Ernst Swart, die sepie se reklamebestuurder, sê dit is 'n besluit wat sy geneem het saam met die vervaardigers. "Sy is ongelooflik besig vanjaar en het net te veel hooi op haar vurk. Sy moes van haar verantwoordelikhede minder maak."
Maar haar getroue aanhangers gaan haar glad nie mis nie. Sy is te sien in 'n teaterstuk, Janneman, onder die regie van Hennie van Greunen, én sy gaan in die nuwe Afrikaanse dramareeks Hartland deur Deon Opperman te sien wees. En oudergewoonte gaan kykNET se Fiësta aan met Franci as aanbieder. Die werklading sou net te veel gewees het, en die mate van reis wat met Janneman en Fiësta gepaard gaan, sou dit net onmoontlik gemaak het om voort te gaan met die rol van Toeks. "Dit was een van die moeilikste besluite wat ek in my lewe moes neem. Ek het my jare by Binneland regtig geniet," het Franci vertel. Maar wie weet, dalk sien ons haar weer van tyd tot tyd in Tonic op haar pos in die Binneland-hospitaal?