Zolani Mahola, hoofsanger van die Suid-Afrikaanse musiekgroep Freshlyground, tree Vrydagaand (4 Desember) by die Langstraat-straatparty op die internasionale verhoog op. Die stad gaan 'n opskop hou om die finale loting vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi te vier. Sy het met Marguerite van Wyk gesels oor sokker, hul musiek en wat haar gelukkig maak.

Hoe voel jy oor die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat aanstaande jaar in Suid-Afrika plaasvind?
Baie goed. Dit gee die land die geleentheid om beter voorbereid te wees vir toeriste - nou en ook daarna.

Hou jy van sokker?
Ek kyk nie juis sokker nie, maar die groot games is opwindend. Veral as Bafana Bafana teen 'n ander land speel. En daar is iets spesiaals daaraan om tussen 'n groot groep Suid-Afrikaners te sit wat jy nie ken nie, maar wat almal sáám patrioties voel oor ons land. Dit gee 'n gevoel van samehorigheid.

Het jy 'n gunsteling-span?
Banyana Banyana - die susters kán die ding doen!

Kan Bafana Bafana wen?
Daar is altyd 'n kans. Ons het heelwat dinge wat in ons guns tel. Optimale weerstoestande, die land ondersteun die span, hoekom nie?

Is Suid-Afrika gereed om die hordes te hanteer?
Laat hulle kom . . . en 'n bietjie koek eet!

Is dit 'n goeie ding dat Suid-Afrika die gasheer vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi is?
Dit gaan goed wees vir baie mense en as hulle dit beter kan maak vir baie ander mense, dan sal dit mos 'n waardevolle ondervinding wees.

Hoe voel jy oor Freshlyground se vertoning Vrydagaand in Langstraat?
Dit is 'n wonderlike geleentheid om vir die mense te wys wat ons alles gedoen het sedert die bekendstelling van ons laaste album, Ma Cherí. Ons het hard gewerk aan materiaal vir ons vierde album wat ons in Januarie 2010 gaan opneem in ateljees in Langstraat. Dit is ook 'n belangrike geleentheid vir die land en sy mense. Ons sal dit vir niks ter wêreld mis nie.

Wat wil Freshlyground alles in 2010 bereik?
Ons wil, soos genoem, volgende maand 'n kick-ass album met die kreatiewe hulp van die vervaardiger Fabrice Dupont opneem. Ons beoog revolusionêre klanke.

Jou gunsteling-aanhaling?
Voor jy jouself wil bevry, moet die skottelgoed eers gewas word. Nadat jy jouself bevry het, moet die skottelgoed steeds gewas word.

Wat maak jou gelukkig?
Om ander gelukkig te maak en my deel te doen om die gemeenskap positief en gesond te hou.

Hoekom is dit lekker om 'n Suid-Afrikaner te wees?
Never a dull moment.

Is jy positief oor Suid-Afrika se toekoms?
Ek glo in ons mense. As ons meer van ons harte aan mekaar wys, dan het ons 'n uitstekende kans om nie net te oorleef nie, maar om te floreer in ons land, en ook in die wêreld.

Hoekom geniet jy dit om in Freshlyground te sing?
Dis lekker om 'n reisende groep vriende te hê wat my ondersteun en saam met wie ek kan pret hê. Ek is bevoorreg om omring te wees deur liefdevolle mense wat ek liefhet.

Wat doen musiek vir jou siel?
Dit laat dit sing!