"Op pad na die paleis in Monaco voel ek ’n bietjie bewerig – en nie net vanweë die steil opdraand wat ek te voet moet aflê van my hotel langs die hawe tot by die befaamde vesting op Die Rots nie. In my jare as joernalis het ek heelparty beroemdes ontmoet – rolprentsterre, sportsterre, mooi mense – maar nog nooit moes ek ’n prins en ’n prinses uitvra nie. Boonop ’n prinses wat ’n sportster uit eie reg is, en so mooi soos die mooiste rolprentster.

Drie-in-een dus, menige joernalis se droom, maar dosyne vrae maal deur my kop. Hoe moet ek hulle aanspreek? Dis kort voor die troue, dus is Charlene Wittstock nog nie amptelik ’n prinses nie, maar wat van prins Albert? U Hoogheid? En moet ek ’n kniebuiging maak? Hoe máák ’n mens ’n kniebuiging? Die laaste keer dat ek dit moes doen, was in ’n balletkonsert op laerskool!" - Marita.

* Haar onderhoud met Prinses Charlene en Prins Albert is in die Augustus 2011-uitgawe van SARIE te kry.

Marita besig met haar SARIE-onderhoud

Die stylvolle statige Prinses Charlene