“Ek is net so dankbaar dat ek na my tweede jaar as regstudent diep in my hart geweet het as ek ’n prokureur word, kom hier groot gemors. Ek het toe die regte keuse gemaak,” verklap Chris aan SARIE.com.

Twintig jaar gelede het sy pad met die aktrise en regisseur Nina Swart op die stel van 7de Laan gekruis. Toe, was daar reeds wedersydse respek - Nina het die regie van Fynskrif se seisoen twee en drie behartig.

“My respek vir Nina kom al van die eerste dag én week by 7de Laan af. Nie net is sy ’n formidabele aktrise en regisseur nie, maar sy verstaan hoe dit is om voor die kamera jou nersderm uit te moet ryg en altyd, altyd eerlik te bly in die proses.”

Die afgelope seisoen het kykers gesien hoe Hans moet vrede maak met die wete dat sy vrou, René (Susanne Beyers), iewers haar stryd teen kanker gaan verloor. Sy mure, wat eens hoog was, het afgebreek en ’n weerlose man ontbloot. 

Die stigma van cowboys don’t cry het nooit by Chris kom vatplek kry nie.  “Ek het nog nooit moeite gehad om te huil nie. Ek dink die meeste mense (mans, vroue en kinders) het nie ’n probleem om emosies te wys nie. Hoe weet ons hoe iemand grootgeword het, bloot aan die manier hoe emosies gewys of nie gewys word nie? Elke mens verskil.”

In 2010 was Chris te sien as die die bekende Mitch Albom-karakter Morrie Schwartz in die Hennie van Greunen-toneelstuk Dinsdae by Morrie. Dís daar waar hy eerstehands gesien het hoe mans vreesloos huil.

“Ek het volwasse mans van alle ouderdomme soos kinders sien huil ná opvoerings van Dinsdae by Morrie,” onthou hy.

Chris het van kleintyd af gewaag as dit by sy drome kom.

“Alles wat ek nog ooit aangepak het was ’n waagstuk ... kanse wat ek gevat het.”

Sy ma het altyd gesê: ‘Mik vir die maan, dan kom jy oor die hoogste boomtop.’

Vir Chris het elke besluit bygedra tot eindelose groei. 

“Die waagstukke wat goed was, was goed; en die ander was ook goed. Alles deel van die stekies in my groot tapisserie. En dan partykeer raak die wol op en dan borduur jy met staalwol voort aan ’n nuwe landskap.”

Soos die res van die wêreld is Chris se lewe tot stilstand gedwing. Maar selfs al is die onsekerheid vollop is hy steeds dankbaar. 

“Dinge gaan anders wees. Ek dink ons verwys hoopvol na ’n nuwe normaal sodat ons ons verwysingsveld nie te drasties moet aanpas nie. Ons het, veral in die teater, géén idee wat vir ons wag nie. Dankbaar? Ek is klaar so bevooreg om die stilte om my as lewensgewend te ervaar. Ek gaan niks anders wil hê nie ...”

Die reisgogga van oor die water het nog nooit regtig vir Chris gebyt nie. “Ek is doodtevrede op die langpad en afdraaipaadjies ...”

Chris reken mense moet in hul motor klim en net ry. 

“Die Seweweekspoort tussen Calitzdorp en Laingsburg vir die berge en die stilte. Stormsriviermond, sodat jy op die aarde se ruggraat kan gaan loop. Die Breytenbach-sentrum in Wellington ... weereens vir stilte, maar ook vir die mooi, die boeke, die taal en die kuns.”