Franz Gräbe het internasionale roem verwerf met sy ontwerpersrokke wat van vars blomme en blare gemaak is. Toe die SA gebore Amerikaanse leefstyl- en geleentheidskoördineerder Colin Cowie 'n jaar of wat gelede Oprah Winfrey se verjaarsdag by Sun City moes beplan, was Franz die ooglopende keuse om die blomme te rangskik. Colin was mal oor Franz se skeppings – en die res is geskiedenis. Met One&Only Cape Town, Sol Kerzner se nuwe spoghotel in Kaapstad, het dié span weer saamgewerk en die wêreld se oë het op stokkies gestaan. SARIE het Franz 'n bietjie uitgevra.

Wie was almal daar?
Robert De Niro, Sharon Stone, Clint Eastwood, Mariah Carey, Marisa Tomei, Thandie Newton, Gordon Ramsay. En nog, en nog . . .

Kon jy doen wat jy wou, of is jy voorgesê wat om te doen met die blomme?
Met Oprah was daar baie spesifieke riglyne. Met dié een het Colin gesê ek kan doen wat ek wil. Ek het 'n paar voorbeelde gemaak. Hy het gesê: "Go ahead, go ahead".

Wie is die moeilikste baas, Oprah of Sol Kerzner?
Colin Cowie is eintlik in dié geval my baas. Ek dink hulle is egter albei moeilik. Hulle stel baie hoë eise.

Moes jy blomme invoer of was alles hier beskikbaar?
Ek moes orgideë invoer uit Thailand, Mauritius en die Filippyne. Charmaine Elliott, wat die tafeldekor doen, kon nie die regte kleur pers lap kry vir een van die backdrops nie. Sy moes dit invoer uit Egipte. Al die tafeldoeke was van die beste Egiptiese linne wat daar in die wêreld beskikbaar is.

Moes jy spesiale goed bou om die blomme staan te maak?
Ek moes 'n konstruksie bou vir die blomme op die poeding-buffet. Daar was ook massiewe balle wat gemaak is uit elke beskikbare kleur angelier. Die aand was asemrowend. Daar was 9 verskillende partytjies aan die gang in 9 vertrekke – alles basies gelyktydig. Elke vertrek het sy eie kleurskema gehad. Pers, pienk, cerise, rooi en goud . . .

Het jy die partytjie bygewoon?
Is jy van jou kop af!? Ek was gedaan. Ek het eers vieruur gaan slaap, want ons moes wag tot alles klaar was om op te ruim, en toe weer 7 uur opstaan om op te stel vir die middagete . . .

* Plaaslike bekendes soos Jo-Ann Strauss, Felicia Mabuza-Suttle, Jeannie D, Danny K en François Pienaar was ook daar.