Sy noem haarself ’n plain jane. “Ek sal nie sommer my hare wild kleur nie,” erken die bekroonde aktrise Cintaine Schutte. Maar toe ’n rol oor haar pad kom en dié se hare moet blond wees, het die donkerkop net gedink: Hoekom nie? 

“Ek moet sê dit was lekker vir die rol – dit dra by tot die karakter,” sê sy aan SARIE.com.  En wat dink manlief, Carel Nel, daarvan? “O, hy is mal daaroor!” 

Maar Cintaine is nie seker of sy vir lank blond gaan bly nie. “Dit was vir die rol, waaroor ek nie mag uitbrei nie ... Ag, ek sal nog sien! Maar dis lekker, die verandering is goed.” 

En het sy al ’n antwoord op die volgende lewensveranderende vraag: Het blondines meer pret? “Jong, ek kan nog nie daai vraag beantwoord nie. Maar tussen my en jou ... Ek dink die antwoord bly maar steeds donkerkoppe hoor,” skerts sy. 

Cintaine se nuwe lokke was spesiaal afgeneem deur die fotograaf Hanru Marais van Hanru Marais Photography.

FOTO Hanru Marais Photography
FOTO Hanru Marais Photography
FOTO Hanru Marais Photography
FOTO Hanru Marais Photography

Cintaine wat geliefd was vir haar rol as die prokureur Katrien Nienaber in die gewilde TV-reeks Fynskrif, gaan een van die dae weer op die kleinkassie verskyn.

In September vertolk sy die rol van Sophia in die ligte dramareeks Ekstra Medium op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks, wat die breinbaba van Beer Adriaanse en Retief Scholtz is, handel oor Bertie (Wilhelm van der Walt) wat ’n gebou aanskaf om ’n kroeg vir skemerkelkies te open. Cintaine speel sy suster en ander akteurs soos Gerben Kamper, Marvin-Lee Beukes, Amalia Uys en Mila Guy gaan ook in die reeks speel.

ABC van blondwees

Wil jy ook jou hare ligter kleur? Die SARIE se skoonheidspan gee die volgende advies: 

1. Het jou vel ’n warm of koel ondertoon?

Warm ondertone lyk goed met botter-, karamel en goue skakerings van blond. Koel ondertone moet by beige en babablond skakerings bly.

Die Grammy-wenner Beyoncé Knowles. FOTO Instagram / Beyoncé

2. Watter kleur is jou oë?

Donker oë en dieper, ryker blonde skakerings werk goed saam. Ligter oë kan ''n verskeidenheid skakerings van ligte blond saam probeer.

Aktrise Kate Bosworth FOTO Instagram / Kate Bosworth

3. Hoe gesond is jou hare?

Hoe ligter die skakering, hoe droeër sal jou hare wees. Maak seker jy is bereid om ekstra voorsorg te tref om jou hare gesond en glansend te hou.

Die pop-koningin Jennifer Lopez. FOTO Instagram / Jennifer Lopez

Moet’s en Moenie’s vir blonde lokke

Onthou die volgende punte om gesonde lokke te verseker.

Moenie

* Moenie blonde hare met hitte stileer sonder om ’n hittebeskermingsproduk te gebruik nie. Dit sal jou hare net nog meer uitdroog.

* Moenie donkerlokke eenklaps blond kleur nie. As jy donker hare het en jy wil jou hare blond kleur, maak jou hare geleidelik ligter. Om in een kleursessie van donker na lig te gaan kan jou hare baie beskadig en dit bros en gebreek laat.

Die Oscar-benoemde Margot Robbie FOTO Instagram / Margot Robbie

Moet

* Gebruik weekliks ’n haarbehandeling wat hare bevog en jou gesonde blonde kleur onderhou.

* As jou hare geneig is om "oranje" te lyk, kies ’n blonde haarkleur-skakering wat ’n grys skynsel het om die oranje te neutraliseer.