Die aktrise Diaan Lawrenson sê sy leer oneindig baie by haar kinders, Olivia (7) en Thomas (5).

"Thomas is ’n individu. Hy steur hom min aan sosiale konvensies en kry sy energie van binne. Hy los kreatief probleme op en is ’n slimkop. Hy is lief vir ’n goeie gesprek en sê gereeld: ‘Kom ons gesels.’ Olivia is hardegat, maar vergeef maklik en konfronteer my gereeld. Sy het my geleer kinders is ’n geskenk, hulle behoort nie aan jou nie."

Diaan saam met haar gesin: manlief, Jody, kinders, Olivia en Thomas, en suster, Sam. FOTO Instagram / @diaanlawrenson

Olivia het voor SARIE-lesers se oë grootgeword. In 2010, toe net ’n babatjie, het sy saam met ma Diaan op haar eerste SARIE-voorblad verskyn. Nou het sy al drie voorblaaie agter haar naam!

En kleinboet Thomas? Hoekom het hy nog nie saam met sy aktrise-ma op ’n voorblad verskyn nie? Diaan het onlangs op Instagram verduidelik.

"Ek word dikwels gevra hoekom Thomas nie so baie soos Olivia in tydskrifte verskyn nie. Thom is baie skaam en verkies om eerder die foto’s te neem."

Hy het egter einde verlede jaar ingestem tot ’n spesiale ma-en-kind-fotosessie vir SARIE.

Kyk net die pragtige foto’s:

FOTO Leana Clunies-Ross
FOTO Leana Clunies-Ross
FOTO Leana Clunies-Ross

Vir Diaan is ma-wees haar belangrikste rol, iets wat haar heel maak.

"My swangerskappe voel soos ’n geskenk, ’n menswording. Dit was ’n heerlike proses en het my sag en heel gemaak. Ek het daardeur besef hoe belangrik dit is om myself lief te hê, te groei en verantwoordelikheid te neem vir die dinge wat ek aan myself wil verbeter. Maar dit maak jou ook weerloos. Suid-Afrika het baie gevare. Ek bid my knieë deur. My ouers het nie soveel bekommernisse oor ons veiligheid gehad as wat ek en my man, Jody [Abrahams, ook ’n akteur], het nie. Ons kinders moet so gou grootmensdinge leer, besef van die gevare daarbuite. Dit kan hulle ontnugter en maak my hartseer. Ek is nie ’n perfekte ma nie, maar dink vroue gee hulself nie genoeg krediet vir wat hulle wel bereik nie. Daar is soveel eise wat aan ons gestel word: om ’n balans te vind tussen kinders se skoolverpligtinge, Jody se behoeftes, my loopbaan en gesinstyd. Ek dien my familie, maar jaag ook mý drome na. Gelukkig is Jody ongelooflik. Hy kook, stryk, vee die kinders se trane af, lees stories, motiveer ons. My kinders verstaan my behoeftes. As ek moet werk, soos toe ek in 2016 aan die rolprent Raaiselkind geskiet het, het Olivia ewe wys gesê: ‘Jy kan dit doen, Mamma. En as dit jou gelukkig maak, móét jy.'"