek en my man, Wynand, kan nie wag om vir Taylor-Hope, wat in Januarie gebore is, ’n speelmaat te gee nie.

... om in Nashville te gaan kuier. Ek wil sien hoe lyk ’n regte cowboy. Ek dink Wynand, wat ook sing, sal sexy lyk met cowboy-boots en ’n Stetson-hoed!

... om eendag daardie SAMA-toekenning vir Beste Countrysanger te wen! En dat die woorde van my liedjies oor 50 jaar nog sin maak.

... om meer kitaar te speel. Ons het ook ’n ateljee by ons huis op Langebaan aan die Weskus gebou en ek sal graag nog self my eie album wil vervaardig.

... en droom om oorsee te sing . . . soos op die verhoog van die Grand Ole Opry. Of om dalk my naam saam met kunstenaars soos Keith Urban en Martina McBride te sien! Maar 2010 was reeds ’n droom – ek het by die SAMA’s opgetree saam met Carike Keuzenkamp en by Skouspel saam met van die grootste kunstenaars . . . ek sal die herinneringe altyd koester.

... dat die WP (mý span) weer die Curriebeker sal
wen. Dit sal my Blou Bul-liefie só kwaad maak.